Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (1)
Alle Paaie lei na Jesus: God se verbond met Abraham (1) – Adrio König
1.2 God se verbond met Abraham
Die begrip “verbond” is dwarsdeur die Bybel bekend. Maar heel spesifiek die verbond van God met Abraham is een van die sentraalste sake in die Bybel, en dit loop ook dwarsdeur die Bybel. Die sinnetjie wat verreweg die meeste in die Bybel voorkom, is die verbondsformule: “Ek sal vir julle ’n God wees, en julle sal vir My ’n volk wees.”
Dit klink alles miskien net te maklik. Daar is tog van meer as een verbond in die Bybel sprake, en die verbond van die Ou Testament word tog in die Nuwe Testament vervang deur die nuwe verbond. Of is dit regtig so?
Daar is inderdaad meer verbonde in die Bybel. God maak met Noag ’n verbond, met Abraham, later met Israel by Sinai, dan die verbond met Josua, met Dawid, en uiteindelik lees ons van die ou verbond en die nuwe verbond. Hoe kan ons dan so maklik van “die verbond” praat? Omdat daar een verbond is wat deurloop tot op die nuwe aarde: die verbond met Abraham. Dit is die verbond wat in die Nuwe Testament na vore kom as dié verbond. Die ander verdwyn almal heeltemal of byna heeltemal langs die pad. Maar Jesus kom as die vervulling van die verbond met Abraham (Luk 1:54-55, 72-75), Hy is die “nakomeling” van Abraham (Hand 3:25; Gal 3:16), deur sy kruis maak Hy die Abrahamverbond vir die heidene oop (Gal 3:14); die doop lyf ons in die Abrahamverbond in (Gal 3:26-29), en op die nuwe aarde sal God die verbond met Abraham finaal vervul (Op 21:3). Om nog een punt te maak: Terwyl Dawid in die Ou Testament baie belangriker is as Abraham, word daar in die Nuwe Testament meer as twee keer soveel na Abraham verwys as na Dawid.
Die laaste rede waarom ons juis God se verbond met Abraham as dié verbond beskou en behandel, is omdat dit sonder meer die genadeverbond is. In die verbond met Noag gaan dit om die bewaring van die natuur, in die verbond by Sinai om die wyse waarop die volk in die verbond moet leef, in die verbond met Dawid om die koms van die Messias, maar in die verbond met Abraham om die geloof en die regverdiging/aanneming deur die geloof. Daarvoor is Paulus ons hoofgetuie (Rom 4). As Paulus ’n voorbeeld wil noem van regverdiging uit genade en deur die geloof, dié manier waarop Paulus ons redding verstaan, is Abraham die voorbeeld wat hy kies (Rom 4:1 ev).
Maar voor ons by die verbond met Abraham kom, eers die vraag: Wat dan voor die tyd? As die mens ’n verbondswese is (hoofstuk 5), hoe is dit dat mense nie van die begin af in ’n verbond met God geleef het nie? Ons moenie te vinnig tot hierdie konklusie kom nie. Dit is wel waar dat die woord “verbond” nie in die eerste hoofstukke van Genesis voorkom nie, maar kom die saak nie dalk wel daarin voor nie? Kom ons kyk na Genesis 2 (hoofstuk 4). Op ’n dor aarde waar dit nog nooit gereën het nie, skep God die mens en maak dadelik vir hom die allermooiste tuin. En as die mens nie onder die diere ’n maat kry nie, maak God vir hom iemand net soos hy, sy gelyke. En dan kom kuier die Here smiddags vir hulle. Intussen verwag Hy van hulle om Hom te gehoorsaam. Is dit nie die wesenlike trekke van die verbond wat later in meer besonderhede in die verbond met Abraham gestalte gaan kry nie? Bestaan hierdie verbond van die begin af in ’n ander vorm?
Die verbond
As eerste punt moet ons kyk na die feit dat ons van ’n “verbond” praat, en nie net ’n verhouding of ’n ooreenkoms nie. Die mens is ’n verhoudingswese, daaroor sal ons nog baie skryf (hoofstuk 5). Maar daaroor praat sosioloë ook, en baie sinvol. Maar die vraag is wat die aard en inhoud van die verhoudings is/behoort te wees waarin die mens leef. Hieroor sal die sosioloë en ander vakwetenskappe hulle nie uitspreek nie. Maar dit is juis wat ons in die Bybel kry. Ons gaan kyk na die drie belangrikste verhoudings waarin die mens leef:
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer: Prof Adrio König