Psalm 21 (2)

 

Followers of Jesus who count the cost and are willing to take up their crosses after him must have broad shoulders. —Os Guinness

 

Psalm 21 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

21:9 – 14: Die Here straf sy vyande

Die konkrete optrede van die Here vir die koning lei nou tot algemene stellings oor die krag van die Here – meer as net vir die koning. Die konkrete optrede wat die Here reeds gedoen het, dien as basis vir die verwagting dat Hy in die hede sal optree.

 

9U hand, o koning, sal al u vyande vind; u regterhand sal dié vind wat u haat.

[Die woord koning staan nie in die bronteks nie, maar word veronderstel. Omdat die regterhand gewoonlik die sterkste hand is, is dit ‘n uitdrukking van krag.] Dié wat die koning haat, is sy vyande.

 

10U maak van hulle ‘n vurige oond wanneer u verskyn. Die Here sal hulle in sy woede verslind en vuur sal hulle verteer.

Die Here maak die koning ‘n beliggaming van seën, maar sy vyande maak Hy’n vurige oond. Hulle is nie die vuur nie, maar die voorwerp in die vuur. Die Here doen dit  deur sy teenwoordigheid. Die Here se teenwoordigheid het ander implikasies vir die koning se vyande as vir homself. As mense uitroep vir die Here se teenwoordigheid, veroorsaak dit ‘n verterende vuur vir hulle onderdrukkers. Hoe verteer Hy hulle? Deur hulle te verslind.

 

11Hulle vrug sal u uit die land laat verdwyn en hulle nageslag onder die mense.

[vrug – metafoor van kinders.] Verlossing vereis nie net die uitwissing van die direkte aanvallers nie, maar ook die uitwissing van die volgende geslag aanvallers.

 

12Wanneer hulle boosheid bedink teen u, bedrog beplan, sal hulle nie slaag nie,

Die Here neem nie die inisiatief om mense aan te val nie – Hy reageer op ‘n aanval.

 

13Want u sal hulle dwing om te vlug wanneer u met pyle op hulle aanlê.

Hoe doen die Here dit? Hy skiet met pyle op hulle en wyslik vlug hulle. Hulle rig pyle op die Here; die Here skiet terug.

 

14Verhef U, Here, in u krag! Ons wil sing, u mag wil ons besing

In Psalm 18 besing die koning die mag van die Here. Hier doen almal dit.

 

Deur sy groot mag vind die Here sy vyande en straf hulle tot in die derde geslag. Die Here doen dit self, want hulle is ook die vyande van sy koninkryk. Deur hulle optrede, wat teenstrydig met sy wil is, het hulle sy toorn gewek. Daarom verskyn Hy self en dryf hulle weg met sy wapens. Dit lei tot verdere lofprysing van die Here. In vs 14 wys die digter iets van sy eie reaksie op die Here se magtige dade. Hy pleit dat die Here sy mag sal laat seëvier en hy beloof om die Here se krag te besing.

 

Vs 9 – 13 sê vir ons wat die priester vir die koning gesê het by hierdie geleentheid. Let veral op:

  1. Ons moenie ontsteld wees oor die oordrewe manier van praat nie – dit was destyds die gebruik.
  2. God se wil sal geskied slegs as die koning optree. Slegs dan kan God se regverdigheid seëvier.

in vs 14 reageer die gemeente met ‘n lofsang – nie oor die koning nie, maar oor die mag en krag van die Here – die koning se Koning.

 

In die volgende blog gaan ons na die teologiese implikasies van hierdie psalm kyk.

 

 




Nuwejaar1945

 

“After climbing a great hill, one only finds that there are many more hills to climb.” – Nelson Mandela

 

Nuwejaar 1945

Dietrich Bonhoeffer was ‘n teenstander van die Nazi-invloed in die Duitse kerk. Hy speel ‘n prominente rol in die skryf van die Barmen-verklaring wat seker klousules van die Nazi ideologie verwerp het. Hy stig ‘n ondergrondse seminarium in Finkenwald wat later deur die Gestapo gesluit is. Hy sluit aan by die weerstandsbeweging, word gevange geneem en word later tereggestel. Sy Briewe uit die Tronk (April 1943) word na die oorlog ‘n blitsverkoper.

