Maak dissipels

 

We ought to read the Scriptures with the express design of finding Christ in them – Johannes Calvyn

 

Maak dissipels

Dissipelskap lyk nie na ‘n goeie manier om ‘n koninkryk te bou nie. Gewoonlik gaan dit oor oorloë en groot geld. Maar Jesus sluit sy verblyf op aarde af deur sy dissipels opdrag te gee om dissipels te maak. Is dit nou hoe jy ‘n koninkryk moet bou? Jesus leer sy dissipels om nie vir vandag of môre te leef nie, maar met die oog op die ewigheid. Ons leer ander om Jesus te volg; ons bid vir die invloed van die evangelie; ons verkondig God se woord – alles met die oog op die laaste dae. Ons mag nou vrugte sien, maar die einddoel is om aan die einde volwasse gelowiges aan God voor te lê.

Mark Dever sê dat om dissipels te maak, gaan oor ‘n verhouding waarin jy onderrig, regstel, modelleer en liefhê. Dit vereis nederigheid.

 

  1. Onderrig

Die kern van dissipels maak, is onderrig. Ons onderrig met woorde – al die woorde waarmee Jesus sy dissipels onderrig het. Daarom moet ons sistematies die Bybel lees – Ou en Nuwe Testamente. Ons moet ook goeie boeke lees. Mense leer ook as hulle geestelik betekenisvolle gesprekke het. Vra jou vriende wat God hulle geleer het die afgelope week; vertel hulle van wat God jou geleer het van Homself. Kleingroepe han hierdie tipe verhoudings fasiliteer.

 

  1. Regstel

Soms vereis die maak van dissipels dat jy iemand moet waarsku oor die keuses wat hy maak. Mense groei as jy hulle waarhede leer, maar ook as jy besondere foute regstel. Deel van Christenwees is om te besef dat sonde ons mislei en dat ons ander gelowiges nodig het om die dinge te sien wat ons nie self raaksien nie. Net so moet ons ander uitnooi om ons foute uit te wys – maak dit vir hulle maklik om dit te kan doen. Uiteindelik is die taak van regstelling die hele gemeente se taak. Dit mag selfs nodig wees om so ‘n persoon uit die kerk te ban (Matteus 18:15 – 20). Die oorgrote meerderheid van regstelling in die gemeente  moet in die privaat geskied.

 

  1. Modelleer

Jesus het sy dissipels geleer dat hulle mense moet leer om te gehoorsaam. Die doel van dissipelskap is om lewens te verander. Dit behels meer as om ‘n boek te lees met ‘n ander persoon. Ons moet ons hele Christelike lewe voor ander uitleef. Jesus is die voorbeeld wat ons moet volg. Ons kommunikeer nie net met ons woorde nie, maar met ons hele lewens. Dit behels meer as onderrig in ‘n kalskamer. Dit vereis onderrig soos ons kry by vakleerlinge. ‘n Vakleerling leer deur te luister, te kyk en deel te neem. Met verloop van tyd kry die vakleerling meer verantwoordelikhede.

 

  1. Liefde

Dissipelskap is ‘n vorm van wedersydse liefde. Ons word dikwels geseën en in die geloof bemoedig deur diegene wat ons leer.  Saam leer ons wat Paulus in Kolossense 3:16 sê: Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Ons moet ander gelowiges liefhê en hulle help wetende dat ons in die proses baie by hulle kan leer. Om dissipels te maak is nie net die werk van kundiges nie – dit is die werk van elke gelowige.

 

Die plaaslike gemeente is die beste plek vir hierdie verhodings om te groei. Ons moet egter onthou dat sekere mense net eenvoudig sal wegbeweeg. Ons moet dit in nederigheid aanvaar.

 




Leiers wat eensaam is

The tyrant dies and his rule is over, the martyr dies and his rule begins –Søren Kierkegaard

 

Leiers wat eensaam is

Leiers is dikwels eensaam. Vir jou emosionele gesondheid en vir langtermyn doeltreffendheid moet jy vriendskappe ontwikkel. Hoekom?

  • God het die mens vir gemeenskap en vriendskap gemaak.
  • Vriende help ons om geestelik te groei.
  • Vriende ondersteun ons as ons swaarkry.
  • Vriende hou ons aanspreeklik vir integriteit.
  • Vriende is vreugde – ons moet die lewe saam met ander mense geniet.

 

‘n Goeie plek om mense te ontmoet is in die gemeente – sluit aan by ‘n kleingroep en werk as vrywilliger is net twee voorbeelde. Om te weet dat jy vriende nodig het, is net die begin. Om vriendskappe te bou is noodsaaklik. Hoe doen ‘n mens dit? As betekenisvolle, lewenslange vriendskappe wil hê, wees die vriend wat jy graag wil hê.

