“The faith which has not a sanctifying influence on the character is no better than the faith of devils. It is a dead faith.” ~ J.C. Ryle
Psalm 22 (1)
[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.
Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.
‘n Gebed wat twee stelle feite eer
Psalm 22 is ‘n individu se hulpgeroep wat afsluit met ‘n merkwaardige en uitgebreide lofprysing. Vers 1 – 22 dui daarop dat die psalmis ontsteld is; vers 23 – 32 impliseer dat hy van die Here se verlossing getuig. Dwarsdeur wissel vrae, besware en klagtes aan die een kant en erkenning van die Here, gebede aan die Here en stellings van geloof in die Here aan die ander kant, mekaar af. Die noodsaaklikheid om God te loof, kry ons deur die hele psalm. Vers 23 – 32 sê nie dat die psalmis reeds die Here se verlossing ondervind het nie, maar hy weet dat die Here sal verlos.
Die psalmis bid hierdie gebed in die teenwoordigheid van ander. Dit is moeilik om een stel konkrete omstandighede waarop hierdie psalm sinspeel te bepaal. Daarom is die psalm vir baie mense wat druk ondervind, bruikbaar. Dit is die uitdrukking van ‘n diep persoonlike gevoel.
Hierdie psalm is ‘n klaaglied wat die motief van gebed om hulp in ‘n konkrete noodsituasie sterk beklemtoon.
22:1: Die opskrif
22 Vir die musiekleier. Op Ajelet hasjagar. Van Dawid.
Ajelet hasjagar kan met “die rooitakbok van die dagbreek” vertaal word. Dit dui waarskynlik op die melodie waarop die lied gesing is. Ons sal sien hoe Jesus en die skrywers van die Nuwe Testament hierdie Psalm op Hom toegepas het. Dagbreek is die oomblik wanneer hulp aankom of wanneer ‘n persoon bid en loof. Ou Arabiese gedigte beskryf hierdie wildsbok ‘n eensame bok – een wat van die res van die trop afgesny is. Met dagbreek tuur hy in die verte met die hoop om sy vriende te sien.
22:2 – 3: Die klag: ‘n hulpgeroep
2My God, my God, waarom het U my verlaat. Waarom is U ver daarvan om my te verlos, ver van die woorde wat ek uitskreeu.
Die psalmis gaan direk na die skerpste punt. As die psalmis hier praat van God wat hom verlaat het, klink dit soos die klagte van ‘n wanhopige man. Tog noem hy God twee maal my God. Dit beklemtoon die persoonlike verhouding tussen psalmis en God. My God en verlaat pas nie mooi in dieselfde sin nie. As God met ons is, los dit tog ons probleme op. Wat die psalmis soek, is optrede en nie verduidelikings nie. Die psalmis praat hier van ‘n werklike en nie ‘n oënskynlike verlaat nie. Om God te soek, beteken dat ons Hom soek om op te tree. Soek en vind is nie net geestelike optredes nie.
Die herhaling: My God, my God beklemtoon:
- Die persoonlike lyding – intense pyn,
- Die dringendheid van die hulpgeroep, en
- Die vashou aan God se verbondsbelofte.
Die pslamis bieg: Ek is alleen en deur God verlaat. Met my God weet hy God is daar om hom te help; met verlaat voel hy God is ver van hom af weg. Geloofskennis hou hom vas tydens geloofsonsekerheid. Binne die verbond kan hy nog altyd roep – al is God ver. Dit is sy geloofstoets in sy lyding: God is naby en God is ver. [Ek is nie ‘n God wat net naby is nie … Ek is ‘n God wat ook ver weg is – Jer 23:23.] God is stil. So is dit in die verlede ook ondervind, maar die antwoord het nie uitgebly nie. Maar nou antwoord die Here nie – ‘n aanduiding dat die psalmis se lyding lank geduur het. Tog, soos Job, hou hy vas aan die Here.
3My God, ek roep bedags, maar U antwoord nie, ook snags, maar daar is geen rus vir my nie.
Omdat God nie antwoord nie, is daar geen rus vir die psalmis nie. My God beklemtoon weer die verhouding tussen die psalmis en God. Sy dag en nag roep na God stem ooreen met God se dag en nag beskerming van hom. Hier is geen rede vir die psalmis om sy uitskreeu (vers 2) te staak nie. Hier sit ons met die geheim van die “dowe God.”
Verlaat God ons werklik? Die digter ondervind Godverlatenheid – soos almal van ons ook soms ondervind. Die dwaas dink daar is geen God nie (Ps 14:1). Hierdie ervaring dat dit voel asof God ver weg is, ondervind elke gelowige per geleentheid. In sy wysheid en deernis mag God my gebed antwoord op ‘n wyse wat ek nie verwag nie. Daarom het Psalm 22 ‘n wonderlike boodskap vir my, vandag, in my nood.