‘n Betekenisvolle gebedslewe

 

Courage is almost a contradiction. It means a strong desire to live taking the form of a readiness to die – G.K.Chesterton

 

‘n Betekenisvolle gebedslewe

Sukkel jy om gebed in jou alledaagse lewe in te pas? Die eerste stap om jou gebedslewe te verbeter, is eenvoudig deur dit te doen. Om ‘n goeie gewoonte te ontwikkel is moeilik, maar as dit eers gevestig is skiet dit wortel en begin groei. Daar is veral vier struikelblokke wat ‘n betekenisvolle gebedslewe bemoeilik. Kom ons kyk na hulle.

 

  1. Tyd

“Ék het nie die tyd nie.” Hoe dikwels hoor ons nie die verskoning nie. Hoeveel ure spandeer ons elke dag op ons selfoon en die Internet … en ons het nie tyd om te bid nie. Die beste manier om tyd te kry, is deur ‘n gereelde tyd vas te stel – miskien soggens vroeg of net voor jy gaan slap.

 

  1. Antwoord

Soms soek ons ‘n spesifieke antwoord vir ‘n spesifieke probleem as ons bid. Natuurlik kan God voorsien en genees. Dikwels sien ons nie God se plan vir ons lewens nie, want ons fokus op die antwoord wat ons wil hê – nie die antwoord wat Hy vir ons gee nie. As jy dus bid, moet jy nie vir ‘n spesifieke antwoord vra nie, maar vra dat God se wil gedoen sal word. Bid vir wysheid dat jy sy wil sal verstaan. Dan sal jy geredelik antwoorde vir jou probleme kry.

 

  1. Skuldgevoelens

Ons voel skuldig om God met al ons behoeftes te nader – dit voel asof ons selfsugtig is. Maar wat sê Hebreërs 4:16: Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.

God wil hê dat ons Hom met vrymoedigheid moet nader. God wil ons help, maar dan moet ons gewillig wees om volle beheer van ons lewens te gee. Ons moet Hom volledig vertrou. Eers dan sal Hy in ons lewens kan werk.

 

  1. Krediet

Dit is soms vir ons moeilik om krediet te gee waar dit nodig is. Ons bedank vriende of familie of ons sê dit was geluk. Dikwels eien ons die krediet vir onsself toe. As God jou gebede antwoord, ruim tyd in om Hom die krediet te gee.

 

Daar is geen wonderformule om betekenisvol te bid nie. God is duidelik oor hoe ons moet bid en oor die resultate wat ons kan verwag. Ontwikkel jou daaglikse gebedslewe en sien wat God vir jou kan doen.

 




Want as ek swak is, is ek sterk

 

Art is born when the temporary touches the eternal – G.K.Chesterton

 

Want as ek swak is, is ek sterk

Wat Paulus hier in 2 Korintiërs 12:10 sê, klink duidelik vir ons verkeerd. Hierdie vers sê nie dat swak beter is nie, maar dat swak sterker is. Hoe is dit moontlik? Dit gaan hier oor geestelik gesond/sterk. ‘n Belangrike aspek van geestelike gesondheid is om by ‘n punt te kom waar ons nie meer verder kan nie … en dan op God te vertrou. Ons beskou dinge wat ons tot stilstand ruk gewoonlik as ‘n vloek. Ons is emosioneel en geestelik gesond as ons God in die vloei van ons lewens kan raaksien – ook in daardie moeilike dae.

 

Die breë konteks van 2 Korintiërs 12:1 – 10 is dat ‘n groep vals apostels probeer om Paulus se posisie te ondermyn. In reaksie praat Paulus reguit oor homself, sy toewyding aan God se werk en ook oor sy kwesbaarheid. Op hierdie stadium was Paulus se gesondheid nie goed nie – hy verwys na ‘n doring in sy vlees. Paulus sien dit as ‘n aanslag van Satan. Herhaalde gebede bring geen verligting nie. Hy is egter bereid om God se antwoord te aanvaar: My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.

 

Kom ons kyk hoe maak Paulus vrede met sy swakheid.

