Hebreërs 6:4-6 – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Vraag

Hoe moet ons Hebreërs 6:4 – 6 verstaan?

 Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord:

Hebreërs 6:4-6 lui soos volg (1983-Afrikaanse Vertaling):

4 Wanneer mense een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, 5 die goeie woord van God leer ken het en die kragte van die toekomstige wêreld ondervind het 6 en dan nogtans afvallig geword het, is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring. In hulleself kruisig hulle immers weer die Seun van God en maak hulle Hom in die openbaar tot ’n bespotting.

Die geloofsprobleem wat hierdie verse oproep, lê in die woorde: “… is dit onmoontlik om hulle weer tot bekering te bring.” Hierdie woorde laat dit klink asof mens nie weer God se genade kan ondervind as jy in sonde geval het nie, asof jy totaal uit die genade van God kan val. En vir ons gevoel druis dit in teen die opvatting waarmee baie gelowiges grootgeword het, naamlik: Eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God. Verder, dit trek oënskynlik ook ’n streep deur die lering van ’n belangrike Protestantse belydenisskrif, die Dordtse Leerreëls (DL), wat sê dat die genade van God onverliesbaar is. DL V/6 leer naamlik dat God die gelowiges nie só diep laat val dat hulle uit die genade en uit die staat van regverdiging uitval nie. Verder, daar is ook Bybeltekste wat dié gedagte duidelik ondersteun, soos Johannes 10:28 wat sê dat God ons die ewige lewe gee en dat niemand ons uit sy hand kan ruk nie. Dit wil dus lyk asof Hebreërs 6:4-6 met sy harde uitspraak dat dit onmoontlik is om weer tot bekering te kom na bepaalde sondes, uit pas is met hierdie gevestigde opvatting.

Ons moet egter mooi begryp waaroor dit in die Hebreërboek gaan. Die hele boek is daarop ingestel om die lesers te laat volhard in die geloof. Die skrywer is deeglik bewus van tekens van afvalligheid in die gemeente, dat hulle besig is om te veragter in die geloof. Dié toedrag van sake word onder andere in 5:11-14 beskryf. Die skrywer sê dat die lesers teen dié tyd al leermeesters in die Christelike leer en lewe moes gewees het, maar nou moet hulle steeds in die basiese dinge onderrig word. Hulle is nog soos kindertjies in die geloof wat as ’t ware met melk gevoed moet word; hulle kan nog nie vaste kos inneem nie. Maar daar is ook ’n erger situasie aan die ontwikkel: Daar is mense wat hulle geloof in Christus volledig prysgee en weer terugkeer na hulle vorige bestaan (waarskynlik die Joodse geloof). Die skrywer waarsku daarom teen opsetlike sondes nadat mens die kennis van die waarheid ontvang het (10:26); hy waarsku teen die oordeel van God (10:28-31) en roep hulle op om te volhard (10:32-39). Vervolgens (hfst 11) spoor hy hulle aan deur middel van die lang lys van gelowiges uit die Ou Testament wat tot die einde van hulle lewe in die geloof volhard het, en vermaan hulle verder om Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof, in die oog te hou (12:1-2). En hy waarsku weer eens dat hulle nie van die genade van God afvallig moet word nie (12:15). In dié verband roep hy die slegte voorbeeld van Esau in herinnering. Esau het op ’n ligsinnige manier van sy geboortereg afstand gedoen en toe agterna gevind dat hy nie die saak kon regstel nie, al het hy dit met trane gesoek (12:16-17). Laasgenoemde klink baie dieselfde as waarteen die skrywer sy lesers waarsku in 6:4-6 – dat mens nie weer tot bekering kan kom as jy eers eenmaal die waarheid prysgegee het nie. Die blote feit dat die skrywer drie keer pertinent oor hierdie kwessie handel (hfst 6, 10 en 12), wys hoe belangrik dit vir hom was en hoe bekommerd hy oor die lesers se geestelike veragtering was.

Dit is dus duidelik dat die skrywer sy lesers deurgaans op ’n ernstige manier vermaan om nie die genade van God prys te gee nie, omdat dit ernstige gevolge vir hulle mag inhou. Die sonde waarteen hy hulle veral waarsku, is dié van apostasie of totale prysgawe van die geloof in Christus – dat jy die waarheid van die evangelie van Jesus Christus waarvan jy aanvanklik oortuig was, op ’n argelose en minagtende manier eenvoudig prysgee. Hierdie situasie word in 6:4 beskryf: As jy een keer deur God verlig is, die hemelse gawe ontvang en deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord leer ken en die krag van die koninkryk van God ervaar het, en dit nogtans willens en wetens en/of op ’n agtelosige manier prysgee – dan het jy die sonde van totale afval gepleeg en is daar nie verdere bekering moontlik nie; dan bly slegs die oordeel van God oor. Dié oordeel word met ’n voorbeeld uit die natuur beskryf (6:7-8): As ’n stuk grond baie reën van bo én sorg van die boer ontvang het, maar nogtans net dorings en dissels voortbring, het dit hom as inherent onvrugbaar bewys en is die vuur sy voorland (simbool van God se oordeel).

