Psalm 20 (1)

 

Prayer is the language of the soul in conversation with God. It is the most intimate gesture of the religious life and the most transformative – Sir Jonathan Sacks.

 

Psalm 20 (1)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Tema:  ‘n Seën vir die koning

Dit is gou duidelik dat vers 2 – 6 bymekaar hoort, maar by vers 7 gebeur daar iets nuuts. Verse 2 – 6 is die woorde van ‘n groep mense aan ‘n individu in een of ander krisis. In vers 10 sal ons sien dat dit die koning is. In vers 7 praat ‘n individu. Dit is ‘n reaksie op vers 2 – 6. Vers 2 – 6 is ‘n verklaring van vertroue in wat die Here sal doen of ‘n proklamasie van sy seën. In verse 8 – 10 neem die oorspronklike sprekers die  koning se verklaring van trou aan die Here en sluit die psalm af met ‘n gebed en ‘n finale woord waarin vertroue uitgespreek word. Die psalm is ‘n gesprek tussen die mense en die koning.

 

Hierdie psalm is waarskynlik gebruik as ‘n geveg verwag word. Dit mag ook tydens ‘n gereelde liturgiese gebeurtenis gebruik word. Die versekering dat die koning sal oorwin as daar oorlog kom, moet immers gereeld bevestig word. Ons weet nie wanneer hierdie psalm geskryf is nie.

 

Psalm 20 is ‘n gebed om hulp in tyd van (militêre) bedreiging. Die volk vra dat die Here aan die koning oorwinning sal gee. Die koning staan blykbaar aan die vooraand van ‘n groot militêre veldtog of veldslag. Die offer wat so ‘n gebeurtenis voorafgaan, is gebring. Nou word daar voorbidding gedoen vir die koning met die oog op wat voorlê.

 

20:1: Opskrif

Vir die musiekleier. ‘n Psalm. Van Dawid.

Hierdie psalm is ‘n dialoog tussen mense en die koning.

 

20:2 – 6: Die Here hoor op die dag van nood. 

In die Ou Testament is seën die taak van leiers soos Moses, Dawid en ander konings en van priesters. Gewone mense het die vermoë om mekaar te seën en ook om die koning te seën. Die openingsverse mag dui op die seën van ‘n priester,

 

2Mag die Here u antwoord op die dag van benoudheid; mag die Naam van die God van Jakob u beskerm.

3Mag Hy vir u hulp stuur uit die heiligdom, en vanaf Sion u ondersteun.

Die eerste deel van beide verse praat van konkrete optrede: antwoord … hulp stuur. Hierdie is twee aspekte wat mense sou gebruik in ‘n gebed in tye van nood. Eerstens is daar ‘n verklaring dat die Here gehoor het en gaan optree. Dan is daar ‘n optrede wat hierdie verklaring ‘n werklikheid maak. Die heiligdom is Sion, alhoewel ons later sal sien dat die Here ook uit sy heilige hemel antwoord. Sion is die plek waar die Here besluit het om te woon. Sion is waar die mense en die koning bymekaar is.

 

 4Mag Hy al u offergawes in gedagte hou, u brandoffers aanvaarbaar vind. Sela.

Sion is die plek waar offers gebring word en waar seën verkondig word. Dit ook waar die Here op die koning se offers en gebede reageer. Seën word hier in dade omgesit. Dit gebeur omdat die Here die koning se offergawes in gedagte hou. Die offergawes sê vir ons die koning is ernstig as hy die Here in ‘n noodsituasie nader.

 

5Mag Hy aan u gee wat u hart verlang, en elkeen van u planne laat slaag.

Hier kyk ons steeds na die Here wat die koning se gebed beantwoord en reageer op sy offergawes. Die koning se denke het planne geformuleeer. Hy doen dit egter nie onafhanklik van die Here nie.

 

6Ons wil juig oor u verlossing, in die Naam van ons God die vaandel hoog hou. Mag die Here aan al u versoeke voldoen.

Hier word dit duidelik wie hier praat: of die mense of iemand wat namens hulle praat. Dit ook duidelik dat die krisis waarvan hier gepraat word nie net die koning raak nie, maar ook die mense. Die koning het verlossing nodig en as hy dit kry sal die mense daaroor juig. Die mense sal ook hulle vaandels waai – in God se Naam. Om vaandels te waai of hoog te hou, verwys gewoonlik na ‘n militêre konteks. Die mense mag lede wees van ‘n leër wat die koning lei.

 

In hierdie psalm word twee keer na die Naam van die Here verwys: dit moet die koning beskerm (vs 2) en die verbondsvolk vertrou op die Naam van die Here en nie op strydwaens en …op perde nie (vs 8). Die Naam is hier aanduidend van die Persoon – God self. Dit is nie maar net sommer ‘n magiese towerwoord wat uitgespreek kan word en wat dan sal help nie. Dit is God self wat help.

