Psalm 22 (5)
When your will is God’s will, you will have your will. —C.H. Spurgeon
Psalm 22 (5)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
22:20 – 22a: ‘n Gebed om hulp
Hier het ons ‘n oorgang na iets meer positief. Eers is daar ‘n pleidooi gevolg deur ‘n belofte om God te loof as Hy op die pleidooi reageer. Die pleidooi word oorheers deur ‘n versoek vir verlossing op verskillende maniere uitgespreek.
20U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp.
Hier word die Here vir die eerste keer direk aangespreek. Hier het ons ‘n negatiewe – moet tog nie ver van my bly nie – gevolg deur die positiewe – kom my gou te hulp. Die klem val hier op gou.
21Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde.
Die swaard is die beeld van ‘n gewelddadige dood. Die mag van die honde verteenwoordig diegene wat hulle reeds verlustig in die psalmis se dood.
22Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord.
Hier kry ons nog twee beelde van diere. Die wilde buffels is soos die leeu. Die bek van die leeu is soos die horings van die buffels. U het my geantwoord: die psalmis sal nie tevrede wees voordat die Here geantwoord het nie.
Na hierdie beskrywing van sy lyding volg nou weer ‘n gebed om hulp. Die Here moet tog nie so ver bly nie, want daar is maar net een Bron wat hulp kan bied. Wie anders kan ‘n mens red uit die kloue van die dood? Die dieremetafore dui op die magte wat vyandiggesind teenoor God en sy saak is. Al is daar nog net ‘n bietjie lewe oor in die psalmis, bly dit sy kosbaarste besitting: dit is al wat hy nog het.
Die psalmis se gebed was nie tevergeefs nie. Die Here het hom geantwoord. Hy is daar en Hy hoor. Hoe het hy dit geweet? Innerlike versekering? Die vyande wat padgegee het? Liggaamskrag wat toegeneem het? Hiskia se gebed vir sy lewe is verhoor – hy het die antwoord uit die mond van die profeet gehoor. Toe Hy uitkoms gegee het, het Israel geweet God het gehoor.