Psalm 22 (3)

 

A Christian should resemble a fruit tree with real fruit, not a Christmas tree with decorations tied on –John RW Stott

 

Psalm 22 (3)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:7 – 9: ‘n Beskrywing van sy lyding – ek is ‘n wurm

Maar ek – ons keer nou terug na die atmosfeer van verse 2 – 3.

 

7Maar ek is ’n wurm en nie ‘n mens nie, bespot deur die mense, verag deur die volk.

Hier beskryf die psalmis homself. Die wurm is die simbool van onbeduidenheid. Ons lees nie hoekom die psalmis die voorwerp van spot geword het nie. Wat dit ook al begin het, word nou vereger deur die gesindheid van die mense.

 

8Almal wat my sien, dryf met my die spot; hulle tuit die lippe, hulle skud die kop:

Hulle tuit die lippe dui op ‘n neerhalende gebaar. Die eerste gedeelte van die vers maak ‘n algemene stelling; die tweede gedeelte maak dit konkreet. Hulle staar oop mond en skud die kop in minagting.

 

9“Wend jou tot die Here!” en “Laat Hy hom bevry, laat Hy hom red as Hy hom goedgesind is!”

Bevry is wat die Here vir die voorvaders gedoen het. Dit is wat die psalmis nou nodig het. Maar wat daarvan as Hy hom goedgesind is! Ander psalms praat met oortuiging van die Here se goedgesindheid – sy verlossing is die bewys hiervan. As die Here die psalmis goedgesind is, sal  bevryding volg. Die psalmis is nie meer seker hiervan nie, want God het hom verlaat. Die spotters impliseer dat die Here hom nie goedgesind is nie. Dit stem ooreen met die psalmis se vrees.

 

22:10 – 11: Die psalmis se besondere verhouding met die Here.

Die psalmis dink weer aan wat die Here in die verlede gedoen het. Dit gaan egter nie nou oor die totstandkoming van Israel nie, maar oor die geboorte van die psalmis.

 

10U is immers die Een wat my uit die baarmoeder gehaal het, my aan die borste van my ma toevertrou het.

Die psalmis weet dat geboorte ‘n natuurlike proses is, maar hy weet ook dat op ‘n ander vlak  die Here dit laat gebeur. Die Here is by elke individuele geboorte betrokke. Die psalmis het nie net die baarmoeder verlaat nie – hy is daar uitgehaal. Die Here tree hier as vroedvrou op – Hy haal die baba uit die baarmoeder en plaas dit onmiddellik aan sy moeder se borste. Hy vertrou dat hy daar melk sal kry.

 

11In u hande is ek gegee vandat ek gebore is; van die moederskoot af is U my God.

In die verlede het die psalmis ervaar dat God daar is. Teenoor die vyandskap van die teenstanders, staan sy besondere verhouding met God. God het hom die lewe geskenk en sy lewe is veilig in die hand van God. Dit is immers die betekenis van sy belydenis: U is my God. Juis dit maak die nood nog meer konkreet: die God wat van die begin van my lewe af my God was, het my verlaat. As ek roep is dit stil; as ek my nood uitskreeu, is daar geen antwoord nie. Wat maak ek nou?

 

 




My roeping

 

If you really want to do something, you’ll find a way. If you don’t, you’ll find an excuse.” –Jim Rohn

 

My roeping

In die Skrif is die woord roeping gevul met betekenis. God roep ons na Hom – uit die duisternis en die dood na die lewe en liefde van Christus. Roeping beteken nie “werk” nie. Dit is ‘n oproep om ander mense te dien. Luther en die ander hervormers het onder andere die leer van die Skrif alleen herstel. Hulle het ook die priesterskap van alle gelowiges en die die leer van roeping herstel.

 

Gene Veith (God at Work: Your Vocation in all of Life) begin hierdie onderwerp met die volgende sin: “When God blesses us, He almost always does it through other people.”  Hierdie is die vrug van die gawe van roeping. In sy boek bespreek hy ‘n paar aspekte van roeping.

 

  1. Hoekom ‘n roeping?

In die Middeleeue was roeping feitlik uitsluitlik beperk tot voltydse werk in die kerk. Met die Hervorming verander dit. Hulle leer dat lidmate ook ‘n roeping het. Nie alle gelowiges is leraars nie, maar alle gelowiges is priesters – die priesterskap van alle gelowiges. Luther sê dat roeping ‘n masker vir God is – God versteek Hom in die werkplek, die familie en die samelewing. Om te besef dat die alledaagse aktiwiteite wat meeste van ons lewens vul wegkruipplekke vir God is, is op sigself ‘n openbaring. Meeste mense soek God in mistiese ondervindings en in buitengewone dinge wat hulle moet doen. Maar Hy is in die alledaagse teenwoordig.