 

Stadium 1: Vlug (verse 7 – 8)

Paulus se reaksie op sy swaarkry is natuurlik: vlug. Hy wil daarvan ontslae raak. Hy was immers ‘n doeltreffende apostel en om sy taak uit te voer, het hy goeie gesondheid nodig. Hy sou entoesiasties gebid het, want hy het al baie wonderwerke gesien. Genesing was seker. Hy besef gou dat hy volgehoue gebed nodig het. ‘n Tweede en derde gebedsessie volg – sonder sukses. God antwoord, maar die antwoord was nie juis welkom nie: My genade is vir jou genoeg.

 

God antwoord duidelik, maar Paulus hou nie juis van die antwoord nie. Ons hoor gewoonlik God se stem baie vinnig as hy vir ons vertel wat ons graag wil hoor. Dit is iets heeltemal anders as die antwoord moeilik is. Ons hoor dikwels net wat ons wil hoor. As God moeilike antwoorde gee, is ons reaksie gewoonlik of vlug of ontkenning.

 

Die beginsel is eenvoudig: Ons moet bereid wees om oor enigiets te bid, maar ons moet ook bereid wees om die antwoorde te aanvaar. Baie van die sogenaamde “ontbeantwoorde” gebede is gebede wat geantwoord is, maar ons hou nie van die antwoord nie.

 

Stadium 2: Aanvaarding (vers 9)

Ontkenning kan nie vir altyd duur nie. Paulus se doring in die vlees gaan nie weg nie. Paulus verander nou sy strategie van vlug en ontkenning na emosioneel gesonde geestelikhied. Nou kan ons ons kwesbaarheid as ‘n vriend sien. Dit is makliker gesê as gedoen. Ons kan net God se doel verstaan as ons sekere dinge duidelik verstaan:

  • God is liefde. Al is die reis moeilik sal ons uiteindelik besef dat die reis deur liefde gemotiveer is. Selfs as jy voel day jy nie verder kan nie, het God jou steeds lief.
  • God is almagtig. As ons sukkel is dit nie omdat God nie kan help nie. Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie (Jesaja 59:1).
  • God is alwetend. Niks verbaas Hom nie, want Hy besit al die feite.
  • God is alomteenwoordig. Al voel dit vir ons asof Hy ver is, is Hy steeds by ons.

Ons weet hierdie feite is waar, maar ons harte is soms onseker. Ons moet ons gereeld aan die trou van God in ons lewens herinner.

 

Ons geloofsreis is ‘n reis waartydens ons ontdek dat God vir ons is. Die probleem is dat vrees veroorsaak dat ons dit vergeet. ‘n Skielike krisis en ons vergeet al die jare wat God getrou was. As dit gebeur, moet ons terug dink aan wat God alles in die verlede vir ons gedoen het.

 

Dit is die strategie wat Paulus hier volg. In vers 1 – 7 praat hy van wegruk tot in die derde hemel. In antieke tye was dit die plek waar God gewoon het. Paulus sê dat hy in die teenwoordigheid van God was. Paulus noem dit voor hy van sy huidige probleme praat, want in die lig van alles wat hy gesien het, hoekom sou hy hom oor tydelike probleme ontstel? Onthou dit waarvan Paulus hier praat het veertien jaar vantevore gebeur. Hier kry Paulus sy sterkte by ‘n gebeurtenis wat 14 jaar gelede plaasgevind het.

 

Hoe aanvaar ons God se doel? Deur in die karakter en liefde van God te vertrou. Ons onthou dit as ons onthou van alles wat God vir ons gedoen het.

 

Stadium 3: Kry nuwe hulpbronne van krag (vers 1 – 7)

Die gedeelte eindig op ‘n optimistiese noot: As ek swak is, is ek sterk, Hoekom? Sy swakheid maak hom van God afhanklik. In plaas van vra hoekom as jy swaarkry, vra eerder: “Here, hoe kan my huidige swakheid verander word in krag ter verheerliking van U?” Jy sal verbaas wees oor hoeveel bronne van krag en seën na vore kom.

 

Paulus het nog 12 jaar na hierdie episode geleef – 12 vrugbare jare. Miskien moet ons 2 Korintiërs 12:7 – 10 weer stadig lees. Wat beteken dit om stadig te lees? Dit is ‘n ou geestelike tradisie. ‘n Kort Skrifgedeelte word gelees en herlees. Soms word net ‘n paar woorde gelees; soms gaan ons terug en herhaal hulle. Ons praat so baie van die Skrif, maar ons laat nie toe dat die Skrif met ons praat nie. As ons luister na die Gees wat deur hierdie verse praat, mag ons krag kry in ons beproewing. Dan kan ons ons beproewing hanteer deur ‘n krag wat van buite ons kom.

