Psalm 26 (2)

 

The Christian ideal has not been tried and found wanting; it has been found difficult and left untried – G.K.Chesterton

 

Psalm 26 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

26:3 – 5:

Hierdie verse beskryf nou die psalmis se aanspraak op morele integriteit.

3Want ek hou u troue liefde voor oë en ek leef volgens u waarheid.

Om iets voor jou oë te hou, beteken dat ek daaraan aandag gee en dit goedkeur. Die Here se troue liefde is dus ‘n aanmoediging of ‘n reaksie – ek gaan dieselfde probeer doen. Met God se troue liefde in gedagte kan die psalmis nie anders as om volgens sy waarheid te leef nie. Hier verbind die psalmis troue liefde en u waarheid. Hierdie twee vorm ‘n paar.

 

4Ek sit nie met bedrieërs nie, en by die slinkse mense kom ek nie.

Sit en planne maak, word deur optrede gevolg – ons implementeer die planne. Ons moet vermy om saam met bedriërs en slinkse mense te sit. Hierdie aandrang om nie met hierdie soort mense te sit nie, staan teenoor om in God se waarheid te leef.

 

 5Ek het ’n weersin in die byeenkoms van kwaaddoeners, en by goddelose mense sit ek nie.

Hierdie vers maak dieselfde punt, maar sterker: Ek het ‘n weersin. Hy sit nie by kwaaddoeners en goddelose mense waar hulle besig is om hulle planne te maak nie. Hy hardloop eerder in die teenoorgestelde rigting.

 

Die psalmis vermy mense wat verkeerd lewe – bedrieërs … slinkse mense … kwaaddoeners … goddelose mense. Godsdiens bestaan nie slegs uit die vermyding van die kwaad nie, maar ook in doen van die goeie. Die goeie sluit in deelname aan die formele godsdiens in die huis van die Here. Daarna gaan ons in die volgende blog kyk.

 




Vrede vir julle

 

When we speak about freedom we generally make the mistake of asking what we are free from rather than what we are free for. — Emil Brunner

 

Vrede vir julle

In Johannes 20:21 lees ons: “Vrede vir julle!” sê Hy weer vir hulle. Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Hier is drie baie belangrike punte:

  1. Vrede wat alle verstand te bowe gaan

Jesus begin deur aan sy dissipels sy vrede te gee. Dit is die basis vir hulle bediening en vorm die inhoud van hulle boodskap. Wat is hierdie vrede? Hierdie Bybelse sjalom is baie dieper as harmonie in die samelewing. Ware vrede kom ook net vir diegene wat verenig is met Hom wat vrede gee. Hierdie vrede word net in Hom gekry.

 

  1. Die belangrikste sending

Jesus is gestuur voordat Hy stuur.  Op ‘n sekere manier is die Seun besig om sy aardse bediening in ons voort te sit. Sy sending is die fundamentele, noodsaaklike sending. Hierdie sending word nou deur sy volgelinge voortgesit.

 

  1. Jesus se sending as ‘n model

Jesus se sending is ‘n model vir ons eie sending. Daar is natuurlik ook verskille. Hoe sit Jesus se sending in ons voort? Deur ons te bemagrig om te doen wat Hy gedoen het. Dit doen ons onder andere deur te getuig van wat Hy gedoen en geleer het. Ons word in die wêreld uitgestuur om te dien.

 

 




Die Missie van die Kerk (2)

 

There is no absolute independence for man, our nature requires us to serve some master – J. Denney.

 

Die Missie van die Kerk (2)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

Jesus stuur ons uit in die wêreld om wat te doen?

Missie is nie alles wat ons in Jesus se Naam doen nie. Missie is ‘n spesifieke taak wat aan ons gegee is om te vervul. Die Groot Opdrag (meer presies opdragte, want ons kry dit in Matteus 28:16 – 20; Markus 13:10, 14:9; Lukas 24:44 – 49; Handelinge 1:8) kom na Jesus se opstanding en voor sy hemelvaart. Hoekom beklemtoon ons juis hierdie teks as ons van die missie van die kerk praat?

  1. Missie se fondament moet God se opdragte wees. Een misverstand is dat ons glo dat dit wat God in die wêreld doen ons ook moet doen. Baie van dit wat God doen, is gawes waarvan ons net getuig – soos verlossing. Dit beteken nie dat ons nie versigtig aandag gee aan wat God se missie is nie, maar dat dit wat Jesus uitdruklik vir sy dissipels sê om te doen in sy afwesigheid is tog belangriker.
  2. Die plasing van die Groot Opdrag is van strategiese belang – hulle is Jesus se finale woorde op aarde. Dit is belangrik dat dit in drie evangelies en in Handelinge voorkom.
  3. Die Groot Opdrag vat baie van die belangrikste temas in die Nuwe Testament saam. Kyk ons na Handelinge sien ons dat alles in hierdie boek daaruit voortvloei.

Die Groot Opdrag is nie sommer net woorde wat ons aan die einde of die begin van ‘n verhaal kry nie. Hulle vorm die hele verhaal – of as die klimaks waarop alles uitloop (die evangelies) of die fonteein waaruit alles voorvloei.

 

Volgende keer kyk ons nader na wat hierdie Groot Opdrag is.

 




Die Missie van die Kerk (1)

 

The essence of Christian theology is grace, and the essence of Christian ethics is gratitude – G. C. Berkouwer

 

Die Missie van die Kerk (1)

Missie = belangrike opdrag; totaal van die doelstellings, oogmerke van ‘n instelling. Latyn: mittere = stuur – HAT).

Kevin Deyoung en Greg Gilbert het ‘n interessante boek (The Mission of the Church geskryf). Ek gaan ‘n paar blogs hieraan bestee.

 

If everything is mission, nothing is mission – Stephen Neill

Lidmate van die kerk vra soms vir hulleself: Wat probeer ons nou eintlik bereik? Die vraag is ingewikkeld en verdelend. Die woord missie is nie soos verbond en vryspraak of evangelie ‘n Bybelse woord nie. Die Latynse woord mittere stem ooreen met die Griekse woord apostellein van waar ons die woord apostel kry.

 

Wat is die missie van die kerk? Die antwoord hang tot ‘n groot mate af van wat ons bedoel met die woord missie. As missie bloot ‘n sinoniem vir die leef van ‘n getroue Christelike lewe is, kan die vraag op baie maniere beantwoord word. ‘n Meer presiese definisie is egter nodig. Maar waar begin ons? David Bosch (Transforming Mission) kom tot die gevolgtrekking: Ultimately mission is undefinable.

 

Tradisioneel beteken missie dat daar ‘n sender, diegene aan wie die sender gestuur is en ‘n opdrag is. Vir meeste mense beteken missie twee dinge: om gestuur te word en om ‘n taak te ontvang. Gemeentes spandeer baie tyd en geld om missiestellings op te stel. Andreas Kostenberger sê dat missie die spesifieke taak of doel wat ‘n persoon of groep probeer doen, is. John Stott sê dat missie alles is wat die kerk gestuur is om in die wêreld te doen.

Een van die groot gevare is dat die definisie so uitgebrei word dat dit elke goeie ding wat ‘n Christen kan doen, insluit. Kortliks word die missie van die kerk in Jesus se Groot Opdrag aan sy dissipels opgesom. Die kerk word in die wêreld uitgestuur om van Jesus Christus te getuig deur die evangelie te verkondig en dissipels van al die nasies te maak. Dit is die kerk se taak; dit is ons unieke roeping.

 

In die volgende blog gaan ons kyk na die vraag: Jesus stuur ons uit in die wêreld om wat te doen?