Wie het 1 Petrus geskryf?(2)
Wie het 1 Petrus geskryf?
Daar is genoegsame interne- en eksterne getuienis om daarop te dui dat, na aanleiding van die tradisionele beskouing, Petrus die apostel wel die outeur van 1 Petrus was.
In my ander artikel oor hierdie vraag, beskryf ek die vernaamste eienskappe van 1 Petrus wat baie navorsers laat aflei dat Petrus dit nie self kon geskryf het nie, en noem ek sommige teen-redenasies.
Daar is ook belangrike interne- en eksterne getuienis wat dui op die geloofwaardigheid van die tradisionele beskouing dat Petrus die apostel wel die outeur was.
- Van die belangrikste interne getuienis sluit in: (a) die outeur word in die brief geïdentifiseer as “Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus” (1:1); (b) die outeur voer aan dat hy “getuie van die lyding van Christus” is (5:1), wat voorkom asof dit ‘n aanspraak is op ooggetuieskap; (c) daar is heelwat ooreenkomste tussen frases wat in hierdie brief gebruik word en dié in die toesprake van Petrus in Handelinge. Hoewel dit alles maniere kon wees waarop ‘n pseudonieme outeur die brief aan Petrus se nalatenskap wou verbind, meen sommige navorsers dat die brief nie die tipiese eienskappe en merkers van ‘n pseudonieme geskrif vertoon nie. [Lees meer oor “pseudonimiteit” in my ander artikel oor 1 Petrus se outeurskap].
- Die belangrikste eksterne getuienis behels dat daar duidelike verwysings na die brief gemaak word in onder meer geskrifte van Polikarpus, Eusebius, Irenaeus, Tertullianus, Clemens van Aleksandrië en Origenes. Hierdie verwysings deur die kerkvaders toon aan dat die brief van baie vroeg af reeds as gesagdraend en as deel van die Bybelkanon beskou is. Daar is in hierdie verwysings geen aanduiding van enige twyfel ten opsigte van die apostoliese outeurskap van die brief nie.
In die lig daarvan dat die besware teen die outeurskap van Petrus tot dusver telkens met legitieme teen-redenasies weerlê kan word, blyk daar geen goeie rede te wees om die vroegste algemeen aanvaarde kerklike tradisie, naamlik dat Petrus die apostel wel die outeur van hierdie brief is, te verwerp nie. Trouens, die onomstrede aanvaarding van die brief se legitimiteit deur die kerkvaders en die vroegste gemeentes (met die veronderstelling van apostoliese outeurskap daarby inbegrepe), blyk veel gewigtiger te wees as redenasies (al is daar ook hoe baie van hulle) wat telkens weerlê kan word.
Skrywer: Ds Dirk Venter