Ons moet verder begryp teen watter godsdienstige agtergrond die skrywer skryf. Hy is van oortuiging dat as mens eenmaal die genade van God verwerp het, daar nie ’n tweede kans moontlik is nie. Die wortels van hierdie opvatting lê diep in die Joodse agtergrond. In die Ou Testament wys Esegiël 18:24-26 byvoorbeeld daarop dat as ’n gelowige altyd die wil van God gedoen het en dan soos ’n goddelose begin lewe, hy sal sterf weens sy afvalligheid; niks van sy vorige getrouheid aan God sal tot sy krediet gereken word nie. En in verskeie rabbynse geskrifte word gewys op sekere sondes waarvoor daar nie vergifnis moontlik is nie, soos onder andere apostasie – wanneer ’n voormalige gelowige hom volledig tuis gemaak het in die sonde van ongeloof. Ook vroeg-Christelike geskrifte, soos die Pastor van Hermas, huldig die mening dat daar ’n grens aan vergifnis is: As jy eenmaal gedoop is en dan voortgaan met ’n goddelose lewe, is daar geen tweede kans moontlik nie. Dit is duidelik dat ook die Hebreërskrywer binne hierdie denkklimaat beweeg. ’n Mens het maar een kans by God, jy mag dus nie ligtelik daarmee omgaan nie. Dit beklemtoon veral die heiligheid van God en die kosbaarheid van sy genade. Dit laat ons die “harde” woorde van 6:4-6 beter verstaan. Die skrywer bedoel wat hy sê: As jy eenmaal die genade van God ontvang het en dan volledig afvallig raak, het jy jouself as permanent onbevoeg bewys vir God se genade; geen tweede kans kan iets hieraan verander nie.

Voordat ons egter verkeerde afleidings uit hierdie siening van die skrywer maak, moet ons sy bedoeling mooi verstaan. Die skrywer probeer nie paal en perk stel aan God se genade en vergifnis nie, maar is eerder daarop uit om die lesers in die sterkste taal tot sy beskikking te waarsku om nie in ongeloof te verval nie. En dit doen hy deur op die eenmaligheid van God se genade te wys en dat mens nie daarmee moet speel nie, in ooreenstemming met die opvattings hieroor wat destyds in omloop was en waarin hy gedeel het. Die bedoeling is dus nie om aan God se genade en vergifnis grense te stel nie, maar om op die sterkste moontlike manier te waarsku teen totale afval. ’n Mens kan dit ook so stel: Die skrywer bedien homself van ’n retoriese tegniek van sy tyd – oppas vir die oordeel van God oor afvalligheid – om sy lesers te oortuig om te volhard in die geloof.

Hoe ver die genade van God presies strek, weet ons nie. Dis nie in ons hande om daaroor te oordeel nie. Ons weet dit strek oneindig ver en wyd. Maar wat ons wel kan sê – en daar moet ons met die Hebreërskrywer saamstem – is dat mens nie met God se genade kan speel nie. Genade is nie goedkoop nie, mens mag nie ligtelik daarmee omgaan nie. God is nie ’n goedige oupatjie wat maar altyd bereid is om – ongeag hoe ons lewe – ons foutjies oor te sien nie. Hy is ook die heilige God wat van ons volle oorgawe aan Hom en ’n heilige lewenswandel vereis. Daarom sê God aan sy kerk: “Wees heilig, want Ek is heilig” (1 Petrus 1:16). Daar is dus slegs een manier waarop ons die spreuk “eenmaal ’n kind van God, altyd ’n kind van God” vir onsself kan toeëien, en dit is wanneer ons volhard in die geloof. Slegs op daardie weg kan ons seker wees dat God ons in sy ewige arms hou en nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie (1 Korintiërs 10:13). Natuurlik, in hierdie geloofstryd van volharding is ons nie volmaak nie, ons struikel dikwels. Nogtans ons hoef nooit te twyfel aan sy genade en dat Hy ons sonde en gebrokenheid vergewe nie. Maar wie opsetlik voortgaan met ’n ligsinnige, God-onterende lewe en telkens maar net God se genade as handige “ontsmettingsmiddel” wil inroep, speel met vuur. So iemand mag vind dat hy by die laaste omdraaipunt verby beweeg het, dat God se genade uitgeloop het. Niemand weet egter wanneer daardie punt bereik word nie. Dis nie vir ons om te oordeel nie, dit lê volledig in God se hande. Maar daar ís so ’n punt. En die Hebreërskrywer het gesien die gevaarligte begin flikker. Daarom dat hy waarsku: Jy wat tot die lig gekom het, volhard daarin. Dis die enigste pad waarop daar sekerheid en rus is. Dít is die boodskap van Hebreërs 6:4-6.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...