Die Sanhedrin besluit dat Jesus moet sterwe (11:45-53)

image_pdfimage_print

Die Sanhedrin besluit dat Jesus moet sterwe (11:45-53) – Francois Malan

11:45-46 By ‘n aansienlike getal van die Jode wat vir Maria en Marta kom troos het, lei die wonder tot geloof in Jesus. Maar party van hulle bevestig deur hulle optrede dat die wonder nie hulle ongeloof oorwin het nie. Die opwekking van Lasarus wek geloof in Jesus en verset teen Hom, soos in hoofstukke 5 en 9 se wondertekens. Die nuus word aan die Fariseërs oorgedra (soos met die blindgeborene 9:13), wat die proses teen Jesus aan die gang sit, wat tot sy dood sal lei.

11:47-48 Die Fariseërs gaan rapporteer aan die priesterhoofde; Hulle is die uitvoerende bestuur van die Joodse Raad, wat uit tien Sadduseër priesters bestaan het. Hulle besluit die saak is so ernstig dat hulle die volle Raad van 70 bymekaar moet roep (vgl. hulle eerste vergadering oor Jesus in 7:45-52), want ‘hierdie man’ (neerhalend) doen baie wondertekens. Die wonderteken deur Jesus is vir die leiers van die volk hoogs verontrustend, en daar moet nou beslis opgetree word, ‘wat moet ons doen?’ watter maatreëls moet ons tref om aan sy werke ‘n einde te maak. Daar is ‘n groot beweging onder die mense agter hierdie man aan. Mense begin glo dat Hy van God af kom, en die invloed van die godsdienstige leiers is in die gedrang. Daar moet ook met die Romeine rekening gehou word; hulle kan kom en ons en dié plek en die volk wegneem/doodmaak (airoo kan albei beteken; 1983-vertaling ‘tot niet maak’). In die verlede het die Romeine meedoënloos elke messiaanse beweging met geweld onderdruk. Die volgelinge, wat Jesus as ‘n messias beskou,  kan weer ‘n bloedbad in die land veroorsaak, selfs die tempel kan verwoes word, en die voorregte van die Jode as ‘n volk (ethnos) ingetrek word, om bv. nie opgeroep te word vir militêre diens nie. Of, die woord kan ook beteken ‘wegneem’: die Romeine kan ons ontneem van ‘die plek’ (topos kan na die tempel verwys, of na hulle posisie) – die Raad se gesag kom van die Romeine af, deurdat hulle met die Romeinse owerheid saamwerk. Dan is die leiers se bekommernis in die eerste plek oor hulle eie posisie, en nie oor die tempel of die volk nie. Moontlik is albei die moontlikhede in hulle gedagtes: ‘n gewelddadige onderdrukking deur die Romeine, en die verlies van die Raad se beperkte politieke en sosiale mag.

 

11:49-50 Kajafas is as hoëpriester deur die Romeinse goewerneur aangestel , en het die posisie beklee van 18 n.C. tot 36 n.C. toe Pilatus afgesit is. Kajafas is hoëpriester tydens Jesus se kruisiging. Pilatus se voorganger, Gratus het in 15 n.C. vir Annas afgesit, wat vanaf 6 n.C. hoëpriester was. Daarna het Gratus tot 18 n.C. elke jaar ‘n nuwe hoëpriester probeer, tot hy Annas se skoonseun Kajafas gekry het wat met hom saamgewerk het as ‘n marionet van die Romeine, sonder ‘n onafhanklike oordeel. Pilatus het in 26 n.C. by Gratus oorgeneem as goewerneur. (Na Kajafas was twee van Annas se seuns hoëpriester, elkeen net vir 1 jaar).

       Heel arrogant verklaar die Sadduseër hoëpriester, Kajafas, wat ook die voositter van die Raad was, dat die ander lede van die Raad niks verstaan  nie – nie politieke insig het nie; dit is tot julle voordeel dat een man vir die volk (laos die verbondsvolk) sou sterwe, en nie die hele nasie (ethnos) uitgewis word nie (vgl. bv. 2 Sam 20:1-22). Die gevaar vir hulle posisie en vir die voortbestaan van die hele Joodse nasie (ook Jode in die verstrooiing dwarsoor die Romeinse ryk) laat geen ander moontlikheid toe nie. Die enkeling se reg is van geen betekenis nie. Daarmee is die beslissing oor Jesus gevel.

 

11:51-52 Die skrywer sien egter ‘n dieper betekenis agter Kajafas se uitspraak. Dit was inderdaad profetiese woorde wat Kajafas, onbewus van die profesie, uitgespreek het (die taak van ‘n profeet is om God se woord aan die volk oor te dra). God gebruik hierdie onwaardige, vyandige hoëpriester om ‘n goddelike waarheid aan te kondig. Jesus sou nie net vir die Joodse nasie (ethnos) sterwe nie, maar vir al die kinders van God (vgl. Joh.1:12), vir die volk van God (laos), wat oor die hele wêreld versprei is. Teen sy wil verkondig die hoëpriester die waarheid oor Jesus se verlossingsdood. Jesus se dood is ‘n losprys (huper ter wille van; vgl. Mark. 10:45) , ‘n versoeningsdood vir die sonde van die wêreld (Joh.1:29). Daardeur vergader Hy (sunagoo bymekaarmaak soos ‘n herder sy skape)  die gelowiges tot een volk, een kudde (Joh.10:16), een gemeenskap van die heiliges (vgl. Joh.17:20-23), een kerk van Christus (kuriake,‘kerk’, beteken ‘die kurios, die Here, se eiendom’).

 

11:53 Die besluit is geneem om Jesus dood te maak. Van daardie dag af beplan hulle noukeurig (bouleuoo) hoe om Jesus dood te maak, soek hulle na maniere om hulle besluit uit te voer. Daar sal nie ‘n verhoor wees om sy saak te verhoor nie, Hy is klaar skuldig bevind, sonder verhoor (vgl. Mk 14:1-2).

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...