 

Hoe kan ons vriendskappe ontwikkel? Rick Warren stel ses maniere voor.

  1. Belê tyd

Diep vriendskappe gebeur nie sommer per ongeluk nie. Dit is ‘n keuse. Hulle is ook nie onmiddellik of goedlkoop nie. Jy moet kies om tyd en energie te spandeer. Julle moet tyd saam deurbring. Maats kan jou breek, maar daar kan ook ‘n vriend wees wat nader is as ‘n broer (Spreuke 18:24). Jy gaan meer vriende kry as jy in ander belangstel eerder as om te wag tot hulle in jou belangstel.

 

  1. Wen hulle vertroue

Vertroue maak of breek vriendskappe. Jy praat met kennise, maar jy vertrou vriende. Baie gee te kenne dat hulle getrou is, maar wie kan ‘n werklik betroubare mens vind? (Spreuke 20:6). Vriende is betroubaar.

 

  1. Luister met deernis

Jy kan nie mense liefhê sonder om na hulle te luister nie. Daar is ‘n groot verskil tussen hoor en luister. Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). Wat beteken dit om met deernis te luister? Dit beteken jy kan jouself in iemand anders se skoene plaas. Genesing is dikwels die gevolg van weet dat iemand luister.

 

  1. Aanvaar hulle foute

Almal het foute; almal het swakhede en sonde. Niemand is volmaak nie. Aanvaar mekaar dan, soos Christus julle ook aanvaar het, tot eer van God (Romeine 15:6).

 

  1. Vier oorwinnings en deel verliese

Wees bly saam met dié wat bly is en treur saam met dié wat treur (Romeine 12:15); As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly (1 Korintiërs 12:26). Jy moet leer om die goeie dinge wat met jou gebeur te vier, maar ook die goeie dinge wat met ander mense gebeur – sonder dat jy jaloers of krities word.

 

  1. Bring die beste na vore

Jy wil mense help om te word wat hulle nie sonder jou kan word nie. Niemand kan alles wat hy behoort te wees op sy eie regkry nie. Jou beste vriend is die persoon wat die beste in jou na vore bring.

 




‘n Tweede en Derde Hervorming

It is better to pray often with brevity than rarely but at length. —D.A. Carson

 

‘n Tweede en Derde Hervorming

Net meer as ‘n dekade gelede pleit Rick Warren vir ‘n Tweede Hervorming: ‘n hervorming van dade. Die eerste hervorming was oor doktrine. Ons nader die 500ste herdenking van die Hervorming. Daar is toenemend gesprekke oor hervormings wat nodig is. Warren se oproep is nie juis uitgevoer nie. Dit is ook ‘n vals antitese wat geskep is tussen doktrine en dade. Die regte doktrine reg verstaan lei tot die regte dade. Ons kan nie die een of die ander een kies nie.

 

Warren het geglo dat die grootste uitdaging waarvoor die kerk in 2005 te staan gekom het, was ‘n verlies aan geloofwaardigheid. Niks het eintlik sederdien verander nie. Die kerk praat van lewens wat verander word, maar die wêreld sien die kerk se agenda as dieselfde as die samelewing s’n. Al verskil in leefwyse is kerkbywoning. Vandag woon baie Christene nie eers meer die eredienste by nie.

Hoe sou so ‘n hervorming van dade lyk? Dit sou die Bybelse beginsel van teenwoordigheid – om daar te wees – ernstig opneem. Niks is belangriker om langs diegene wat hulp nodig het, te kom nie. In Jesus se tyd was dit maar ‘n moeilike besigheid – hoe is Hy nie gekritiseer omdat Hy langs tollenaars, sondaars en dronkaards geloop het nie. As ons dit probeer, gaan die kritici gou toetree.

 

Brian Harris glo dat die oproep vir die tweede hervorming geldig was, maar dat ons tans ‘n derde hervorming nodig het: ‘n hervorming van die regte gesindheid. Dit is moontlik om die regte ding uit pligsbesef te doen, maar dit met ‘n hart van klip. Die ouer broer in die gelykenis van die verlore seun is ‘n goeie voorbeeld. Hy bly by sy vader se huis en doen altyd wat hy gevra word om te doen. Sy hart was nie reg nie. Hy doen alles wat reg was, maar binne in hom was sy hart nie reg nie. Hy steek dit weg tot op die dag dat sy broer terugkeer en met ope arms deur hulle vader verwelkom word. Toe volg die uitbarsting en sy hart word blootgelê.

