Hoe definieer ons die wêreld
Hoe definieer ons die wêreld – Francois Malan
Thelma vra:
Ek wil graag weet in 1 Johannes 2:15-17 praat dit van ons moenie in die wêreld wees of dinge van die wêreld doen nie. Hoe definieer ‘n mens die wêreld?
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Verse 15-17 verwys in drie parallele frases na die ou orde wat nog voortbestaan tot die wederkoms van Jesus, en die verhouding van die gelowige teenoor die voortgaande ou bedeling:
15 Liefde vir die wêreld – Liefde vir God
16 kom van die wêreld – kom van God
17 die wêreld gaan verby- wie God gehoorsaam, bly vir ewig.
2:15 ‘Julle moet nie die wêreld liefhê of die dinge van die wêreld nie…’ Die woord ‘wêreld’ (kosmos) word in Johannes in twee betekenisse gebruik: as God se hele skepping, mense ingesluit (Jn 3:16), of die menslike samelewing wat in die mag van die bose lewe, teen God en sy wil vir sy skepsels, die ‘sondige wêreld,’ wat gelei word deur bose selfsugtige begeertes (Jn 16:11). Gelowiges het van die ‘wêreld’ van duisternis oorgegaan in die lig van God. Hulle word geroep om ‘die dinge van die wêreld’ te weerstaan. Dit beteken nie dat hulle nie aan God se wêreld moet deelneem nie, maar om in die wêreld te wees en nie van die wêreld nie (1 Jn 4:17; Jn 17:14-16).
‘As iemand die wêreld liefhet, is die liefde van (en vir) die Vader nie in hom nie.’ God se gawe van sy liefde en lewe moet reg gebruik word, deur Hom lief te hê, in sy liefde te leef in die wêreld, liefde vir die sondige wêreld te verwerp, en selfsugtige begeertes te weerstaan. Liefde is nie ‘n onbeheerbare emosie nie, maar konstante toewyding van jou wil. Die een wat die dinge van die wêreld liefkry, gee homself daaraan oor en leef volgens die norme van die wêreld wat nie met God rekening hou nie.
2:16 Hier verduidelik Johannes wat ‘al die dinge wat in die wêreld’ is, wat teen God staan:
(i) ‘die begeerte van die vlees’ – eintlik is dit ‘n opsomming van alles wat deur die volgende twee dinge verder verduidelik word. Die woord ‘vlees’ (sarks) word gebruik vir die natuurlike swak liggaam, en vir die sondige gees. So is daar ook goeie begeertes en slegte begeertes. Hier gaan dit om die sondige begeertes van die sondige mens wat uitinge van sy selfsug en hoogmoed is (vgl. die lys van Gal 9-21). Begeerte (epithumia) verwys na ‘n sterk begeerte (neutraal), en ook om te kry wat aan iemand anders behoort, ‘n lus daarna (negatiewe betekenis). Laasgenoemde gaan om ‘n eiewillige selfbeskikking en selfgerigtheid los van die wil van God.
(ii) die begeerte van die oë – ‘n drang om dit wat die oë sien te verkry – sondige begeerlikheid na dinge wat teen die wil en wense van God is. Die oë is nie vanself verkeerd nie, maar word die instrumente waarmee verkeerde begeertes toegelaat word om wortel te skiet en te groei in die menslike wil.
(iii) ‘praalsug’ of ‘grootpratery /arrogansie van die lewe’ – (lewe, bios, verwys na jou daaglikse optrede of gedrag, of na jou besittings) die dinge in die wêreld maak dat ‘n mens op hulle gaan roem en hom op hulle verlaat. Die woord (arrogansie, of pretensie) verwys na iets wat spruit uit ‘n valse waardering van wêreldse besittings, houdings en aktiwiteite. Daarmee wil ‘n mens wys dat hy beter is as ander, en versteur só juis sy verhouding met ander (vgl. Flp 2:3-5 vir egte nederigheid).
Bose begeertes (i) en valse waardes (ii) gaan oor onheilige begeertes na dinge en posisies wat ons nie het nie, en egoïsme (iii) gaan oor onheilige trots oor prestasies of dinge wat ons het.
Johannes het verduidelik wat al die dinge van die wêreld is wat die gelowige moet vermy en nie moet liefhê nie: selfsugtige begeertes, wat gestimuleer word deur wat die oë sien en tot uiting kom in ‘n uiterlike vertoon.
Sondige begeertes is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.’ Hervorming moet van binne af begin. Die wêreld, die menslike bestaan, aardse besittings, is nie in sigself sondig nie; dit is die mens se ingesteldheid daaroor en die mens se drang om daarmee verbind te wees sonder God, in die plek van God en selfs teen God. Dit is ‘n vervreemding van God (vgl. die derde groep sade wat tussen die onkruid geval het as beeld van bekommernis van die lewe, en die verleidelikheid van rykdom wat die woord verstik dat dit sonder vrug bly, Mat 13:22) .
2:17 Die wêreld met sy dinge wat begeer word, is aan die verbygaan. Dit is die tweede rede waarom ‘n Christen nie die wêreld moet liefhê nie (die eerste rede in 2:15-16: liefde vir die wêreld en liefde vir God sluit mekaar uit). Die dinge van die wêreld het egter nie permanente waarde nie, so ook nie die begeerte na die dinge van die wêreld nie
(1 Kor 7:31 sê: ‘hierdie wêreld soos ons hom ken (letterlik: die huidige vorm of voorkoms van hierdie wêreld), is aan die verbygaan.’ Daarom het dit nie blywende waarde nie. Daarom moet die Christen sy liefde vir dinge van die wêreld en sy verlange na die eer van mense aflê. Dit is deel van sy selfverloëning.
‘maar hy wat God se wil doen, bly vir ewig’ – God se wil is boweal om lief te hê. Liefde teenoor God, deur sy gebooie te gehoorsaam, deur steeds in liefde op te tree teenooor alle mense met wie ek in aanraking kom (vgl. Rom 13:16 die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet). Liefde vir die wêreld kom uit die wêreld (2:16) wat aan verbygaan is. Liefde vir God kom uit God, en God is ewig, so ook die lewe wat Hy vir die gelowige gee. Omdat dit uit God is, is dit permanent, ewig. Dit behoort aan ‘n heeltemal ander dimensie as die wêreldlike lewe wat die Christen omring met verloklikhede om hom weg van God se wil af te lei, en jou eiewilligheid wat jou soos ‘n tipiese wêreldling laat optree. Maar om afstand te hou teenoor die wêreld se aansprake is daar slegs een manier, naamlik om die wil van God te doen deur lief te hê – dit bly vir ewig en gee sin en rigting in die lewe.
Skrywer: Prof Francois Malan