Die Evangelie volgens Lukas: Die skatryk maghebber (Luk 18:18-30) – Francois Malan
Die skatryk maghebber (Luk 18:18-30)
18:18 ’n Sekere skatryk maghebber (archōn iemand wat regeer, oor ander heers; Matt 19:20 verwys na hom as ’n jongman; Luk 18:23 sê hy was skatryk), ’n leier onder die Jode, moontlik ’n lid van die Sanhedrin? spreek Jesus aan as ‘Goeie Meester (didaskalos),’ ’n ongewone aanspreekvorm vir die Jode. Jesus en sy oordeel oor godsdienstige sake word duidelik onder die Joodse leiers bespreek (vgl. ook Luk 19:25 en die Joodse leier Nikodemus en sy vriende se gedagtes oor Jesus (Joh 3:1-2). Uit dié aanspreekvorm blyk ook die ryk man se waardering vir Jesus as ’n bekwame en vriendelike onderwyser wat ook goed doen aan mense, vir wie hy met vrymoedigheid nader met sy worsteling om die regte pad te volg.
Die ryk man is nie seker of hy ’n erfgenaam is van die ewige lewe nie, en vra daarom: ‘wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?’ Die vraag sluit aan by Jesus se waarskuwing dat iemand aangeneem sal word langs iemand wat agtergelaat word (Luk 17:34-35). Maar die ryke verstaan nie dat dit nie gaan oor goeie dade wat jou die ewige lewe laat beërwe nie, nie oor iets wat jy ekstra kan verdien om God te behaag nie, maar oor ’n algehele oorgee aan God se genade, soos die tollenaar van 18:13, met kinderlike vertroue op jou hemelse Vader soos ’n klein kindjie (18:17).
18:19 Jesus se antwoord begin by die ryk man se aanspreekvorm, om die man te laat nadink oor wat die implikasie daarvan is as hy Jesus ‘goed’ noem. Die Jode sing oor en oor dat die Here goed is (Ps 25:8; 34:9; 86:5; 100:5; 106:1; 107:1; 118:1,29; 119:68; 135:3; 36:3; 145:9; en dat daar niemand is wat goed doen nie, nie eers een nie; Ps 53:4). Besef die ryk man wat hy sê as hy Jesus ‘goed’ noem, dat hy homself in die teenwoordigheid van God bevind? Hy het maar net bedoel dat Jesus ’n goeie leermeester is, sonder om regtig te besef voor wie hy staan. Die ewige lewe is nie ’n promosieplegtigheid van jou prestasies nie, maar ’n lewe in gemeenskap met God, die ewige Goeie.
18:20 Die Jode sing nie slegs oor God se goedheid nie, maar ken ook sy gebooie. Jesus verwys na die tweede tafel van die wet, wat vereis dat sy volgelinge goed sal wees teenoor mense: getrou aan jou vrou, aan die lewe, besittings en goeie naam van jou medemens en van jou ouers. Die stelling oor God se goedheid is direk verbind met jou verhouding met mense, jou naaste; die laaste in die lys word beklemtoon, nl. jou ouers. Dit vra om liefde vir ander, sê niks van jouself nie, behalwe dat dít die mense is wat jy met die rykdom wat God jou gegee het, moet dien (vgl. 18:22). As jy aan die koninkryk van God wil behoort kan jy jou nie losmaak van die gebooie van God nie; hulle bly geldig. Maar daaruit kan geen verdienste verkry word nie (vgl. 17:10).
18:21 Die ryk maghebber se antwoord onthul die vormlikheid van sy vroomheid waarin sy sekerheid lê, soos dié van die Fariseër wat sy deugde opnoem (18:11). Maar hy voel tog dat daar iets ekstra moet bykom, ’n onbekende nuwe gebod wat sy gewete sal tevrede stel.
18:22 Die jongman het nog nie goed besin oor wat die uitvoering van die liefdesgebod teenoor ander behels nie. Daarom wys Jesus sy oppervlakkige vervulling van die wet uit met ’n enkele toets. Hy het nog nooit ingesien dat alles wat hy besit van God af kom nie, en in die Here se diens gebruik moet word nie. Sy rykdom is sy afgod wat hom weerhou om God met sy hele hart lief te hê (10:27). Mammon kan nie saam met God gedien word nie (16:13). Daarom sê Jesus: ‘verkoop alles wat jy het en deel dit aan die armes uit, en jy sal ’n skat in die hemele hê’ (vgl 12:33-34 oor die skat in die hemel; 16:10 hoe hulle jou in die ewige wonings sal ontvang). Maar hoe om in die die hemel in te kom, vereis dat hy Jesus moet kom volg. Hy het Jesus aangespreek as die Goeie Leermeester. Nou moet hy die daad by die woord voeg en die Goeie Leermeester kom volg. Jesus is die erfgenaam van die ewige lewe vir ons deur sy sterwe en opstanding (vgl. Romeine 8:17), Hy is die deur na die hemel, ‘die weg en die waarheid en die lewe, niemand kom na die Vader behalwe deur My nie’ (Joh 14:6). ‘so kan nie een van julle wat nie van al sy besittings afstand doen, my dissipel wees nie’ (14:33). Jesus is die Koning in die koninkryk van God (vgl. 16:17:21 ‘die koninkryk van God is in julle midde’); vgl. die skare wat in 19:38 met Ps 118:26 uitroep: ‘Geseënd is die Koning, Hy wat kom in die Naam van die Here.’
