Psalm 17 (1)
It is easier to save us from our sins than from our righteousness. —C.H. Spurgeon
Psalm 17 (1)
Tema: Die Here se oë, lippe, regterhand en gesig
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
Ons kry hier drie pleidooie. Van elke pleidooi na die volgende is daar vooruitgang. Die eerste pleidooi vertel van die psalmis se eerlikheid. Die verklaring van trou ontwikkel daaruit. Die tweede pleidooi verwys na die mense van wie die psalmis verlos moet word. Daaruit volg ‘n jammerklag. Die derde pleidooi verwys na trou. Die dele word bymekaar gehou deur verwysing na liggaamsdele: lippe, oë, hart en mond, lippe, voetstappe, oor, regterhand, oog, hand, hart en mond,, knie, hand en buik.
Vir die Christen klink die temas vreemd. Ons is tog almal skuldig, nie onskuldig nie. Ons moet mos vir ons vyande bid, nie teen hulle wees nie. Ons moet tog werk vir die goddelose se redding, nie sy ondergang nie. Verstaan ons egter die agtergrond van die psalm word ons vrae opgelos. Destyds is daar geglo dat ‘n mens se voorspoed ’n teken is dat God sy optrede goedkeur. Die digter streef eerlik daarna om die wil van God te doen. Hy staan dus teenoor die goddelose wat openlik sy ondergang beplan. As God sy eie eer wil beskerm, moet Hy dus kant kies teen die goddelose en die digter beskerm. Deur hom van sy vyande te red, sal God ook duidelik toon dat Hy lewe en vir sy volgelinge omgee.
17:1: Opskif
’n Gebed. Van Dawid.
17:1 – 2:
Die psalm begin met ‘n pleidooi aan die Here om tog te hoor en te reageer. Hy doen dit op grond van wie die Here is en wie hy, die psalmis, is.
Luister tog na ‘n regverdige saak, Here, gee tog aandag aan my hulpgeroep,
hoor my gebed wat kom oor lippe sonder bedrog.
Hier kry ons ‘n oproep aan die Here om aandag te gee. Die basis vir hierdie pleidooi is die Here se trou. Die psalmis glo wel dat hy, in teenstelling met ander mense, ‘n regverdige saak het. Soos Job glo hy dat hy onskuldig is. Hy maak nie aanspraak omdat hy verwaand is nie, maar omdat hy besorg is dat die mense mag dink dat God onregverdig is.
2Laat aan my reg geskied; mag u oë regverdig onderskei.
Hier voer die psalmis sy pleidooi verder. Die Here moet ‘n besluit neem – sy oë sien immers die psalmis. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk om te bevestig dat die pleidooi van ‘n regverdige mens kom. Daarom moet sy versoek toegestaan word.
17:3 – 5:
3U het my hart getoets, in die nag ondersoek ingestel,
U het my gelouter, maar U het niks gevind nie.
Ek het my voorgeneem: My mond sal nie oortree nie.
Die Here kan ter enige tyd in die mens kyk en sien wat daar aangaan. Die psalmis weet dit, maar hy vrees nie so ‘n ondersoek nie. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk. Die taal van toets en ondersoek instel, verwys nie net na ‘n ondersoek nie maar ook na loutering – is dit werklik goud. Die nag is die tyd wat die Here mense se integriteit bepaal – wat hulle dink as hulle in die bed lê, weerspieël hulle gesindheid.
4Wat die optrede van mense betref: Volgens die woord van u lippe het ek die paaie van geweldenaars vermy.
5My treë het u paaie nougeset gevolg; my voetstappe het nie gewankel nie.
Die psalmis was baie versigtig vir die paaie van geweldenaars. Die geweld waaroor die psalmis bekommer is, is die geweld wat ander mense beroof – hulle land of hulle kos. Die psalmis loop in die voetspore van die Here. Daarom wankel hy nie; daarom kan hy die paaie van geweldenaars vermy.
Volgende keer gaan ons verder met Psalm 17.