Psalm 22 (6)

 

It is never my custom to use words lightly. If twenty-seven years in prison have done anything to us, it was to use the silence of solitude to make us understand how precious words are and how real speech is in its impact on the way people live and die. –Nelson Mandela

 

Psalm 22 (6)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:23 – 32: Die psalmis vra die gemeente om saam met hom die Here te loof.

23Ek wil u Naam verkondig aan my broers; in die byeenkoms wil ek U loof:

Hier kry ons die belofte van die psalmis om die Naam van die Here te verkondig. Die psalmis is deel van die gemeenskap en nie meer deur hulle uitgewerp nie. Die verwysing na broers en die byeenkoms wys vir ons dat die lof van God ‘n korporatiese  saak is – dit behels om God voor ander mense te verheerlik.

 

Nou neem die psalm ‘n buitengewone wending. Die psalmis bevestig dat die Here Israel se grootste lof toekom. Hier sien ons weer die psalmis se verhouding met die gemeenskap van wie hy vantevore uitgesluit was.

 

24Loof Hom, julle wat vir die Here ontsag het! Vereer Hom, hele nageslag van Jakob! Dien Hom met eerbied, hele nageslag van Israel.

Die fokus is hier op die erkenning van die Here aan wie Israel gereeld toegewy is: loof (entoesiasme), vereer (erkenning van die Here se heerlikheid) en eerbied (‘n gevoel van onderwerping).

 

25Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie, maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.

Die belofte (vers 23) en die oproep (vers 24) verwys na wat die Here vir die psalmis gedoen het.Die psalmis het nog geen teken van God se reaksie gesien nie. Hulle baseer hulle geloof op wat die Here in die verlede gedoen het. In geloof maak die psalmis die verklaring in vers 25. Die Here sou geregtig wees om sekere  standpunte af te keer – veral die gebede van mense wat ander gode aanbid. Hy kan egter nie hierdie standpunt teen die lyding van die magteloses inneem nie. Nie geminag of misken nie beteken Here het nie sy gesig vir die magteloses verberg nie – Hy hoor hulle smeking.

 

26 U is die rede vir my lofprysing in ‘n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het.

Die psalmis se rede vir lofprysing kom van die Here Die psalmis se uitdrukking van lof kom ooreen met die Here se optrede. Dit vind in ‘n groot byeenkoms plaas … in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het. Soos met menslike verhoudings is woorde belangrik, maar dit mag nie al wees nie. Danksegging was vergesel van ‘n dankoffer.

 

27Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die Here loof. Mag julle harte vir altyd leef!

Verdruktes en mense wat die Here loof is parallelle. Hulle soek hulp by die Here – dit is wat verdruktes doen. Verdruktes beteken hulle het geen status in die gemeenskap nie, moontlik as gevolg van armoede. Jesus se reaksie is die rede waarom hulle Hom loof. Die verwysing na die groot byeenkoms (vers 26) mag beteken dat die psalmis hier na die groot offermaaltye verwys. Verdruktes word uitgenooi om in geloof te leef soos die psalmis gedoen het.

 

28Almal op die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die Here bekeer: Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig,

Die implikasies van die Here se optrede vir die psalmis en ander wat hulp by Hom soek, word nou tot die hele wêreld uitgebrei. Wat die Here vir die swakkes en verdruktes doen vertel vir ons  iets baie belangrik van Hom. Die wêreld moet daaroor nadink en hulle dan tot die Here bekeer. In aanbidding buig is ‘n ander manier om dieselfde te sê. Dink … bekeer … neerbuig geld hier vir die wêreld.  Hier word gesien dat die nasies soos Israel dink.

 

29want aan die Here behoort die koningskap, Hy is die Heerser oor die nasies.

Die rede vir hierdie onderwerping van die nasies is dat die Here die hele wêreld regeer.

 

30Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel. En wie nie die lewe behou nie.

Alle sterflinge – letterlik almal wat neerdaal na die stof. Hier word die onderweping aan die Here beskryf in terme van sosiale groepe en nie nasies nie. Teenoor die swakkes is die rykes – hulle wat oordadig leef. Hulle buig in aanbidding neer, want hulle erken die bron wat hulle onderhou. Sterflinge beteken gewoonlik mense wat in gevaar is om te sterf. Dit is die posidie van verdruktes. Al die groepe buig voor die Here as gevolg van wat hulle sien en hoor van die psalmis. Dit bemoedig hulle dat hulle pad na die dood gestop kan word.