 

  1. Die goeie werke van roeping

Die leer van roeping neem ons vertikale verlange en druk dit in horisontale verhoudings uit. “God does not need our good works, but our neighbor does.”  Ware goeie werke moet iemand help. In ons roeping doen ons nie goeie werke vir God nie – ons doen dit vir ons naaste. Goeie werk word in die alledaagse lewe gedoen. Dit gaan nie oor innerlike gesindhede en abstrakte idees nie, maar oor konkrete interaksie met ander mense.

 

  1. Kies ‘n roeping

Die leer van roeping bevestig die soewereiniteit van God en sy roeping. Ons kies nie self ons roeping nie – ons word geroep. Ons kultuur is baie erg oor keuses. Mense verheerlik wilskrag tot so ‘n mate dat hulle glo dat hulle hulle eie waardes kies. Alle optredes is moreel reg solank as wat daar ‘n keuse is. Mense kies wat hulle wil glo en wat hulle kies, is reg vir daardie persoon. Ons roeping is as ‘t ware in die hande van ander mense.

 

Om my roeping te vind asof dit iets onbekend is. is misleidend. Ons kies nie ons roeping nie; dit is reeds daar – daar waar ons werk en woon en wat ons nou doen. Om my roeping te vind, beteken om uit te vind waar God is – die God wat Hom in ons naaste, in onsself en in sy wêreld versteek.

 

  1. Die werk van geloof

Geloof werk. As dit nie werk nie, is dit volgens Jakobus dooie geloof. Die leer van roeping verduidelik hoe en waar geloof werk. Werk gedoen in geloof se betekenis verskil van werk wat nie in geloof gedoen word nie. Die leer van roeping laat die Christen sien hoe die gewone aktiwiteite van die lewe vol betekenis kan wees.  “Human work is an imitation of God’s work, a participation in God’s creation and His creativity. Ruling, subduing, multiplying, causing plants to grow, making things—these are what God does, and yet God gives them as tasks to human beings.”

 

Nie elke beroep of werk is ‘n roeping nie. ‘n Dwelmhandelaar is nie deur God geroep nie – dit gaan nie met liefde vir die naaste gepaard nie – dit doen hulle skade aan. Christene is in die wêreld betrokke deur hulle roeping uit te leef. So kan hulle ‘n positiewe invloed op die kultuur uitoefen. Gewone mense wat hulle liefde en diens vir hulle naaste in hulle werk uitdrukking gee, vervul hulle roeping.

 

  1. Enkele beginsels

Die leer van roeping is ‘n lewenslange leerkurwe. Hier is ‘n paar beginsels vir ons lewe.

  • Elke roeping het sy eie unieke versoekings en vermoë om te sondig.
  • Om buite ons roeping op te tree, lei tot ondoeltreffendheid, frustrasie en gemorste tyd.
  • Mense wat werk, weet dat mense se pad soms geblokkeer is – dit is die tyd vir gebed.
  • ‘God gives daily bread indeed without prayer, also to all the wicked; but we pray in this petition that He would lead us to know it, and to receive our daily bread with thanksgiving.’” (Martin Luther)
  • Christene moet hulle roeping sien as as ‘n manier om God te verheerlik en hulle naaste lief te hê. Ons verheerlik God deur ons naaste lief te hê.
  • Ons vertoon God se liefde en waarheid as ons bid, beplan en werk om goeie dinge vir mense met name en behoeftes te doen.

 

God het aan ons monde gegee om te bid en sy woord te verkondig, maar ook hande en voete om mee te werk. Mag die God wat ons na Hom toe roep aan ons die passie gee om die roeping wat Hy aan ons gegee het, te vervul.

 




Ek is hier vir jou … soort van

 

Are there not millions of us who would rather go sleeping to hell; than sweating to heaven? —Thomas Watson

 

Ek is hier vir jou … soort van

Verhoudings is nie almal dieselfde nie. In die bediening is daar verskillende soorte verhoudings. Hoe hanteer ons hulle? Jesus het geweet hoe om (en hoe om nie) in ‘n verhouding te belê. Party van sy metodes lyk vir ons soms hard en eksklusief. Kom ons kyk na verskillende verhoudings in ons bediening.

 

  1. Ek is hier vir jou

Terwyl Jesus vir die viering van die paasfees in Jerusalem was, het daar baie mense tot geloof in Hom gekom toe hulle die wondertekens sien wat Hy doen.  Maar Hy het Hom nie op hulle verlaat nie, omdat Hy geweet het hoe hulle almal is. Hy het nie nodig gehad dat iemand Hom iets van ‘n mens vertel nie, want Hy het self geweet hoe mense is (Johannes 2:23 – 25).

