Die Evangelie volgens Lukas: Wie werklik geseënd is (Luk 11:27-28) – Francois Malan
Die gedeelte oor die vrou wat Jesus se moeder seën kom slegs in Lukas voor, wat in sy Evangelie veral aandag gee aan vroue. Die seënwoord van Jesus in Matteus 12:49 kom na aanleiding van sy moeder en sy broers wat met Hom wou praat, (wat reeds in Luk 8:18-21 gestel is). In Matteus volg dit op die gelykenis van die bose geeste wat terugkom in die leë huis.
11:27 ’n Vrou in die skare, wat diep beïndruk is deur Jesus se optrede en die krag van sy woord, roep uit en besing sy moeder as ’n geseënde van die Here, in tipiese Oosterse oordrewe styl, om uitdrukking te gee aan haar adorasie van Jesus. Daarmee word Jesus se Messiasskap ook erken en is dit deel van haar bewondering van Maria se Seun.
11:28 Jesus se saligspreking gaan bo die bloedverwantskap uit. Dit is nie omdat Maria sy moeder is nie, maar omdat sy die woord van God bewaar het. Om God se woord te hoor en te bewaar is die hulp teen die terugval in die heerskappy van die demone; dit is die manier om die gemeenskap met God te onderhou teen die demoniese heerskappy. Wie by Jesus wil wees (Luk 11:23) en by Hom bly, ken die egte saligheid, word deel van die gesin van sy Vader as sy kinders. Die mense wat in Jesus se persoon, sy optrede en verkondiging die woord van God hoor en dit bewaar, is deel van die gesin van God. Die ‘bewaar’ van sy woord beteken om in Jesus te glo en volgens sy woord te lewe.
Die teken van Jona (Luk 11:29-32)
Die verwagting oor ’n teken uit die hemel (11:16), die vrou se luide seënwoord oor Jesus se moeder en Jesus se antwoord oor wie werklik deur God geseënd is (Luk 11:27-28) laat die skare om Jesus aangroei (epathroizomai). Die skare hoor dat hulle ’n ‘slegte geslag’ is (Matteus 12:39 ’n ‘bose en owerspelige geslag,’ soos in Hosea 3:1, ’n teks wat Lukas se lesers nie ken nie). Die skare volgelinge se boosheid bestaan daarin dat hulle nie na Jesus se woorde luister nie, en net na wondertekens soek (vgl. 1 Kor 1:22). Ten spyte van al hulle godsdiens en godsdienstigheid het hulle nie die woord van God herken toe Hy self na hulle gekom het nie. Jesus sal egter vir hulle die teken van Jona gee.
11:29 Jesus antwoord op die versoek om ’n teken uit die hemel (11:16). Die teks stem grootliks met Matteus 12:38-42 ooreen. Matteus 12:40 se verklaring vir die teken van Jona verskil egter deels van Lukas se verklaring daarvan. Matteus sien Jona se drie dae in die vis as die drie dae van Jesus in die graf, en verwys na Nineve se bekering op sy prediking. Lukas sien die bekering van die groot stad Nineve op die prediking van die profeet Jona, as die teken van die Seun van die Mens se teenwoordigheid en prediking in die stede van Palestina.
11:30 Vir die mense van Nineve was Jona die teken van God. Hulle het sy oproep tot bekering aanvaar as die boodskap van God. As ‘die seun van die mens’ van Daniël 7:13-14 is Jesus die verteenwoordiger van God by die mense. Maar hulle het sy woorde nie as die woorde van God aanvaar nie, daarom sal geen teken hulle oortuig dat Hy God is nie.
11:31 Die koningin van Skeba en de stad Nineve met hulle koning het positief gereageer op die beste openbaring van God in hulle tyd: Jona en Salomo. (Jona 3:5; 1 Kon 13:8-10). Die profeet Jona het na Nineve gegaan om ’n enkele kort boodskap af te lewer (Jona 3:4). Die koningin uit die Suide het uit haar eie groot moeite gedoen om by Salomo en sy wysheid uit te kom. Jesus het na sy eie mense toe gekom en Homself as die Seun van die Mens bekend gestel, van wie Daniël gesê het dat Hy vir ewig sal regeer. Hy is meer as Jona en Salomo wat self geen tekens gedoen het nie. Maar op al Jesus se wonders en prediking het die meerderheid van Israel en hulle leiers nie ag geslaan nie. So stel die Here die hardheid van Israel se harte teenoor die ontvanklikheid van die heidene van Nineve en van die heidense vrou uit Skeba.
11:32 Hierdie heidene sal op die oordeelsdag beter vertoon as die Here se uitverkore volk wat hulle rug gedraai het op die grootste van alle geleenthede. Nie die geneesde stomme nie, maar Jesus self is die grootste teken wat aan Israel gegee is, sy hele Persoon, met alles wat Hy gedoen en gesê het. Simeon het Hom genoem: ’n teken wat betwis sal word’ (Luk 2:34). Die oordeelsdag sal dit alles openbaar. `
Die Kerkhervorming wat in 1517 deur Martin Luther ingelei is, het later met vier Latynse slagspreuke die weg van saligheid opgesom: sola gratia, sola fide, sola Scriptura, solus Christus – ‘alleen deur genade,’ ‘alleen deur geloof,’ ‘alleen deur die Skrif,’ ‘alleen deur Christus.’ Later is ’n vyfde slagspreuk bygevoeg: soli Deo gloria ‘aan God alleen die eer.’
Die hele Lukas en hierdie gedeelte in die besonder, sê ‘deur Christus alleen’ en ‘deur genade alleen’ vgl. 10:22: ‘niemand ken die Vader nie behalwe die Seun en elkeen aan wie die Seun Hom wil bekendmaak.’ Ook ‘deur geloof alleen’ spreek uit hierdie vers met Nineve wat die prediking van Jona geglo en hulle bekeer het en ‘hier is meer as Jona.’ Vir ‘deur die Skrif alleen’ vgl. 11:28: ‘geseënd is hulle wat die woord van God hoor en dit onderhou.’ In 2:14 het die engele al gesing: ‘ Eer aan God in die hoogste hemel.‘