Wat doen ‘n profeet?

 

If you judge people, you have no time to love them. Moeder Teresa

 

Wat doen ‘n profeet?

[Ek gaan Jesaja as model gebruik.]

Die openingsvers van Jesaja verklaar dat dit  ‘n openbaring is. ‘n Profeet is iemand wat iets gesien het en hy het dit gesien, want God het dit moontlik gemaak. Dit is asof God ‘n venster na die hemel oopgemaak het. In Hoofstuk 6 sê Jesaja hoe die Here hom na die mense toe gestuur het. Hy het die Here op ‘n hoë troon sien sit. Skielik besef hy dat hy die Koning, die Here die Almagtige gesien het. Hy was angsbevange. ‘n Profeet sien visioene/openbarings.

 

Maar Jesja bestaan uit ‘n versameling van woorde. Die boek verskuif baie vinnig van praat van ‘n openbaring na die Here het gesê (1:2), luister na die woord van die Here (1:10), dit is die Here wat dit gesê het (1:20), daarom sê die Here (1:24). Die Here kommunikeer sy boodskap in woorde. In Jesaja se visioen in Hoofstuk 6 hoor Jesaja die Here se stem. Die gevolg was dat hy aangebied het om die Here se boodskapper te wees. ‘n Boodskapper se taak is om vir sy heerser/koning te praat met sy heerser se gesag. So word die heerser se doel geïmplementeer. Deur te praat, tree die profeet op.

 

As ‘n profeet ‘n boodskap inlei met die Here het gesê is dit die woorde van die heerser/koning se verteenwoordiger. Die boodskapper het die heerser se woorde gehoor en dra dit oor Die heerser laat dit aan sy verteenwoordiger oor om die besondere woorde self te kies, maar hulle het steeds die heerser se gesag. Dieselfde geld vir die Here en die profeet. Die Here gee die kern van die boodskap en die profeet stel dit dan in sy eie woorde. Hierdie woorde het dan die gesag van die Here.

 

Jesaja gee vir ons ‘n openbaring en woorde van die Here. Dwarsdeur die boek kry ons dan die taal van sien en praat. Jesaja bestaan uit verhale van wat die profeet gedoen het en wat met hulle in hulle bediening gebeur het. Maar dit bevat ook verslae van wat God vir hulle aan hulle gegee het om te sê en hulle in staat gestel het om te sien Dit is die Here se openbaring en sy woord.

[Ek het onder andere gebruik gemaak van Isaiah van John Goldingay.]

 

 




Die voorbeeld van die vyeboom

 

We will never be so holy as to meet God’s standard and we are never too wicked as to be beyond his rescue. —Paul Tripp

 

Die voorbeeld van die vyeboom

As deel van Jesus se profetiese rede lees ons in Markus 16:28 – 31 van die voorbeeld van die vyeboom. Jesus maak Hom gereed om te sterf. Sy dissipels verstaan nog nie mooi wat Hy hulle aangaande die koninkryk van God geleer het nie. In die gedeelte net voor hierdie een het Jesus sy dissipels geleer oor sy wederkoms. Net na hierdie gedeelte van die vyeboom sê Hy: Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, selfs nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. Net die Vader weet dit (13:32).

 

Die profetiese rede van Jesus is in reaksie op ‘n vraag van die dissipels nadat Jesus gesê het dat die tempel afgebreek sal word (13:2). Jesus sit op die Olyfberg regoor die tempel. Van sy dissipels vra vir Hom: Sê vir ons, wanneer sal dit gebeur en wat sal die teken wees van wanneer dit alles voleindig gaan word? In die eerste deel van sy antwoord praat Jesus oor die vernietiging van die tempel wat primêr op die vernietiging van Jerusalem fokus (13:5 – 23). In die tweede deel van sy antwoord fokus Jesus op sy wederkoms en die kosmiese gebeure wat daarmee gepaard sal gaan (13:24 – 27). Jesus het hulle van rampe en vervolging en ‘n groot verdrukking wat oor Jerusalem sal kom, vertel. Na die verskriklike gebeure sal Hy weer kom en verbasende kosmiese tekens sal met sy wederkoms gepaard gaan. Dit is hierdie onderrig oor die toekoms wat ons by die verhaal van die vyeboom bring.

 

Leer die les van die vyeboom: Sodra sy takke begin sag word en blare uitstoot, weet julle dat die somer naby is (Direkte Vertaling). In die lente maak die sap die tak wat in die winter hard en droog was, sag. Dan begin dit die blare uitstoot. In die Palestina van destyds was dit algemene kennis – vyebome was baie algemeen. Hier het ons ‘n eenvoudige analogie uit die natuur wat Jesus gebruik om ‘n punt te maak. Soos jy weet die somer is naby as die vyeboom blare uitstoot, kan die gelowiges in Jerusalem weet dat die vernietiging van die stad naby is as hulle die tekens wat Jesus pas beskrywe het, sien. Jesus maak dit nog duideliker as Hy die toepassing van die les vir sy hoorders verduidelik.