18:23 Toe die vroom vraesteller dit hoor het hy baie bedroef en terneergedruk geword (perílupos baie bedroef of baie depressief; Mark 10:22 en Matt 19:22 het net ‘bedroef’ maar voeg by ‘en hy het bedroef weggegaan’). Sy groot besitting (‘hy was baie ryk’) het so ’n groot houvas op hom gekry dat hy nie die stap kon doen om hom op Jesus te werp om die ewige lewe te beërf nie. Die skat van die lewe wil hy nie nou al as geskenk van God aanneem nie.
18:24 Jesus kla hom nie aan nie, maar bekla hom en elke mens wat hulleself deur hulle besittings (chrēmata oorvloedige ekonomiese bronne) uitsluit uit die koninkryk van God, waar God as Koning oor jou lewe regeer en nie jou besittings nie; al dink jy dat jy oor jou besittings regeer. Die ryk man het op sy materiële rykdom vertrou, en dit is ook die geval met vertroue op intellektuele, morele, en geestelike rykdom. Hy het dit te moeilik gevind om homself eenvoudig op God se barmhartigheid te werp. Romeine 9:16 sê: ‘Dit (God se ontferming en barmhartigheid) berus dus nie by die mens wat wil en hom inspan (trechō ‘probeer’ ‘hardloop’ om eerste by die wenpaal te kom) nie, maar by God wat Hom ontferm.’
18:25 Hoe moeilik dit is vir ’n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan word deur Jesus humoristies vergelyk met die groot kameel om deur die klein oog van ’n naald te gaan, om die onmoontlikheid daarvan te illustreer. Niemand kan homself losruk uit die aardse bindinge nie.
18:26 Die hoorders (Markus en Matteus sê: ‘dissipels’) het dit reg verstaan as ’n beeld wat die onmoontlike uitbeeld, en wat nie slegs die ryk mense raak nie. Elke mens het aardse bindinge, vaste opinies, verslawings, ens. ‘Wie kan dan gered word?’ vra hulle. Die passiewe vorm ‘gered word’ veronderstel om deur God gered te word. Die Jode het geglo rykdom is ’n teken van God se guns, en armoede ’n teken van sy straf. As die rykes dan nie deur God in sy koninkryk aanvaar sal word nie, sal ’n arme mos nooit aanvaar word nie.
18:27 Jesus antwoord ‘Wat onmoontlik is by mense is moontlik by God.’ So gaan die tollenaar, wat met sy sonde by God gepleit het om genade, huis toe as iemand wie se saak met God reggestel is (18:14). Elkeen wat in die koninkryk van God of die ewige lewe ingaan is ’n wonder van God se genade, wat nie verdien kan word nie, maar slegs met nederigheid en dankbaarheid aangeneem kan word. Redding is ’n gawe van die genadige God, wat sy straf op die sonde van die wêreld deur sy Seun laat dra het. Na die verhaal van die ryk man plaas Lukas die derde aankondiging dat Jesus gaan ly, sterf en uit die dood opstaan (18:31-34). Daarmee verduidelik Lukas die woord dat, hoewel dit onmoontlik vir ’n mens is om homself te red, God sy redding moontlik gemaak het deur Homself daarvoor te offer.
18:28 Petrus wys Jesus bekommerd daarop ‘Kyk! (idou) ons het ons eie goed (ta idia) agtergelaat en agter U aangegaan.’ Sy huis en gesin (4:38) en sy skuit en visgereedskap (5:3,11) het hulle in Kapernaum (4:31) agtergelaat. Wat sal van hulle word wat tot ’n mate tog gedoen het wat Jesus vir die ryk man gesê het. Ook Petrus vertrou dat hulle darem ’n bietjie goed gedoen het.
18:29-30 Anders as wat hulle verwag, verseker (amen ‘voorwaar’) Jesus hulle dat iemand wat sy huis, vrou, broers, ouers, kinders, ter wille van God se koninkryk agtergelaat het, in hierdie tyd reeds baie maal meer ontvang (apolambanō terug ontvang), bv. mense om voor te sorg (Luk 19:15-19). So ’n persoon ontvang in die bedeling wat kom die ewige lewe, met groter verantwoordelikhede in die koninkryk van die werkende God (Joh 5:17).