 

31sy nageslag sal Hom dien. Hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag.

As mense wat nie hulleself kan help om te bly lewe nie draai hulle na die Here. Die gevolg is nie net hulle oorlewing nie, maar hulle nageslag sal ook die Here dien. Hulle hoor wat die psalmis se God vir die swakkes doen. Hulle sou nie sonder God kon bestaan nie.

 

32Hulle sal kom en sy regverdige optrede bekend maak aan die mense wat nog gebore moet word: Hy het dit gedoen.

Die proses kom nou tot sy einde. Ons besef dat ons nog die hele tyd van die Here se trou gepraat het. Die psalmis het dit aanvanklik nie besef nie, maar toe sien hy dit in God se optrede – eers net in geloof en later in werklikheid. Bekend maak wys dat die ketting van verkondiging uitgebrei sal word van die individu na die gemeenskap. En van die huidige na die toekomstige. Hy het gedoen maak dit duidelik dat die Here se trou nie net abstrak is nie, maar ‘n daad is.

 

 

 




Hoekom preek ons

 

The church is not a store, where everyone can obtain supply for all his needs at will.” –Abraham Kuyper

 

Hoekom preek ons

Dit word beweer (verkeerdelik) dat Franciskus van Asissi gesê het: “Waar jy ook al gaan, verkondig die evangelie. Indien nodig, gebruik woorde.” Hierdie aanhaling word veral gebruik om te sê dat woorde goedkoop is, maar wat werklik saakmaak, is dade. Ons leef vandag in ‘n tyd waar mense agterdogtig oor woorde is. Baie openbare figure skryf nie hulle eie toesprake nie – bedoel hulle enigsins wat hulle sê? Geen wonder mense is sinies oor woorde nie. Moet ons dan nie maar hierdie raad volg nie: doen goeie dade en gebruik woorde oor Jesus net as dit absoluut noodsaaklik is?

 

Oppas vir hierdie of – of strik. As ek die een doen, moet ek nie die ander een doen nie. Lees ons die Skrif is dit duidelik dat ons beide moet doen. As jy wil weet of die kerk iets moet doen, moet jy dit deur drie lense filtreer: die Skrif, die tradisie van die kerk en die insig van die huidige kultuur. Hierdie drie is nie van gelyke belang nie.

 

Eerstens: Die Skrif is die belangrikste – begin altyd by die Bybel. Kom ons kyk na Romeine 10:14 – 15: Maar hoe kan ‘n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo, as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.” Let op die stapsgewyse logika van Paulus se argument.

 

In die Nuwe Testament word die koms van Jesus eerstens deur ‘n prediker – Johannes die Doper – aangekondig. Sy prediking kan dien as model vir predikers:  sy prediking berei die mense vir Jesus Christus voor. Jesus self was ‘n rondreisende prediker wat dikwels van gelykenisse gebruik gemaak het om met die skares wat na Hom kom luister het, te verbind.

 

Ons lees van predikers wat gepreek het ten spyte van persoonlike risiko’s. Soms is die reaksie positief – dink aan Petrus se preek op pinksterdag in Handelinge 2 waar 3 000 tot geloof kom. Dan was daar preke soos Paulus se preek in Troas waar Eutigus op die vensterbank aan die slaap geraak het en tot op die grond geval het (Handelinge 20).

 

Ons eerste toets was om vas te stel wat die Skrif sê. Ons word duidelik gesê dat daar moet gepreek word. Jesus, die apostels en die vroeë kerk het gepraak.

 

Tweedens: hier kyk ons na die tradisie van die kerk.  God het die kerk oor die afgelope 2000 jaar gelei. As die kerk iets vir ‘n baie lang tyd gedoen het, is dit waarskynlik die manier waarop die Heilige Gees die kerk gelei het. Prediking was nog altyd deel van die geskiedenis van die kerk. Daar was nog altyd prediking gerig op diegene wat Jesus nog nie geken het nie, maar ook vir diegene wat Hom reeds geken het.