 

 




Die kruis kan ons vrymaak

 

I have often been told that “broad” views are wanted in the present day. I wish to be as broad as the Bible, neither less nor more. —J.C. Ryle

 

Die  kruis kan ons vrymaak

Die kruis het die krag om ons van bande vry te maak, van negatiewe gevoelens insluitend bitterheid en wantroue. Daar is geen ander manier om van hierdie emosies wat jou neerdruk, ontslae te raak nie. Aan die kruis het Jesus die mag van sonde en die dood en die kettings in jou lewe verbreek en oorwin.

 

Die kruis verhoed dat ons slawe van die verlede en ons pynlike herinneringe word. Ons kan kies om te vergewe.

Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie (Romeine 6:6).

 

Alle Christene moet vir vergifnis bid, sodat hulle van die seerkry en haat velos kan word. God verstaan hoe seer ons gekry het. Sê vir Hom dat jy nie langer die seer wil dra nie; dat jy nie ‘n bitter persoon wil wees nie. Maar ek het sy genade en krag nodig om van my seerkry ontslae te raak en te vergewe. Ons moet Hom vra dat ons kan vergewe soos Hy ons vergewe het. Ons moet bid dat Hy ons harte deur sy kruis sal genees.

 

 




Gee my wysheid (9)

 

You cannot live a perfect day without doing something for someone who will never be able to repay you – John Wooden

 

Gee my wysheid (9)

Matthew Henry (1622 – 1714) het ‘n kommentaar oor die hele Bybel geskryf. Uit hierdie massiewe werk het ‘n boek (Grant Me Wisdom) verskyn wat Henry se werk maklik toeganklik vir die moderne leser maak. Ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie werk wy.

 

Hou vas aan die geloof

 Het julle die Heilige Gees ontvang deur die wet van Moses te onderhou of deur die evangelie te glo? Is julle dan so sonder begrip? Julle het met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig? (Galasiërs 3:2 – 3).

Paulus praat hier met die mense wat die geloof in Christus aanvaar het, maar nog steeds probeer om versoening deur goeie werke – die werke van die wet – te kry. Hulle hou nie vas aan die versoening soos ons dit in die evangelie kry nie – soos hulle wel geleer is. Verskeie dinge bewys die fout wat hierdie mense maak.

 

Jesus Christus het mens geword en is tussen hulle gekruisig. Hulle het die leer van die kruis geken – Paulus en ander leermeesters het dit aan hulle verkondig. Hulle het die sakrament van die nagmaal ontvang. Paulus verwys ook na die ondervinding wat hulle gehad het van die werking van die Heilige Gees in hulle. Hy vra vir hulle hoe hulle dit alles gekry het – deur die werke van die wet te doen of deur die evangelie te glo. As hulle eerlik wees, sal hulle erken dit was deur die evangelie te glo.

 

Hulle het goed begin. Dit word van hulle verwag om verder te groei na volwassenheid. Die goeie werke was nie ‘n verbetering op die evangelie nie – dit was ‘n verdraaiing daarvan. Hulle het die gevaar geloop om die evangelie heeltemal te verloor.

 

Paulus het die Heilige Gees aan hulle bedien; hy het wondere onder hulle gedoen. Hulle het baie goed besef dat dit die gevolg van geloof en nie as gevolg van goeie werke was nie. Daar was dus geen verskoning vir hulle nie – die leer was duidelik.

 




Vergifnis en vertroue

 

We are all influenced by a desire of praise – Cicero

 

Vergifnis en vertroue

Rick Warren sê dat daar ‘n besliste verskil tussen vergifnis en vertroue is. Vergifnis hoef nie verdien te word nie, maar vertoue moet verdien word. Daarom vereis vertroue tyd – dit gebeur nie oornag nie. Vergifnis beteken nie dat vertroue onmiddellik herstel word nie. Vergifnis se fondament is genade; vertroue se fondament is werke. Jy verdien vertroue.

Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te straf; Ek sal vergeld,” sê die Here (Romeine 12:19).

Christene moet vertrou dat God diegene wat hulle verontreg het, sal straf. Christene moet vergifnis vir hulle eie geestelike gesondheid beoefen.

 

Vergifnis is jou aandeel – of hulle nou reageer of nie, of hulle daarvoor vra of nie; of hulle selfs agterkom dat hulle vergifnis nodig het of nie. Jy vergewe vir jou onthalwe. Maar om ‘n verhouding te herstel, vereis meer as vergifnis. Dit vereis berou en ‘n herstel van vertroue … en baie tyd. Om nie te vergewe nie, is net so goed jy wond jouself.

 

As jy gegriefd is, maak dit jou meer seer as die persoon teenoor wie jy bitter is. Terwyl jy jou nog bekommer oor iets wat jare gelede gebeur het, het die ander persoon al lankal daarvan vergeet. Jou verlede is verby en kan jou slegs seermaak as jy daaraan vashou. God wil hê dat ons op Hom moet vertrou en sien hoe Hy iets goeds daaruit bring.

Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28)