 

So moet julle ook, wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, weet dat dit naby is, voor die deur. Hierdie verwys uit wat ons uit die voorafgaande kan aflei na die vernietiging van Jerusalem. Toe Jesus gesê het dat die tempel afgebreek gaan word, het sy dissipels gevra wanneer dit sal gebeur: Wanneer sal die tempel afgebreek word.

 

 Amen, Ek sê vir julle: Hierdie geslag sal beslis nie tot ‘n einde kom voordat al hierdie dinge gebeur het nie. Ons gaan weer terug na die dissipels se vraag oor die vernietiging van die tempel en daarmee gepaard die vernietiging van Jerusalem – hierdie dinge.  Jesus maak dit duidelik dat hierdie dinge nog in hulle leeftyd gaan plaasvind. Hierdie dinge kan dus nie na Jesus se wederkoms verwys nie. Ons weet Jerusalem is in die jaar 70 vernietig. Dit is nog binne die leeftyd van hierdie geslag. Dit mag wees dat die verdrukking wat met die vernietiging van Jerusalem gepaard gegaan het net ‘n voorafskadu was van die groot verdrukking voor Jesus se wederkoms. Jesus sê vir hulle dat dit wat eens baie belangrik in hulle lewens was onder die Ou Verbond – die tempel – binnekort sou verbygaan. Dié belangrikste sal egter nooit verbygaan nie.

 

Die hemel en die aarde sal tot ‘n einde kom, maar my woorde sal beslis nie tot ‘n einde kom nie (Direkte Vertaling). Hierdie sou ‘n verbasende stelling vir baie gewees het. Jesus sê dat sy woorde is soos die woorde van God. God se woorde staan vir altyd, want God staan vir altyd. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).

 

Wat is die primêre lesse wat Jesus wil hê ons uit hierdie gedeelte moet leer?

  1. Ons kan vertrou dat die toekoms vas in die hande van ons oppermagtige Here is. Niks sal Hom onverwags betrap nie. Die verdrukkings en hartseer van hierdie lewe dien sy groter doel. Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hy liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Ons moenie bekommerd wes as dinge om ons oënskynlik inmekaar stort nie.
  2. Omdat die Here die toekoms ken, kan Hy ons waarsku van dinge wat gaan kom, sodat ons voorbereid is om dit te hanteer. Hy sal ons help om voorbereid te wees vir die dinge wat gaan kom.
  3. Ons kan op die woord van die Here vertrou as die vaste fondament vir ons lewe en hoop vir die toekoms.

 

Dit laat elkeen van ons met ‘n besluit om te neem. Sal ons op Jesus Christus en sy woord vertrou of gaan ons ons lewens op die sand van die wêreld en sy leuens bou?

 

 

 

 

 




Christene hoef nie oor alles te praat nie

 

I alone cannot change the world, but I can cast a stone across the waters to create many ripples. Moeder Teresa

 

Christene hoef nie oor alles te praat nie

In ‘n wêreld vol geweld, haat en verdeeldheid is dit moeilik om te weet wat om te sê en wanneer om dit te sê. Christene gee dikwels hulle menings – ingelig of nie – oor sake wat gebeur. Dit is noodsaaklik dat Christene belangrike sake hanteer vanuit ‘n Bybelse perspektief. Maar om oor elke klein dingetjie jou mening te lug, is nie noodwendig ‘n goeie ding nie.

 

Wat moet ons doen in gevalle van geweld en terreur? Christene het ‘n verantwoordelikheid om op hierdie sake te reageer, nie met ons persoonlike menings en waardes nie, maar met die hart van God en die waarheid van die Skrif. Ons is God se verteenwoordigers op aarde. Mense oordeel dikwels vir God oor wat hulle in ons sien en hoor. Ons moenie bombastiese uitsprake lewer nie; ons moet altyd ander in aanmerking neem in ons antwoorde. Maar ons kan ook nie die wêreld om ons eenvoudig ignoreer nie. Jesus sê dat ons sout en lig in die wêreld moet wees. Ons moet so optree veral as ons die kultuur om ons hanteer.

 

Vermy uitsprake oor politiek so ver as moontlik. Politiek is van nature verdelend. Daar gaan altyd mense wees wat van jou verskil. Ons moet versigtig wees om by politieke sake wat niks met die koninkryk van God te doen het, betrokke te raak.

 

Hoe besluit jy oor watter sake jy moet praat of nie?

 

  1. Is dit nodig om dit te sê?

Net omdat dit in die media is, beteken nie dat dit bespreek moet word nie. Dit is beslis nie voordelig om alles te bespreek nie. Is dit die moeite werd om te bespreek? Is dit wat jy wil sê van waarde? Sal dit wat jy wil sê help met die verstaan van die Bybel, verhoudings, genesing of groei?

 

  1. Wat sê die Bybel?

Wanneer jy beslis moet praat, is as daar onderwerpe is wat verband hou met Bybelse waarhede. Soms bied die wêreld vir ons geleenthede om tydige, relevante boodskappe te verkondig. Gebruik hulle. Maak net seker dat jou menings Bybels akkuraat is en die liefde van God uitdruk.