 

Derdens: die kultuur. Die kultuur kan nie vir die kerk sê wat hy kan doen nie. Wat die kultuur wel kan doen, is om vir die kerk te sê hoe om dit te doen. Die kultuur verander. Daar was ‘n tyd toe mense ure lank na preke geluister het. Mense luister vandag anders as ‘n geslag gelede. Die een is nie reg en die ander verkeerd nie – die kultuurkonteks het net verander.

 

Moet ons preek in ons kerke? Al drie lense – Skrif, tradisie en kultuur – bevestig dit.




‘n Kwaai preek

 

Human jealousy is a vice, but to share divine jealousy is a virtue – Murray J. Harris

 

‘n Kwaai preek

Baie jare gelede het ‘n aantal regeringsamptenare in Den Haag Van Courtonne, die bekende prediker aan die koninklike hof in Parys, uitgenooi om in hulle kapel van die Staatskerk te kom preek. Van Courtonne was van Hollandse afkoms. Hierdie amptenare was nie juis godsdienstig nie. Van Courtonne weier hulle uitnodiging, want hy beskou hulle belangstelling meer sosiaal as geestelik, meer nuuskierigheid as ywer vir die waarheid.

 

Hulle nooi hom herhaaldelik uit en uiteindelik aanvaar hy hulle uitnodiging. Hy stel egter ‘n voorwaarde: al die staatsamptenare moet teenwoordig wees. Hulle aanvaar sy voorwaarde.

 

Die bekende Van Courtonne daag daar op en preek oor Filippus en die Etiopiër (Handelinge 8). Hierdie Etiopiër het ‘n hoë pos aan die hof van die koningin van Etiopië beklee – hy was ‘n staatsamptenaar. Sy preek het vier punte gehad:

  1. ’n Regeringsamptenaar was sy Bybel lees – iets seldsaam.
  2. ‘n Regeringsamptenaar wat sy onkunde erken – nog meer seldsaam.
  3. ‘n Regeringsamptenaar wat sy mindere vra om hom te onderrig – baie, baie seldsaam.
  4. ‘n Regeringsamptenaar wat bekeer word – die seldsaamste van alles.

 

Von Courtonne het nooit weer ‘n uitnodiging gekry nie. Harde woorde van ‘n sterk man. Daar was egter ‘n voorbeeld hiervan. Paulus was ‘n sterk man. Hy het nou sy perke met sy teenstanders in die gemeente in Korinte bereik. Daarom het hy harde woorde vir hulle in sy sogenaamde “tranebrief”.

 

Die woord wat ons vandag algemeen in ons gemeentes hoor, is verdraagsaamheid. Natuurlik moet ons baie dinge verdra, maar as mense die evangelie verdraai – die voorspoedsteologie is ‘n goeie voorbeeld – is harde woorde soms nodig. Is dit nie tyd dat die kerk sterk standpunt inneem teen sosiale euwels in ons samelewing nie?

 

 




Psalm 23

 

Indeed, the safest road to hell is the gradual one – the gentle slope, soft underfoot, without sudden turnings, without milestones, without signposts – Screwtape se raad aan Wormwood – C. S. Lewis

 

Psalm 23

‘n Groep mense eet gesellig saam. Hulle geniet die ete en mekaar se geselskap. Na die ete besluit hulle om elkeen iets voor te dra. Onder hulle was daar ‘n bekende akteur. Hy besluit om Psalm 23 voor te dra. As akteur weet hy natuurlik hoe om voor te dra. Toe hy klaar is en gaan sit was daar groot applous.

 

Toe is dit die beurt van ‘n man wat maar min gepraat het aan tafel. Hy dra ook Psalm 23 voor. Toe hy begin, giggel van die hoorders. Hulle vergelyk sy voordrag met dié van die akteur en kon nie anders as om te giggel nie. Maar mettertyd word dit stil – doodstil. Toe hy gaan sit was dit doodstil. Niemand sê ‘n woord nie. Toe leun die akteur oor na hom en sê: “Meneer, ek ken die psalm van die herder, maar jy ken die Herder van die psalm.”