Psalm 25 (1)

 

Let your religion be less of a theory and more of a love affair – G.K.Chesterton

 

Psalm 25 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: As ons die Here daarom vra, maak Hy sy weë aan ons bekend.

Hierdie psalm is ‘n gebed. Dit dek die basisse van gebed. Die klem op paaie/weë dui moontlik daarop dat hierdie psalm as ‘n model gebed gedien het – ontwerp om mense te leer om te bid.

 

Hierdie is ‘n alfabetpsalm – in die Hebreeuse teks begin elke reël met die daaropvolgende letter van die alfabet. Net vs 18 en 22 is hierop ‘n uitsondering. Hierdie maak dit uiteraard makliker om die psalm te onthou. Om die psalm in afdelings te verdeel, is arbitrêr.

 

Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie. Dit is moontlik tydens die Tweede Tempel tydperk gebruik. Individue en gemeenskappe was onder druk van ander omliggende gemeenskappe. Wat ons hier kry, is pleidooie vir verlossing ingeweef met pleidooie vir vergifnis. In die psalm kry ons ‘n sterk bewustheid van sonde, daar is baie verklarings van vertroue en ‘n sterk begeerte vir rigtinggewing.

 

In feitlik die helfte van die psalms (72) word daar van vyande gepraat. Vyande is nie net mense wat teen my gekant is nie, maar ook dié wat gekant is teen ‘n lewe volgens God se wil en standaarde. Die digter vra dat God sal keer dat sy vyande hom nie oorweldig nie. Hulle was gekant teen alles waarvoor hy staan. Hy was bang dat die mense sou dink dat dit nie help om vir God te lewe as sy vyande suksesvol is nie. Hy het geweet dat die Here altyd seëvier, maar hy wou nie hê dat sy vyande se sukses ander se geloof nadelig moes beïnvloed nie.

 

25:1 – 3:

In hierdie drie verse kry ons die psalm se aanvanklike kyk na die Here en ‘n stelling van vertroue.

Van Dawid.

Na U, Here, hunker ek.

Hunker na is ‘n teken dat die psalmis sy afhanklikheid erken. Hy lig sy hande en oë op in gebed tot die Here.

 

2my God, op U vertrou ek; laat my tog nie in die skande kom nie; laat my vyande hulle nie oor my verheug nie.

Op U vertrou ek beklemtoon die punt van vers 1. Die rede hoekom die psalmis op God vertrou is dat hy nie in die skande sal kom nie. Hy is bang die gemeenskap sal sy eer aantas; sy vyande sal hulle oor hom verheug.

 

3Ja niemand wat op U wag, sal in die skande kom nie; maar hulle wat sonder rede ontrou is, sal in die skande kom.

In die skande kom, is ‘n voortdurende moontlikheid vir die individu en Israel as geheel. Verse 15 – 21 sal dit duidelik maak dat die psalmis onder persoonlike druk verkeer. Om op die Here te wag, is ‘n belangrike tema in hierdie psalm. Dit is net ‘n ander manier om te sê dat jy op die Here vertrou. Om sonder rede onttrou te wees, is iets wat ons by Job se vriende gekry het. Job het na die Here opgekyk, maar sy vriende verraai hulle verhouding met die Here – sonder rede.

 

 




Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

 

Don’t let success go to your head. Don’t let failure go to your heart. —Tim Keller

 

Geestelike volwassenheid: Geen kortpaaie nie

Ek is veral ook daarvan oortuig dat God, wat die goeie werk in julle begin het, dit end-uit sal voer en dit sal voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom (Filippense 1:6)

Rick Warren sê dat om geestelik volwasse te word ‘n proses is. Vir ‘n gelowige om sy hele lewe aan God oor te gee, vereis tyd. Ons kan dit, net soos fisiese volwassenheid, nie aanjaag nie. Sommige gelowiges, as hulle Christus in hulle lewens innooi, gee aan Hom ‘n vastrapplek in hulle lewens, maar hulle weerstaan Christus se pogings om volledig van hulle lewe besit te neem. Daar is dele van ons lewens wat ons weghou van Hom. Jesus wil saam met ons werk om daardie gebiede wat ons nog nie aan Hom oorgegee het nie, te ontdek.