 

  1. Eer dit vir God?

Dawid het twee geleenthede gehad om vir Saul dood te maak. Hy weier, want dit sou nie vir God geëer het nie. Soms is dit wat vir ons na die regte dinge om te doen, lyk, nie die Goddelike ding om te doen nie. Ons primêre kommer is om  God te eer en te gehoorsaam. Spandeer tyd in gebed om te bepaal of God wil hê jy moet praat of stilbly. Laat Hy jou lei.

 

  1. Oorweeg jou vooroordele

Praat jy omdat dit vir jou persoonlik ‘n sensitiewe saak is? Is dit jou eie agenda? Oppas vir daardie projekte waarvoor jy ‘n passie het.

 

  1. Vra jouself af waarom?

Hoekom wil jy praat of stilbly? Maak seker van jou motivering. Dit is maklik om stil te bly omdat jy lui of bang is. Dit is maklik om te praat omdat jy kwaad of trots is. Die “waarom” is belangrik. Kry raad by ander gelowiges. Jy hoef nie alleen te besluit nie.

 

Daar is tye wanneer jy spyt sal wees oor jou stilswye. Daar is tye wat jy spyt sal wees omdat jy gepraat het. Ons gaan foute maak. Wat verkeerd is, is om nie die belang van wat ons doen, te oorweeg nie en hoe wat ons sê ‘n impak het op hoe ander mense Jesus sien. Wat ons sê is belangrik. As ons vir Jesus leef, moet ons sy waarheid met die wêreld om ons deel.

 




My oortuigings

Sin tastes sweet but turns bitter in our stomachs. Holiness often tastes bitter but turns sweet in our stomachs. —Gary Thomas

 

My oortuigings

Die basis vir ons besluite is of omstandighede of kritiek of oortuigings of wat gemaklik is. Net besluite wat op oortuigings gebaseer is, sal staande bly en ‘n nalatenskap laat. Mense wat die grootste impak op die wêreld gehad het – goed en sleg –  is mense met die sterkste oortuigings. Hulle was nie noodwendig die slimste of rykste of selfs bekendste mense nie.

 

As jy oortuigings wil bou, moet jy hulle bou op iets wat staande sal bly. Alles verander; ons leer meer en meer. Daar is net een ding wat nooit verander nie: die waarheid van God. Gras verdor en blomme verwelk, maar die woord van ons God bly vir ewig (Jesaja 40:8).

 

Rick Warren noem ses oortuigings waarop ‘n gemeente gebou moet word.

  1. Dit gaan alles oor God

Dit gaan nie oor ons of inkomste of politiek of enigiets anders nie. Dit gaan alles oor God. As ons dit nie aanvaar nie, gaan ons bediening nooit sin maak nie. Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Romeine 11:36) Dit gaan nie oor die dinge wat die wêreld dink belangrik is nie. Om God lief te hê, is belangriker as enigiets anders. Dit is my eerste prioriteit. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod (Matteus 22:37 – 38).

 

  1. Net die kerk sal vir altyd bestaan

Op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie (Matteus 16:18). Alles op aarde vergaan. Geen nasie bestaan vir altyd nie. Oor ‘n duisend jaar sal selfs baie van die goeie Christelike organisasies al verdwyn het. Niks wat die mens gemaak het, bestaan vir altyd nie. Natuurlik is daar verskille tussen kerke, maar ons moet alle kerke liefhê. Liefde is belangriker as persoonlike verskille in die kerk. Ons moet ons broers en susters in Christus liefhê.

 

  1. God verwag van my om ook ander lief te hê

Die lewe is nie oor die verkryging van dinge nie; dit gaan nie oor gewildheid nie. Dit gaan oor liefde. Jesus sê dat die tweede groot gebod is om jou naaste lief te hê. Wie is my naaste? Almal. Ek het nie toestemming om sekere mense nie lief te hê nie. Dit sluit in mense wat van jou verskil, mense wat moeilik is. Dit is maklik om mense wat met jou saamstem lief te hê. Maar Jesus sê dat ons selfs ons vyande moet liefhê. Dit is moeilik om mense wat jou sleg behandel lief te hê, maar dit is wat Jesus van ons verwag.

 

  1. Die hele wêreld het vir Jesus nodig

Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels (Matteus 28:19). Geen nasie is uitgesluit nie. As die hele wêreld dan vir Jesus nodig het, moet ons sy goeie nuus oral verkondig. Dit moet gelowiges se prioriteit in die lewe wees. Ons moet ophou om vir onsself te leef en vir Jesus leef. Onthou alle mense is vir God waardevol.

 

  1. By God is alles moontlik

Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matteus 19:26). God wag vir ons; Hy wag dat ons Hom sal vertrou; God wil jou gebruik; Hy wil verbasende dinge in jou lewe doen. Jy moet net ophou sê: Ek kan nie. Alles is moontlik vir diegene wat in God glo.

 

  1. Die einde van die geskiedenis is onvermydelik

Die Bybel sê vir ons hoe dit gaan gebeur – ons gaan permanent by God wees. Aan die einde oorwin God.

 

Wat is jou oortuigings wat alles wat jy in die gemeente doen bepaal?