Louwarm, warm – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

Fanie vra:

Ek wil graag bostaande terme in die konteks van Openbaring beter verstaan.

 Antwoord

Prof Hermie van  Zyl antwoord:

Die terme kom voor in Openbaring 3:15-16, waar die Here aan die gemeente van Laodisea sê dat omdat hulle nie koud of warm is nie, maar lou, Hy hulle uit sy mond gaan uitspoeg.

Laodisea is een van die sewe stede in Openbaring 2-3 aan wie daar elkeen ’n brief gerig word. Hierdie stede het in ’n halfmaanroete gelê, beginnende by Efese in die weste, op na Pergamum in die heel noorde, met Laodisea die laaste stad onder in die ooste. Die sewe briewe verskyn ook in die volgorde van die halfmaanroete in Openbaring.

Laodisea was in die laat eerste eeu nC ’n belangrike handelstad in die gebied Frigië, Klein-Asië, en was veral vir twee dinge bekend: 1. sy tekstielbedryf, veral die swart wol wat daar geproduseer is, en 2. sy mediese skool, in die besonder vir die behandeling van oogkwale met die oogsalf wat daar plaaslik gemaak is. In 3:18 word op ’n ironiese manier hierna verwys: In plaas van hulle beroemde oogsalf moet die gemeente eerder oogsalf koop wat hulle geestelik sal laat sien.

Die gemeente in Laodisea het ’n groot geestelike probleem gehad: Hulle het in geestelike hoogmoed en selfgenoegsaamheid verval, mede as gevolg van die materiële welvaart wat hulle beleef het. Hulle het gedink dat hulle skatryk is en aan niks behoefte het nie, maar nie besef dat hulle eintlik ellendig en beklaenswaardig is nie (3:17). Geestelik het dit ontbreek aan ywer en warm harte vir die evangelie.

Nou is dit veelseggend dat hierdie situasie beskryf word in terme van geestelike louheid. (3:15). Was hulle maar warm of koud, dan het mens geweet waar jy met hulle staan. Maar nou is hulle nóg warm nóg koud, maar geestelik lou, walglik, en daarom sal die Here hulle uit sy mond spoeg. Die agtergrond van hierdie beeld lê vermoedelik in die watersituasie van Laodisea. Hulle het nie natuurlike waterbronne gehad nie en moes water 10 km ver aanlê vanaf Hiërapolis, noord van Laodisea, deur middel van ’n waterleiding (akwaduk). Die probleem was egter dat dié water van ’n warmbron afkomstig was. Teen die tyd dat dit Laodisea bereik het, was dit nie meer warm nie, maar louwarm. Sommige uitleggers voeg by dat die water ook ’n kalksmaak gehad het omdat dit naby Laodisea oor ’n kalkkrans gestort en dié se smaak opgetel het. As jy dus dié water drink, het jy gewalg daaraan; dit het jou so naar gemaak dat jy dit net wou uitspoeg. En so, sê die Here, proe die Laodisense vir Hom: Hulle het smaakloos geword; Hy walg aan hulle geestelike louheid; Hy is op die punt om hulle uit te spoeg soos daardie louwarm kalkwater van Hiërapolis. Daarom word hulle opgeroep tot bekering (3:19), want die Here het hulle steeds lief. Hulle moet die deur van hulle lewens oopmaak sodat daar weer feesmaal gehou kan word (3:20), en hulle harte weer warm kan klop vir die evangelie.

Ander uitleggers wys daarop dat Laodisea waarskynlik ook suiwer koue water gekry het van Kolosse, 10 km oos van Laodisea af, spesifiek vir drinkdoeleindes. Die louwarm water van Hiërapolis was dus meer vir ander gebruike – medisinaal en bouwerk – bedoel. (Die warmbronne by Hiërapolis het byvoorbeeld tot die oprigting van gesondheid-spa’s by Hiërapolis gelei.) Die uitspoeg van Laodisea se water verwys dus eerder na niksvermoedende verbygangers wat per ongeluk van die louwarm kalkwater uit die spruite van die omgewing ingekry het. Of, indien Laodisea tog ook vir drinkwater (gedeeltelik) van die louwarm water van Hiërapolis afhanklik was, dan moes dit eers afkoel voordat dit drinkbaar was. Maar steeds het dit nie lekker gesmaak nie, veral as dit ’n kalksmaak gehad het. Punt is, almal in Laodisea was bewus van die slegte water afkomstig van Hiërapolis.

Ons slotsom is dus dat die terme warm, koud en louwarm heel waarskynlik ’n fisiese agtergrond in Laodisea gehad het. Die blote feit dat dit juis Laodisea is wie se geestelike situasie as louwarm beskryf word, is nie toevallig nie. Die omgewing se watersituasie, soos hierbo uiteengesit, het heel waarskynlik daartoe bygedra dat dit as beeld gebruik is om die louwarm geestelike toestand van die gemeente mee te beskryf.

Skrywer: Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

You may also like...