 

Veranderings, veral geestelike veranderings, gebeur geleidelik en nie sommer onmiddellik nie. As God jou help om geestelik te groei, klap Hy nie net sy vingers en alles is afgehandel nie. Hy doen dit inkrementeel. As God ‘n paddastoel wil maak, neem dit ses uur; as God ‘n akkerboom wil maak, neem dit 60 jaar.

 

DIE Heilige Gees gaan veranderinge in jou lewe maak – baie meer as wat jy gedink het moontlik is. Maar dit gaan nie oornag gebeur nie. Ons moet doelgerig wees. Paulus sê dat ons nuwe skepsels met ‘n nuwe natuur sal word. Ons moet die ou dinge, die ou paaie wat ons verhoed om Christus te leer ken, afgooi. Met die hulp van die Heilige Gees moet ons nuwe klere aantrek. Ons moet toelaat dat God dit vir ons doen – maak nie saak hoe lank dit neem nie.

 

 




Psalm 24 (4)

 

God may not do what we ask, but we must never think it’s because He is not able to do it.—D.A. Carson

 

Psalm 24 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Teologiese Implikasies.

Hierdie psalm bestaan uit drie afdelings en ons moet oor hulle teologiese stellings nadink.

  1. Die wêreld behoort aan die Here en Hy maak dit veilig.
  2. Mense kan die Here se seëninge in die tempel soek as daar integriteit in hulle lewens en hulle verhouding met God en ander mense is.
  3. Sulke mense kan hulle stad aanspoor om die roemryke Koning in hulle midde toe te laat.

Wat interessant is, is dat die Here beide binne die gemeenskap kan wees en aan die deur kan klop. As iemand ‘n menslike wese is, maak God aanspraak op hom/haar. Omdat die wêreld aan die Here behoort, is ons slegs huurders en ons moet ons dienooreenkomstig gedra.

 

Hierdie 3 000 jaar oue psalm het mense deur die eeue geleer dat die hoogste prioriteit in hulle lewe aanbidding van God is. Dit is uit blydskap geskryf, moontlik toe die verbondsark uit Obed-Edom se huis uitgehaal en na Jerusalem geneem is (2 Sam 6:10 – 12). Die Jode het dit heel eerste op die eerste dag van die week in die tempel gesing. Christene gebruik dit dikwels tydens Hemelvaartdag. Vs 7 – 10 word dikwels in gereformeerde kerke tydens Nagmaal gesing.

 

Hierdie psalm is al dikwels getoonset. Dit is tydens gesamentlike aanbidding gebruik. Dit is ook herhaaldelik (? jaarliks) by die tempel opgevoer. Die oorsprong was waarskynlik ‘n lied wat gebruik is as die prosessie van priesters die verbondsark in die heiligdom ingedra het – ‘n jaarlikse fees. Die gebruik is reeds deur Dawid begin – nog voor daar ‘n tempel was (2 Sam 6:12 – 15). Die ark, gebou vir Moses in die woestyn, is teken van God se teenwoordigheid tussen sy volk. Die Filistyne het die ark weggevoer. Dit het gelyk asof God nie meer met sy volk was nie (1 Sam 4:11). Dit was ook die verbondsark – die simbool van God se spesiale verhouding met Israel en later met Dawid en sy afstammelinge wat op die troon gesit het. In diepe dankbaarheid aan God is hierdie seremonie jaarliks herhaal op so ‘n wyse dat almal daaraan kon deelneem – van koning tot eenvoudige burger. So is hulle lojaliteit aan God jaarliks hernu.

 

Sou dit nie goed wees as ons God se genade beter wil verstaan om hierdie woorde buite die toe deur van ons kerk te laat herleef nie. Dan moet ons ook onthou dat hierdie psalm vooruit kyk na die tyd wanneer die poorte van die hemelse Jerusalem vir ewig oopgegooi sal word en almal genooi sal word om in te kom. Dit sal my ook daaraan herinner dat die magtige Koning nie uit die lug gekom het nie, maar daar tussen die mense wat die ark gedra het.

