Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Ontspanning(8) – JP Louw
Atletiek as sport
Met atletiek het ons ‘n heel ander prentjie. Hier is ons volkome op die terrein van vryetydsbesteding. Daarom is dit ook begryplik dat daar so goed as geen spoor van atletiek in die Ou Testament is nie omdat mense eers laat in die geskiedenis geleentheid vir ontspanning gekry het. Atletiek as sport het eers met die Grieke en Romeine op die toneel verskyn. In Jeremia 12:5 lees ons wel van mense wat gehardloop het. Dit was egter nie vir ontspanning of plesier nie, maar om te vlug.
‘n Romeinse beeldhouwerk van ‘n diskusgooier.
Die Grieke het geglo dat dit net so belangrik was om gesond te wees as om onderrig te wees, en die Romeine het dit oorgeneem in ‘n spreuk “mens sana in corpore sano”-“‘n gesonde gees in ‘n gesonde liggaam”. Die Grieke het vier groot atletiese spele gehad: die Isthmiese spele, die Nemeaanse, die Pythiese en die Olimpiese. Laasgenoemde was die grootste en belangrikste en is elke vier jaar gehou ter ere van die god Zeus. Ook omdat die spele begin het met offerandes aan gode en helde was hulle in essensie religieuse feeste. Die spele het kort- en langafstand wedlope gehad (1 Korintiërs 9:26), hoog en verspring, diskusgooi, spiesgooi en stoei. Verder was daar strydwawedrenne, boks (1 Korintiërs 9:26), ens. Die wat meegeding het, moes hulle aan streng reëls hou en moes dertig dae voor die spele begin het, byeenkom sodat hulle onder toesig kon oefen. Hulle moes gedurende alle tye gereeld oefen, oormaat vermy en hulleself dissiplineer. In 1 Korintiërs 9:25 en 2 Timoteus 2:5 verwys Paulus spesifiek na hierdie tipe gedrag van die deelnemers. Wanneer ‘n item afgeloop het, kondig ‘n persoon die wenner en sy stad se naam aan. Die wenner kry dan ‘n palmtak of kroon van ‘n louriertak of ‘n tak van ‘n olyfboom. Dieselfde beeld vind ons in 1 Petrus 5:4. In 2 Timoteus 4:7 vind ons nog ‘n beeld uit die atletiek in die woorde: “ek het die wedloop afgelê, ek het die wenstreep bereik”.
Soms was die wedstryde baie rof. Veral die boks en stoei was daarop gemik om die gehoor se bloeddorstigheid te laaf. Dikwels het die deelnemers leerbande om hulle arms gesit om harder te kan slaan, en later is veral as die twee goed opgewasse teen mekaar was sodat daar vir die gehoor te min bloed was-armbande (met metaalpunte op) om hulle arms gedraai vir vinniger effek.
Toeskouers
Toeskouersport was ‘n Romeinse spesialiteit. Dit was afgestem om die massamens se honger vir opwinding en bloed tevrede te stel. Die Romeinse arena was besonder effektief om opgehoopte aggressie te kalmeer en het dus ‘n doel gedien om die hordes van elke samelewing in toom te hou. In die Romeinse arena is daar tot die dood toe geveg. Meestal het veroordeelde misdadigers so ‘n laaste kans gekry deur met leeus, bere, olifante of hiënas te veg-en die skare het hulle in bloedlus aangepor. Paulus gebruik hierdie beeld as by in 1 Korintiërs 15:32 verwys na die teenstand wat by in Efese ondervind het waar by “soos teen wilde diere” geveg het.
Die Colosseum in Rome waar baie van die spele plaasgevind het. Die vloer is weg en mens kan die ondergrondse vertrekke sien.
In die arena is allerhande gevegte gevoer, dikwels met wapens, maar die ergstes is vir die einde gebêre-veral die teen wilde diere, en dan sonder wapens. Wanneer Paulus in 1 Korintiërs 4:9 se “God het aan ons apostels, die laaste plek in die ry gegee asof ons mense is wat tot die dood in die arena veroordeel is” gebruik by nogeens ‘n beeld uit die arena.
Die gevegte in die arena was besonder bloeddorstig. Swaardvegters was naas die wilde diere ‘n verdere opwinding in die verband. Die swaardvegters was dikwels opgeleide slawe wat vir die vermaak moes sorg. Die wat gedood is, kon maar afgeskryf word as noodsaaklike verlies. Verskillende wapens en tegnieke is gebruik. Sommige het met swaarde en skilde geveg, ander het die een ‘n swaard en skild gehad terwyl die ander ‘n vurk en ‘n net gehad het. As een neergevel is en die skare was tevrede met die vertoning, is die duime afwaarts gehou wat beteken het dat die een wat oorwin is weer ‘n kans gegee word. Wanneer die duime opwaarts gehou is, moes meer bloed vloei en moes by doodgemaak word. ‘n Verdere tipe geveg was om ‘n groep in te stuur wat bly veg het totdat net een oorgebly het. Die een is dan bekroon.
‘n Ander baie populêre sport was die renwa-wedstryde wat in. die hippodromos of perderenbaan plaasgevind het. Wadrywers het om en om die baan, wat twee skerp omdraaie aan die punte gehad het wat met ‘n paal gemerk is, gery. Die vaart was so vinnig moontlik. Soms is die drywer vasgemaak en moes hy homself lossny as sy wa omval: Hierdie wedrenne het dikwels ook dobbelgeld ingehou wat mense verwed het.
Model van ‘n hippodromos, ‘n perde-renbaan soos dit moontlik ten tye van die Nuwe Testament gelyk het.