Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2)
Buitebybelse getuienis oor Jesus Christus (2) – Jan van der Watt
Nie-Christelike Jode wat van Jesus praat
Josefus in Antiquities of the Jews – sy boek oor die geskiedenis van die Jode van die skepping af tot 66nC – noem Jesus twee maal en Johannes die Doper een maal. Hy noem dat Johannes ʼn gewilde figuur was wat genoeg invloed gehad het om ʼn opstand te kon reël wat hom uiteindelik ook sy lewe gekos het.
Josefus se eerste verwysing noem dat Ananus, die nuwe hoëpriester in 62nC, ‘die Raad van die Sanhedrin saamgeroep en die broer van Jesus, die sogenaamde Messias, (Christos) wat Jakobus genoem is, saam met ʼn paar ander mans, oorgelewer en gestenig het. Hulle is daarvan beskuldig dat hulle die wet gebreek het’.
Hierdie verwysing onderstreep natuurlik ook die aktiewe teenwoordigheid van die Christene in Jerusalem, asook die posisie van Jakobus as leier van die kerk in Jerusalem.
Josefus se tweede verwysing lui so: Omtrent hierdie tyd het Jesus geleef, ʼn wyse man, as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem. Hy het verbasende dinge gedoen en was ʼn leraar vir mense wat opgewonde was om die waarheid te aanvaar. Hy het baie Jode oortuig en ook baie Grieke: Hy was die Messias. In reaksie op die aanklag wat deur leidende mense onder ons gebring is, het Pilatus Hom tot ʼn kruisdood veroordeel: maar diegene wat Hom aanvanklik liefgehad het, het nie opgegee nie. Hy het op die derde dag lewendig aan hulle verskyn, soos die profete van God oor Hom gepraat het asook oor duisende ander wonders oor Hom. Tot op hierdie dag bestaan die stam van die Christene, wat na Hom vernoem is, nog. (Ant. XVIII.3.3).
Hoewel dit lyk of Christene die weergawe ‘geredigeer’ het (as ʼn mens na frases kyk soos ‘as ʼn mens Hom inderdaad ʼn man kan noem‘; ‘die derde dag‘), is daar min twyfel dat die essensie van wat hier staan, werklik op Josefus teruggaan. Selfs die taal wat gebruik word, is nie tipies Christelik nie. Onthou, Josefus was ʼn Jood (nie ʼn Christen nie) en hy het vir die keiser ʼn geskiedenis geskryf oor alles wat in Palestina gebeur het. Hy het die grootste deel van sy lewe in Palestina gebly en het geweet wat daar aangegaan het en of iets wel gebeur het of nie. Hy het dus min belang by Jesus gehad, behalwe dat die dinge wat destyds in Palestina gebeur het in sy geskiedenisboek moes kom. Josefus het dus geen rede gehad om na Jesus te verwys as hy dit nie as werklike gebeurtenis gesien het nie.
Lees volgende keer verder oor getuienis van nie-Christene oor Jesus uit die ou tyd… dit bewys natuurlik dat die verhale oor Jesus deur die mense van destyds as waar aanvaar is en nie net as Christelike propaganda nie.
Outeur: Prof Jan van der Watt