Psalm 15 (3)
“God declares that all is misery unless our minds are firmly fixed on his word, and unless we recognize that to be blessed is to know his favor and to become a child of his.” – Johannes Calvyn
Psalm 15 (3)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
15:3 – 5a: Praktiese voorbeelde.
15:3: 3Hy laster nie, doen sy medemens nie kwaad aan nie en bespot nie sy naaste nie.
Hier word ‘n punt wat algemeen gestel is meer konkreet gestel. Die mens wat deur God verwelkom word, praat nie kwaad nie. Hy is nie gedurig besig met allerlei plannetjies nie. Hy is nie gedurig besig met vals beskuldigings nie. Parallel hiermee is: hy doen sy medemens geen kwaad aan nie.
15:4: 4In sy oë is die een wat verwerp is, veragtelik, maar hy eer dié wat vir die Here ontsag het. Al sweer hy tot sy nadeel, hy verander nie.
Die gesindheid teenoor ander mense se verkeerd en regdoen is belangrik vir lewe in die teenwoordigheid van God. Die psalmis sê dat die persoon wat deur God verwelkom word ‘n negatiewe gesindheid het teenoor die goddeloses, maar die toepaslike positiewe gesindheid teenoor die regverdiges het. Dit sal die goddeloses ontmoedig en die regverdiges in die gemeenskap bemoedig.
Wat maak ‘n mens verwerplik? Dit verwys na God se verwerping as gevolg van ongehoorsaamheid, goddeloosheid en opstand. Dit is soos silwer wat getoets is en verwerp is. Mense wat vir God ontsag het, word geëer. Verag en eer staan teenoor mekaar.
Die laaste deel van die vers beskryf verder die plig van ‘n verantwoordelike lid van die gemeenskap – hy moet toesien dat die mense nie wegkom met verkeerd doen nie. Dit is ‘n versoeking om jou vriende maar ligtelik te hanteer, maar dit is nie wat God verwag nie.Dit is net so verkeerd om iemand ligtelik te hanteer wat dit nie verdien nie as om ander skade aan te doen.
15:5: Hy leen nie sy geld teen rente uit nie en aanvaar nie ‘n omkoopgeskenk ten koste van die onskuldiges nie.
Nou gaan dit oor jou gesindheid teenoor geld. In geldsake is die versoeking groot om nie die waarheid te praat nie, om ander kwaad aan te doen en om jou morele standaarde op te skort. Eerstens word die versoekings van geld uitgespel – hulle moet weerstaan word:
- Geld teen rente uitleen. Leen is ‘n manier om ‘n behoeftige medemens te help en nie ‘n manier vir rykes om nog ryker te word nie. Dit sluit sogenaamde kommersiële lenings uit. Om te leen en rente te vra daarop is uitbuiting van die behoeftiges.
- Aanvaarding van omkoopgeld. Dit gaan hier oor ‘n senior persoon in die samelewing wat deelneem aan die regspleging by die stadspoort. ‘n Ryk man kan hom maklik omkoop.
So beklemtoon die digter dat ons verhouding met God prakties gestalte moet kry in ons verhouding met ons medemens. Die een is ‘n noodwendige voorwaarde vir die ander.
15:5b: Belofte.
Hy wat hierdie dinge doen, sal nooit struikel nie.
Die psalm sluit af met ‘n belofte. Hierdie dinge verwys na die dinge in vers 2 – 5b. Ons moet vas staan in die doen van hierdie dinge anders gaan ons struikel.