 

 

 

 




Die verskil tussen die Christelike en ander godsdienste

 

Don’t ever take a fence down until you know the reason it was put up – G.K.Chesterton

 

Die verskil tussen die Christelike en ander godsdienste

As daar een ding is wat ons uit die geskiedenis leer, is dit dat die mens godsdienstig is – hy jaag geestelike dinge na. Ons kan ‘n ellelange lys van figure wat die mense aanbid het, opstel. Vandag hoor ons dikwels die volgende stelling: Die verskillende wêreldgodsdienste verskil nie werklik van mekaar nie: daar is probleme in die wêreld; daar is ‘n oplossing; daar is ‘n god wat aanbid word.

 

Natuurlik is daar ooreenkomste tussen die verskillende godsdienste, maar die Christelike godsdiens verskil van hulle almal. Daar is veral drie belangrike verskille wat van belang is,

 

  1. Die Skeppergod is die stigter van die Bybelse godsdiens

Die Skeppergod het sy plan om ‘n weg vir die gevalle mensdom te voorsien om in die regte verhouding met Hom versoen te word, voortgesit vanaf die skepping. Die Christelike geloof is die progressiewe uitwerking van God se genadige verlossingsplan, Toe Jesus Christus 2000 jaar gelede op die toneel verskyn het, was dit nie die begin van ‘n nuwe godsdiens nie – dit was die vervulling van God se verlossingsplan. Jesus Christus sit net die verlossingsplan voort. Hierdie plan is begin lank voor die bestaan van die mens. Wat die Christelike geloof van ander gelowe onderskei, is dat geen mens dit ontdek en ontwikkel het nie – God is die stigter en onderhouer.

 

  1. Die Skeppergod doen die verlossingswerk in die Christelike geloof

Normaalweg beskryf verlossing die manier waarop die mens verlossing van wat verkeerd is, ondervind. Ander godsdienste beskryf ‘n groot verskeidenheid van verlossingspaaie. Jy moet probeer om ‘n goeie mens te wees … en jy definieer wat goed is. Die besonderhede mag verskil, maar verloosing is gewoonlik die gevolg van die mens se inspanning. In die Christelike geloof is dit God wat die verlossing bewerk. Hy is die argitek van en die instaatsteller van die mens se verlossing. Die mens is die ontvanger van God se verlossingswerk. Die mens het nie die vermoë om homself te verlos nie – hy is onwillig om dit te doen. Verlossing vereis iets buite die mens se natuur. Daarom moet God optree – en Hy het. Jesus Christus wat mens geword het doen die sentrale werk in God se verlossingsplan. Hy is in staat en gewillig om dit te doen. Hy alleen is gekwalifiseerd om dit te doen.

 

Teologies kan ons sê dat die Christelike geloof die godsdiens van “soewereine genade” is. Soewerein verwys na God se heerskappy. Genade verwys na ‘n voordeel wat gegee word al is dit onverdiend. Dit beskryf wat God vir die mens bereik het. Verlossing is God se werk. Dit is ‘n belangrike verskil tussen die Christelike godsdiens en ander godsdienste.

 

  1. Die Skeppergod doen die werk van bekering in die Christelike geloof

Geen mens in die geskiedenis is nog ooit deur die werk van ‘n mens bekeer nie. Soomige mag sê dat bekering in die geskiedenis met geweld versprei is – die Kruisvaarders. Ander mag sê dat bekering die gevolg van kulturele en sosiale druk was. Opregte bekeerlinge kan nie vervaardig word nie. Bekering kan net deur die mag van God geskied. Natuurlik is mense instrumente wat deur God gebruik word in bekering, maar hulle is net dit – instrumente in God se hand. Die Christelike godsdienis is nie een van uitwendige verbetering nie, maar van ‘n inwendige hergeboorte. Die toestand van die mens vereis meer as net verbetering – dit vereis ‘n nuwe lewe/skepping. Die mens kan homself nie herskep nie. Dit kan net God in sy soewereine genade doen.

 

Die groot verskil tussen die Christelike en ander gelowe is die werk van die Skeppergod – sy verlossingswerk en sy bekeringswerk.




