Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (7)
Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (7)) – Adrio König
Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:
- 1.Esegiël 20
- 2.Psalm 106
- 3.Psalm 95
Psalm 95
Die vorm van hierdie Psalm is belangrik. Die eerste deel (1-7a) is ’n oorweldigende juigpsalm oor die grootheid van die Here.
Daar is ’n uitbundigheid in die oproep. Die sterkste juig woorde beskikbaar in Hebreeus word gebruik. En dan skielik die absoluut negatiewe prentjie van die uittog (7b-11). Waar om?
Die eerste deel is ’n oproep aan die volk wat tydens ’n fees in die tempel is. Dit bestaan uit twee dele, twee oproepe om die Here te loof (1-2, 6). Na elke oproep volg die rede waarom Hy geloof moet word (3-5, 7a). Die eerste rede is die feit dat Hy die groot Heerser oor alle ander gode is, en verder sy groot mag oor die hele aarde: dieptes, hoogtes, see, land – alles. Hy is duisendmaal werd om uit volle bors geprys te word!
En dan die tweede oproep. Dit is jammer dat nie een van NLV en 1983 die “want” voor vers 7 ingesit het nie, want hier het ons weer die rede vir die oproep tot lof. Die punt is dat dit nie sommer so ’n godjie is wat Israel uitgekies het as sy volk nie. Dis sonder meer dié God van hemel en aarde, die God van die gode.
Wat ’n voorreg. En kyk na die verhouding. Dis nie net die een verpligting op die ander wat Hy hulle oplê nie, al sou Hy dit maklik kon doen. Dis die sagte, versorgende verhouding van ’n herder wat omgee vir sy skape. Hy hou sy hand persoonlik oor hulle (7a). Dít is oorgenoeg rede om Hom van harte te loof. Dit is ’n idilliese prentjie vir iemand wat in die harde omstandighede van die destydse Palestina ’n skaapboer (of ’n skaap!) was.
En nou die draai in vers 7b na die absolute negatiewe uittogprentjie. Net een enkele insident word uitgelig, die opstand van die volk toe hulle nie water gehad het nie (Eks 17). Dit word dan verbind aan Numeri 14 waar die Here uiteindelik besluit om die geslag wat aanhoudend opstandig is, in die woestyn te laat uitsterf voor die volgende geslag die land kan intrek. Dis een van die slegste dinge wat ooit met Israel gebeur het.
Nou die vraag: Waarom nou, in die tempel waar die volk die Here uit volle bors oor sy grootheid (3-5) en sy goedheid (7a) moet loof, waarom juis nou na hierdie smartlike geskiedenis te rug verwys? Kommentare probeer redes gee. Niks is regtig seker nie. My voorstel is die volgende. Ons geestelike hoogtepunte kan ook die gevaarpunte wees vir ons diepste val. Wanneer die lof moet weerklink, is die groot gevaar dat dit lof met die lippe is, maar nie met die hart nie. Petrus val die diepste presies wanneer hy sy hoogtepunt bereik om Jesus as Messias te bely (Matt 16:13- 23). Die profeet wil met die verwysing na hierdie smartlike insident die volk dringend waarsku om die uitbundige lof van harte te gee, en nie maar net te doen wat daar en dan fatsoenlik is nie. Dis maklik om saam met die entoesiaste self ook in te val en “hoog op te gee”, maar is ons eg?
Hier word die negatiewe interpretasie van die uittog dus gebruik as waarskuwing aan die volk. Dis een van die algemeenste gebruike van die uittog. Dit kom oor en oor in talle verbande voor (oa Ps 81).
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König