 

Onder die briewe was daar ‘n pragtige gedig geskryf vir sy aanstaande, Maria von Wedemeyer. Die naam van die gedig was Nuwejaar 1945. Veral die derde vers is baie bekend:

Should it be ours to drain the cup of grieving

Even to the dregs of pain,

At thy command, we will not falter. Thankfully receiving all that is given

By thy loving hand.

Drie maande later word hy in die Flossenbürg tronk gehang.

 

Agtien jaar later treur ‘n vrou oor die dood van haar verloofde. Bonhoeffer se gedig vertroos haar. Sy stuur Bonhoeffer se gedig na haar verloofde se ouers, die skrywer Joseph  Bailey en sy vrou. Hulle word ook deur hierdie gedig vertroos. Hy neem die gedig in sy boek Heaven, op. Twaalf jaar later gee ‘n pastor-vriend van hom hierdie boek aan ‘n vrou wat terminaal siek was aan kanker. Die volgende dag vertel sy hom van die vertroosting was sy gekry het uit die boek. Die vrou was Maria von Wedemeyer-Weller, Bonhoeffer se aanstaande dertig jaar gelede.

 

God se vertroosting sirkuleer onder sy kinders. 2 Korintiërs 1:2 – 7 verwys na hierdie sikliese aard van God se vertroosting – oorvloedig en wedersyds.

 




‘n Kultuur van innovering in die gemeente

 

The best kinds of ministry are, more often than not, long term and low key. —Christopher Ash

 

‘n Kultuur van innovering in die gemeente

Kreatiwiteit is belangrik in bediening, want God is kreatief. Dit maak dus sin dat ons God met ons kreatiwiteit sal dien. Maar hoe ontwikkel jy ‘n kultuur van innovering in die gemeente?

 

  1. Jy het ‘n teologie van innovering nodig

Ons is soos ons Skepper as ons kreatief is. God het ons gemaak om kreatief te wees. Kinders is baie kreatief – hulle word so gebore. Maar met verloop van tyd verloor ons hierdie kreatiwiteit, want ons is bang. ‘n Teologie van innovering herinner ons altyd daaraan dat God wil hê dat ons innoverend moet wees.

 

  1. Jy het ‘n kreatiewe atmosfeer nodig

Daar is sekere omgewings waarbinne dit net onmoontlik is om kreatief te wees. ‘n Formele atmosfeer met ‘n raadskamer met ‘n groot tafel bevorder nie juis kreatiwiteit nie.

 

  1. Moenie te ernstig wees nie

Speel stimuleer kreatiwiteit. As jy mense kry om te lag, vloei die endorfiene. Kreatiwiteit is dikwels om twee teenoorgestelde idees bymekaar te sit – wat mense dink ‘n lawwigheid is. Dit laat mense lag. As mense eers lag, is kreatiwiteit nie ver agter nie. As hulle ernstig is, sal hulle nie sommer kreatief wees nie.

 

  1. Jy het die vryheid om te misluk nodig

Innovering beteken dat jy nie bang is om te misluk nie. Eksperimenteer. Probeer. Jy misluk as jy nie meer probeer nie. Innoverende gemeentes doen meestal meer dinge wat nie werk nie as die wat werk. As jy nie foute maak nie, probeer jy nie!

 

  1. Dink groot

Stel doelwitte wat so groot is dat jy sal misluk tensy God jou help.

 

  1. Doen iets wat die moeite werd is

As jy nie iets betekenisvol probeer bereik nie, gaan jy nie kreatief wees nie. Hoekom innoveer ons? Om anders te wees? Nee. Ons moet innoveer, want ons wil mense met die evangelie en met Jesus Christus bereik. Dit moet bepaal wat ons doen en hoe ons dit doen.