Die lewe in oorvloed

 

 “Now, we must not worship without study, for ignorant worship is of limited value and can be very dangerous. We may develop “a zeal for God, but not according to knowledge” (Rom. 10:2), and then do great harm to ourselves and others. But worship must be added to study to complete the renewal of our mind through a willing absorption in the radiant person who is worthy of all praise. Study without worship is also dangerous, and the people of Jesus constantly suffer from its effects, especially in academic settings. To handle the things of God without worship is always to falsify them.” – Dallas Willard

 

Die lewe in oorvloed

Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê en dit in oorvloed (Johannes 10:10).

As dit Jesus se doel op aarde was, beteken dit nie dat dit ook ‘n doel van die kerk behoort te wees nie? Baie mense leef nie die lewe in oorvloed nie. Baie mense se skedules is vol, maar dit is nie ‘n lewe in oorvloed nie. Om ‘n lewe in oorvloed te lewe, begin by Jesus. Daar is nie ‘n oorvloedige lewe sonder Hom nie. Verlossing is die beginpunt van ‘n oorvloedige lewe. Daar is baie onvervulde gelowiges en dit belemmer ons getuienis aan die wêreld.

 

Na verlossing is ‘n vervulde lewe een waarin vier basiese behoeftes hanteer word. God het die liggaam van Christus geroep om hierdie behoeftes te hanteer. Die kerk is toegerus om dit te doen.

 

  1. Ondersteuning

Almal wil weet dat hulle nie alleen is nie. Daar is baie faktore in vandag se lewe wat veroorsaak dat mense alleen is.

  • Verstedeliking – ons woon in stede en ken nie eers ons bure nie.
  • Spesialisasie – ons skei mense in verskillende groepe en so isoleer ons ons nog verder.
  • Die afbreek van die familie – ons het van die uitgebreide na die kernfamilie na die enkel ouer binne ‘n paar geslagte beweeg.
  • Materialisme – dinge is vir baie mense belangriker as mense.

Mense kom na die kerk, want hulle wil iewers behoort. Hulle wil nie alleen wees nie. Dit is waar die kerk belangrik is. God het die kerk ontwerp om ‘n familie te wees.

 

  1. Stabiliteit

Mense soek ‘n sterk fondament waarop hulle hulle lewens kan bou. Die moderne mens glo nie meer in absolute waarhede nie, maar daarsonder ondervind jy net angs en spanning. Hulle sal dit miskien nie erken nie, maar mense soek beginsels waarop hulle hulle lewe kan bou. Ons moet mense leer dat God se woord daardie soort gesag is. Dit is ‘n anker waarop ons kan vertrou as die lewe rof raak.

 

  1. Selfuitdrukking

God het aan elkeen ‘n unieke stel gawes, passie, vermoëns, persoonlikhede en ondervindings gegee. Hy gee ook aan ons ‘n begeerte om uitdrukking te gee aan ons uniekheid. Daarsonder is ons gefrustreerd en ontevrede. Baie mense vandag is verveeld. Hulle het geen geleenthede om hulle uniekheid uit te druk nie. As hulle kerk toe kom, hoop hulle die kerk sal hulle help om hulle uniekheid uit te druk. Die kerk moet hulle help om hulle uniekheid te ontdek en daarvolgens te bedien.

 

  1. Betekenisvolheid

Ons almal wil weet dat ons lewens iets beteken; ons wil almal deel wees van iets groter as onsself. Die kerk moet hierdie emosionele behoefte van mense hanteer Ons is deel van ‘n groot roeping – om die goeie nuus van God se koninkryk te versprei. Ons moet mense help om hulle unieke plek in hierdie roeping te bepaal.

 

Want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:13). God het ‘n doel met ons lewens. Help mense om dit te ontdek. Daarmee kan die kerk help. ‘n Gemeente gebou om die Bybelse doelwitte van die kerk, sal hierdie behoeftes hanteer. ‘n Gemeente toegewy aan:

  • Gemeenskap hanteer die behoefte aan ondersteuning;
  • Dissipelskap hanteer die behoefte van stabiliteit;
  • Die mobilisering van sy lidmate vir bediening hanteer die behoefte van selfuitdrukking; en
  • Evangelisasie en sending hanteer die behoefte van betekenisvolheid.