Jesus het geweet wat Hy van mense kan verwag – en nie kan verwag nie. Om hier vir iemand te wees, beteken nie dat ons neerbuigend moet wees nie. Ons moet onsself vra: “Hoe kan ek hulle op die beste manier dien, selfs as dit beteken ek laat hulle agter die skerms in my lewe toe?”  Om vir iemand beskikbaar te wees, beteken nie dat ek hulle nooit vra om iets te doen nie, dat ek alles doen wat hulle vra nie. Ons moenie toelaat dat hulle totaal van ons afhanklik word nie. Hierdie verhoudings dryf ons nader aan God.

 

  1. Jy is hier vir my

Ons moet ‘n paar verhoudings hê met mense wat niks van ons verwag nie. Dit mag mentors, beraders of ouers wees. Leiers moet nooit hierdie kategorie leeg laat nie. Ons het mense nodig wat ons op ons slegste kan hanteer – wat ons nie oordeel nie.

 

  1. Ons is hier vir mekaar

Meeste van ons verhoudings lê op hierdie vlak. Elke verhouding het sy eie neem-en-gee dinamika. In die proses leer ons van ander en van onsself. Jesus was ongetwtfeld die leier van die dissipels, maar tog noem Hy hulle sy vriende (Johannes 15:15). Vir Hom was hierdie nie net ‘n werksverhouding nie. Omtrent alles in ons lewens wat verandering teweegbring, spruit voort uit verhoudings.

 

  1. Ons is hier vir mekaar … vir nou

Hopelik is dit nie ‘n verhouding waarin ons onsself dikwels sal bevind nie. As Jesus praat van die stof van julle voete afskud, klink dit vir ons hard. Dit mag nie beteken dat ons hierdie mense permanent uitskuif nie, maar Hy gee aan ons toestemming om te sê: “Ek het alles probeer. Dit is tyd om weg te loop van hierdie verhouding.”  As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense (Romeine 12:18). As ander mense nie reageer nie, het ons toestemming om die verhouding te beëindig.

 

Dit sou wonderlik gewees het as ons ‘n wonderformule het wat ons toelaat om in ander se harte te sien en presies te weet wat ons van hulle kan verwag. Maar dit is in die daaglikse  betrokkenheid wat ons leer. In hierdie lewe van voortgaande verhoudings met ander, ontdek ons die wonder van ‘n gemeenskap wat van mekaar afhanklik is – uiteindelik saam afhanklik van die Vader. Hy kan waarlik sê: “Ek is hier vir jou.”

 

 




Psalm 22 (2)

 

There is nothing that leaves a man so open to sinister insinuation as the management of public funds (Calvyn).

 

Psalm 22 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

22:4 – 6: Ware gebed: ‘n Vertrouensuitspraak.

Hierdie gedeelte staan teenoor vers 2 – 3. Dit verwys na die basis vir die lof vir God se dade in die verlede. Let op dat die my van die eerste verse in vers 6 met ons vervang word. Die verlossing in die verlede is net so werklik soos die huidige verlatenheid.

 

4U is tog die Heilige, U heers waar die lofliedere  van Israel opklink.

Die beeld van God wat op sy troon in die hemel of op Sion sit, is ‘n bekende beeld. Die herinnering dat die Here die Heilige is, herinner ons dat Hy ‘n magtige God is. Hy het die mag om die psalmis te verlos, maar doen dit nie. Die Here is die enigste God en verdien Israel se lof.

 

5Op U het ons voorvaders vertrou, hulle het vertrou en U het hulle bevry.

6Tot U het hulle geroep en hulle het ontvlug; op U het hulle vertrou en staan nie beskaamd nie.

Hierdie is ‘n verwysing na die Israeliete se verlossing uit Egipte. Toe het die voorvaders op die Here vertrou en Hy het hulle verlos. Daar het hulle uitgeroep en die Here het geluister. Die roep na die Here is ‘n uitdrukking van vertroue. Dat hulle ontvlug het, beteken daar is geen rede vir skaamte nie.

 

Die psalmis se vertroue op die Here, die oënskynlike vergeefsheid daarvan ten spyt, is nie maar net mooipraatjies nie. Dit staan vas, want dit is gebaseer op wat God in die verlede gedoen het. Hy is die Heilige wat anders is as mense. Hy woon waar die lofsange van Israel weerklink: die lofsange is sy troon – nes die ark. Hy is koning en sy verbondsvolk maak voortdurend vir Hom ‘n troon met hulle lofgesange wat sy wonderdade besing. Die voorvaders het nooit tevergeefs op God vertrou nie. Dit is die psalmis se troos en anker in hierdie stormtyd. Sy troos en hoop is daarin geleë dat God tot nou toe nog altyd uitkoms gegee het.