 

 




Psalm 21 (1)

 

The blindness of unbelievers in no way detracts from the clearness of the gospel, for the sun is no less respendent because the blind do not perceive it – Johannes Calvyn

 

Psalm 21 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema: Maak op God staat en nie op eie krag nie.

Hierdie is soos Psalm 20 ‘n koningspsalm. Hierdie twee psalms is soos twee kante van ‘n muntstuk. Beide hanteer die in mekaar gevlegdheid van die bestemming van die koning en sy onderdane.

Die een is ‘n gebed waarin die psalmis die Here vra om die koning te laat seëvier; die ander is ‘n danklied vir die oorwinning wat reeds behaal is.  Die danklied bestaan uit twee hoofdele:

  • God se mag verseker die koning van ‘n oorwinning.
  • God se mag bring vir die vyand ondergang.

Elkeen het ‘n lang hoofdeel en ‘n kort slot.

 

21: 1: Opskrif.

Vir die musiekleier. ’n Psalm. Van Dawid.

Die spreker in hierdie psalm is die gemeente of ‘n priester wat namens die gemeente praat.

 

2:2 – 8: Die seëninge van die koning.

Die priester verklaar die koning se redes vir danksegging. Implisiet geld dit ook vir sy mense.

 

2Here, die koning is bly oor u beskerming; hoe uitbundig juig hy oor u verlossing.

Hier word melding gemaak van die Here se krag, maar ook van sy verlossing. Krag is nie ‘n eienskap wat die Here net besit nie – dit sou tog nie ‘n rede wees om jou te verheug en te juig nie. Die Here gebruik egter sy krag as Hy optree.

 

Die danksegging kyk terug na die koning se gebed en die Here se antwoord. Hier kry ons stellings wat na die verlede verwys wat afgewissel word met stellings van ‘n voortgaande werklikheid en geloof.

 

3Wat sy hart begeer, het U vir hom gegee en wat sy lippe verlang het U nie geweier nie. Sela.

Wat sy hart begeer het God vir hom gegee. Hart en lippe vul mekaar aan.

 

4Ja, U tree hom tegemoet en seën hom met die goeie; U sit ‘n kroon van fyngoud op sy kop.

Hierdie laat ons dink aan Dawid wat na Hebron of Jerusalem terugkeer na een van sy oorwinnings. Die Here wag nie vir die koning om aan te kom nie, maar gaan hom tegemoet met seën en ‘n kroon van fyngoud. Die Here neem die inisiatief en wag nie vir iemand om aan te kom nie.

 

5Lewe het hy van U gevra en U het dit aan hom gegee, ‘n lang leeftyd, vir altyd en altyd.

6Hy geniet hoë aansien deur die verlossing wat U bring; luister en glansrykheid verleen U aan hom.

Vers 5 keer na die koning se gebed terug. Die versoek vir lewe is vermoedelik ‘n versoek vir veilige verlossing van sy vyande. Die Here se reaksie gaan verder as die versoek. Konings se lewens was maar dikwels baie kort. In konteks hier beteken dit lewe tot die volheid van jou tyd – jou lewe word nie in sy fleur kortgeknip nie. Luister en aansien verwys hier na eer.

 

7Ja, U oorlaai hom vir altyd met seëninge, U maak hom baie bly met u teenwoordigheid.

Die idee dat die Here die koning met oorvloedige seëninge oorlaai, is sodat hy die standaard word waarteen mense seëninge vir hulleself soek. Hy is bly as gevolg van die Here se teenwoordigheid, want seëninge kom as die Here gunstig na ‘n mens kyk.

 

8Omdat die koning vertrou op die Here, op die troue liefde van die Allerhoogste, sal hy nie wankel nie.

Omdat die koning op die Here vertrou, sal hy nie wankel nie. Wankel kan ook ‘n manier wees om na vertroue te verwys – die koning se vertroue sal nie wankel nie. Die koning kan op die Here vertrou, want sy troue liefde inspireer vertroue. Die Here is dus die voorwerp en die instaatsteller van vertroue.

 

Vers 8 word dikwels as die middelpunt van die psalm gesien wat die twee helftes aan mekaar verbind.