29 Desember: Moenie te ver gaan nie. – Jan van der Watt
Open 18:1-24 (fokus 18:21-24)
God se finale straf is totaal. Nou is Hy nog geduldig, maar as die einde kom is daar geen genade meer nie. Dan kom spyt te laat, veral oor sonde.
Ons hou daarvan om van God se liefde te praat… van die God wat maar altyd met ope arms en ʼn breë glimlag op ons wag. En dit is reg – God se liefde is onbegryplik groot. Maar daar is ook ʼn ander sy; ʼn sy waarvan baie mense nie van wil hoor nie.
In 18:22-23 kry ons ʼn “foto” van hoe die stad Babilon lyk nadat God sy hand van woede daaroor laat gaan het. Babilon is natuurlik die beeld vir mense wat niks van God af wou weet nie. Dit is die mense wat dink dat hulle God nie nodig het nie, dat hulle geld, mag en rykdom vir hulle genoeg is. Dit is mense wat selfgenoegsaam geword het.
Daar bly niks oor nie… nie eers ʼn rietfluit om ʼn wysie op te speel of ʼn pop om vir ʼn baba te gee nie; ja, letterlik niks nie. God se vernietiging van mense wat hulle nie aan Hom steur nie, is totaal. Dit is so totaal omdat God Homself totaal aan hulle onttrek. Wat God nie vernietig nie, sal hulle buitendien in hulle eie sonde vernietig.
By die boodskap van God se liefde vir mense mag ons nooit vergeet dat daardie liefde ook grense en selfs ʼn einde het nie. Anderkant daardie grense is daar ook nie meer ‘n God van liefde wat jou kan help nie.
Moenie dat spyt te laat kom nie.