 

In die Ou Testamentiese bedeling het gelowiges na Jerusalem toe gekom om God daar in die tempel te aanbid. Omdat God heilig is, moes die mens wat kom om voor Hom te verskyn, eers aan sekere vereistes voldoen. Ek aanbid steeds dieselfde Skepper-, Reddergod, maar daar is ‘n paar verskille:

  1. Ek kan Hom enige plek aanbid omdat ek deur Jesus Christus toegang tot God het.
  2. Omdat Hy my juis van sonde verlos, is my skuld nie langer ‘n muur tussen my en God nie – Hy het my hande rein en my hart suiwer

 

Wat eers die voorwaardes was om Hom te mag ontmoet, word nou die kenmerke van ‘n Christen se dankbaarheidslewe. Daarom mag ek voor Hom verskyn. Trouens, Hy kom na my toe en ek het die reg om Hom te nader – ja, ek, net soos ek is.

 

 




Word narsisme ‘n deug?

 

In the long run, we shall do more by sometimes doing less. —C.H. Spurgeon

 

Word narsisme ‘n deug?

[Narsisme = Sieklike liiefde vir die self. Narcissus was ‘n buitengewoon aantreklike jong man wat op sy eie beeld verlief geraak het – HAT]

In ons moderne samelewing word die individu hoog aangeslaan – die tyd waarin almal voel dat hulle hulle elke beweging aan almal moet publiseer. Ons publiseer elke beweging op Facebook en meet dan ons waarde volgens die aantal “likes” wat ons kry. Die subteks: “Dit is my lewe en almal moet daarvan weet en daarvan hou!” Die vraag is: Het die pendulum te ver geswaai? Is ons selfbehep – het ons ‘n obsessie met onsself?

 

Jean Twenge en Keith Campbell (The Narcissim Epidemic: Living in the Age of Entitlement) se navorsing toon duidelik dat ons obsessie met onsself besig is om toe te neem. Natuurlik is ‘n realistiese siening van jouself belangrik, maar dit is maklik om oor die lyn te trap. Wat is verkeerd met narsisme? Hier is ‘n paar dinge:

  • ‘n Opgeblaasde siening van jouself laat ons nietighede opblaas. Alles van my moet net te wonderlik wees. Maar as alles so wonderlik is, hoe differensieer ons tussen dinge? Hoe hanteer ons teleurstelling? Hoe kan ons die gewone dinge vier?
  • Nasisme maak ons blind vir die sonde. Dit verhoed dat ons ons behoefte aan vergifnis en verlossing raak sien.
  • ‘n Wêreld oor myself en ek word baie gou te klein.
  • Jesus het geleer dat as ons ons lewe verloor, vind ons dit. Dit klink paradoksaal, maar dit is waar. As alles net oor my gaan, gaan iets binne in my dood.
  • Ek word ‘n verbruiker van dienste waartoe ek voel ek geregtig is. Ek word gefikseer op my regte en vergeet van my verantwoordelikhede.
  • As ek my net met my en my dinge besig hou, vergeet ek van die behoeftes van ander.
  • Ek luister nie na die stories van ander nie. Al waarin ek belangstel is my eie storie.
  • Ek plaas my vertroue in myself. Om Jesus te aanbid en Hom in die middel van my lewe te plaas, verdwyn vinnig.

 

Dit help nie ons praat net oor ‘n probleem nie … ons moet iets daaraan doen. Daar is eenvoudige  hulpmiddels wat ons kan help. Dink ‘n bietjie na oor hoe die hawelose persoon wat buite slaap sy tyd tydens die dag spandeer. Hierdie oefening wat ‘n bewustheid van ander vereis, kan help. Deur hierdie vraag na te vors, word ek aan ‘n nuwe wêreld blootgestel.

 

Is die toename in narsisme nie dalk ‘n teken van ‘n wêreld wat te klein geword het nie? Is dit nie ‘n teken van ‘n wêreld wat nie meer ‘n storie het om my te inspireer nie? Is dit nie ‘n teken dat my lewe buite my eie beperkte parameters moet skuif nie? Miskien moet ons weer daaraan herinner word dat God my liefhet en dat sy liefde die hele wêreld insluit.

 

Daar is baie stories wat vertel kan word. My plek is nie om die hoofrol in elkeen te speel nie. Deur op die kantlyn te staan en ‘n storie wat niks met my te doen het, te vier, is ‘n goeie begin.