 

In ‘n tyd van media versadiging tree deernis-uitputting maklik in. Ons hoor die een aaklige storie na die ander. Mettertyd raak dit ons nie meer nie. Ons begin aanvaar dat die mense wat swaarkry dit oor hulleself gebring het. ‘n Hervorming van gesindheid vereis dat ons die behoefte aan deernis weer sal raaksien. Ons sal dit net kan doen as ons sien dat ons ontvangers van God se deernis is, want ons het dit nodig gehad. As God nie sy oorvloedige liefde onverdiend oor ons uitgestort het nie waar sou ons gewees het?

 

Maar bring dit ons nie na die eerste hervorming terug nie. As ons Luther korrek verstaan, het jy  ‘n hervorming van doktrine, dade en gesindheid almal ineengevleg.

 

 




Psalm 17 (1)

 

It is easier to save us from our sins than from our righteousness. —C.H. Spurgeon

 

Psalm 17 (1)

Tema: Die Here se oë, lippe, regterhand en gesig

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie psalm spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons kry hier drie pleidooie. Van elke pleidooi na die volgende is daar vooruitgang. Die eerste pleidooi vertel van die psalmis se eerlikheid. Die verklaring van trou ontwikkel daaruit.  Die tweede pleidooi verwys na die mense van wie die psalmis verlos moet word. Daaruit volg ‘n jammerklag. Die derde pleidooi verwys na trou. Die dele word bymekaar gehou deur verwysing na liggaamsdele: lippe, oë, hart en mond, lippe, voetstappe, oor, regterhand,  oog, hand, hart en mond,, knie, hand en buik.

 

Vir die Christen klink die temas vreemd. Ons is tog almal skuldig, nie onskuldig nie. Ons moet mos vir ons vyande bid, nie teen hulle wees nie. Ons moet tog werk vir die goddelose se redding, nie sy ondergang nie. Verstaan ons egter die agtergrond van die psalm word ons vrae opgelos. Destyds is daar geglo dat ‘n mens se voorspoed ’n teken is dat God sy optrede goedkeur. Die digter streef eerlik daarna om die wil van God te doen. Hy staan dus teenoor die goddelose wat openlik sy ondergang beplan. As God sy eie eer wil beskerm, moet Hy dus kant kies teen die goddelose en die digter beskerm. Deur hom van sy vyande te red, sal God ook duidelik toon dat Hy lewe en vir sy volgelinge omgee.

 

17:1: Opskif

 ’n Gebed. Van Dawid.

 

17:1 – 2:

Die psalm begin met ‘n pleidooi aan die Here om tog te hoor en te reageer. Hy doen dit op grond van wie die Here is en wie hy, die psalmis, is.

Luister tog na ‘n regverdige saak, Here, gee tog aandag aan my hulpgeroep,

 hoor my gebed wat kom oor lippe sonder bedrog.

Hier kry ons ‘n oproep aan die Here om aandag te gee. Die basis vir hierdie pleidooi is die Here se trou. Die psalmis glo wel dat hy, in teenstelling met ander mense, ‘n regverdige saak het. Soos Job glo hy dat hy onskuldig is. Hy maak nie aanspraak omdat hy verwaand is nie,  maar omdat hy besorg is dat die mense mag dink dat God onregverdig is.

 

2Laat aan my reg geskied; mag u oë regverdig onderskei.

Hier voer die psalmis sy pleidooi verder. Die Here moet ‘n besluit neem – sy oë sien immers die psalmis. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk om te bevestig dat die pleidooi van ‘n regverdige mens kom. Daarom moet sy versoek toegestaan word.

 

17:3 – 5:

3U het my hart getoets, in die nag ondersoek ingestel,

U het my gelouter, maar U het niks gevind nie.

Ek het my voorgeneem: My mond sal nie oortree nie.

Die Here kan ter enige tyd in die mens kyk en sien wat daar aangaan. Die psalmis weet dit, maar hy vrees nie so ‘n ondersoek nie. Die Here moet nie net luister nie, maar ook kyk. Die taal van toets en ondersoek instel, verwys nie net na ‘n ondersoek nie maar ook na loutering – is dit werklik goud. Die nag is die tyd wat die Here mense se integriteit bepaal – wat hulle dink as hulle in die bed lê, weerspieël hulle gesindheid.

 

4Wat die optrede van mense betref: Volgens die woord van u lippe het ek die paaie van geweldenaars vermy.

5My treë het u paaie nougeset gevolg; my voetstappe het nie gewankel nie.

Die psalmis was baie versigtig vir die paaie van geweldenaars. Die geweld waaroor die psalmis bekommer is, is die geweld wat ander mense beroof – hulle land of hulle kos. Die psalmis loop in die voetspore van die Here. Daarom wankel hy nie; daarom kan hy die paaie van geweldenaars vermy.

 

Volgende keer gaan ons verder met Psalm 17.