Psalm 32 (2)

image_pdfimage_print

 

If anyone comes to me,

I want to lead them to Him.

Teresa Benedict van die Kruis

 

Psalm 32 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

32:3 – 5: Twee voorbeelde uit die digter se eie verhouding met God.

Hier kry ons nou ‘n verslag van wat gebeur het. Daar was die ondervinding van angs, die besluit om na die Here te draai en die Here se reaksie.

 

3Toe ek stilgebly het, het my liggaam uitgeteer onder my gekreun die hele dag;

Om stil te bly is nie ‘n teken van vroomheid in die Ou Testament nie. Ou Testamentiese vroomheid maak ‘n lawaai: of in ‘n klaaglied en gebed of in danksegging en lof. Om stil te bly wek suspisie – asof iets weggesteek word. Ons weet dat inwendige angs met uitwendige uittering van die liggaam gepaard gegaan het. Die stilte bring nie ‘n einde aan die uittering nie. Dan vertel die psalmis vir ons van die interaksie tussen siel en liggaam. As dinge binne verkeerd gaan, affekteer dit ons liggame.

 

4Ja, dag en nag was u hand swaar op my: my lewenskrag het weggekwyn soos die hitte van die somer. Sela

[My lewenskrag: Oor die betekenis van die bronteks is daar onsekerheid.]

Hierdie vers beklemtoon die punt verder. Die uittering was die gevolg van natuurlike prosesse, maar ook deur die hand van die Here. Dit wys die psalmis is aan die ontvangkant van die teregwysing van die Here – hy het iets verkeerd gedoen. Die erns van die uittering word verder beklemtoon – die psalmis kwyn weg.

 

5My sonde het ek teenoor U erken; my skuld het ek nie bedek nie.

Ek het gedink, “Ek wil my oortredings teenoor die Here bely,” en U het my sondeskuld vergewe. Sela.

Hier kry ons die begin van ‘n keerpunt. ‘n Deurbraak volg, want die psalmis draai na die Here. Hy erken sy sonde, hy bedek nie sy skuld nie hy bely sy oortredings teenoor die Here. As die psalmis sy sonde bedek, sal die Here hom nie vergewe nie – Hy sal nie sy sonde bedek nie. Hier erken en bely ons waarhede oor onsself. Moontlik doen die psalmis dit in ‘n gemeenskaplike byeenkoms. Dan die gevolgtrekking: dit is nie die mens se optrede wat lei tot vergifnis nie – die Here vergewe. Die optrede van die mens – erken en bely – is noodsaaklik, maar nie voldoende nie. Daar is geen herstel as die mens nie na God toe draai nie Die psalmis moes niks doen om vergifnis te kry nie – net bely. Die Here betaal die prys vir ons vergifnis; Hy dra ons sonde.

 

32:6 – 7: Bely julle skuld

Belydenis open die sluise van die dam.

 

6Dit is waarom elke getroue volgeling tot U moet bid in ‘n tyd van angs. Die geluid van ‘n groot vloed water sal hom nie bereik nie.

[ ‘n Tyd van … nie bereik nie: Oor die bronteks is daar onsekerheid.]

Elke toegewyde persoon moet by die Here pleit eerder as om stil te bly. Hierdie vloed water verwys na water wat kom om hom te oorweldig, maar dit bereik hom nie. As ons tot die Here bid, sal die waters aankom, maar dit sal ons nie bereik nie.

 

7U bied vir my beskutting; U vrywaar my van nood; met jubelkrete van bevryding omring U my. Sela.

Dit is omdat die Here ‘n beskutting is dat die groot vloed water ons nie kan bereik nie. Omring is wat die vloed water geneig is om te doen. Dan kry ons ‘n kontras tussen die water wat dreig en die jubelkrete van bevryding. Die magtige waters mag na vyande verwys. Die jubelkrete van verlossing staan dan teenoor die krete van die aanvallers.

 

 

image_pdfimage_print