Armoede en rykdom (1)
“There are no ordinary people. You have never talked to a mere mortal. Nations, cultures, arts, civilizations – these are mortal, and their life is to ours as the life of a gnat. But it is immortals whom we joke with, work with, marry, snub, and exploit.” – C. S. Lewis
Armoede en rykdom (1)
‘n Gelowige wat arm is, moet hom daarin verheug dat hy sy aansien in God het, en een wat ryk is, dat hy voor God gering is, want die ryke sal vergaan soos ‘n veldblom (Jakobus 1:9 – 10).
Dié man wat in die wêreld ryk is, moet jy waarsku om nie hooghartig te wees nie. Hulle moet nie hulle hoop op die onsekerheid van rykdom vestig nie, maar op God wat alles ryklik aan ons gee om te geniet. Spoor hulle aan om goed te doen, want, om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. So vergader hulle vir hulle ‘n skat as ‘n goeie belegging vir die toekoms, sodat hulle die ware lewe sal verkry (1 Timoteus 6:17 – 19)
Baie Christene is ongemaklik met besittings en geld. Hulle is bang hulle kom nie hulle verantwoordelikheid na om ander met die goedere tot hulle beskikking te help nie. Hulle wonder of hulle diens aan God nie beter sal wees as hulle arm is nie. Hulle is bang dat die oortollige geld en besittings wat hulle het verkeerd – selfs boos – is. Hoe is dit moontlik dat hulle meer het as wat hulle nodig het, terwyl ander nie eers het wat hulle nodig het nie? Sal hulle nie God meer kan vertrou en groter geloof hê as hulle minder materiële dinge het om op te vertrou nie? Sou hulle God nie beter kon dien as dit nie nodig was om al hulle besittings te versorg nie? Sou ons nie beter af wees as ons soos die wilde voëls was nie:hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle (Matteus 6:26).
Is armoede nie ‘n geestelike dissipline nie? Nee. Om ‘n afgod van armoede te maak, is ‘n gevaarlike illusie vir Christene in ons huidige wêreld. Rentmeesterskap – wat besittings vereis om weg te gee – is die ware geestelike dissipline as ons van rykdom praat.