Psalm 14 (2)

 

The martyrs did not die because they believed the gospel, they died because they proclaimed the gospel. —David Platt

 

Psalm 14 (2)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

14:4 – 6: Die gelowige weet daar is ‘n God.

4Is almal wat onreg pleeg dan sonder insig, hulle wat my volk eet soos ‘n mens brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie.

5Dan oorweldig skrik hulle, want God is met die regverdige geslag.

Julle maak die raad wat die magtelose gee, bespotlik, maar die Here is sy skuilp[lek.

Diegene wat onreg pleeg is sonder insig. Onreg mag na vals aantygings of vloeke verwys. Hulle verslind mense net so maklik as wat hulle brood eet. Hulle maak die lewe vir ander moeilik. In plaas daarvan dat hulle die Here vir hulle behoeftes aanroep, onderdruk hulle ander om so in hulle behoeftes te voorsien.

 

Die psalmis kwalifiseer hierdie goddeloses:

  • Diegene wat onreg pleeg – hulle is in magsposisies en misbruik hulle mag.
  • Diegene wat my volk opeet,
  • Diegene wat weier om die Here te dien – Hom nie aanroep en sy raad vra nie.

Dit lyk of die dwase mense die volksleiers – die regeerders – is. Al leef hulle asof God nie bestaan nie, behoort hulle te weet dat Hy bestaan. In die verbondsvolk se geskiedenis het Hy Hom so duidelik geopenbaar. Elkeen kon weet: Die Here is God. Wie dit weet en nie daarvolgens lewe nie, sal swaar gestraf word met die straf wat ‘n ligsinnige en ‘n dwaas verdien.

 

Skrik oorweldig die mense wat ander onderdruk en so vol vertroue is dat alles reg is – hulle wat glo dat hulle God buite rekening kan laat. Hoekom word hulle deur skrik oorweldig? Want God is met die regverdige geslag. Diegene teen wie hulle onreg pleeg, is God se mense – God is by hulle teenwoordig. Daarom kan jy nie met hulle mors nie.`

 

Julle maak die raad wat die magtelose gee, bespotlik, maar die Here is sy skuilplek. Die magteloses het geen alternatief as om vir God hulle skuilplek te maak nie. Dit is hoe hulle die druk in hulle lewens hanteer. Hier sien ons God se verhouding met kwesbare mense. Mense wat sê dat daar geen God is nie, huiwer nie om mense wat by God skuiling soek, aan te val nie,  want hulle glo dat God nie by die wêreld betrokke is nie. Om by Hom skuiling te soek, is volgens hulle nutteloos.

 

14:7: Die gelowige wag biddend op God se ingrype teen die goddeloses.

7Mag daar uit Sion redding kom vir Israel! Wanneer die Here die lot van sy volk omkeer, moet Jakob juig, moet Israel bly wees.

Hierdie is meer ‘n wens as ‘n pleidooi. Die psalmis kan nie wag vir God om sy menste te red en te herstel nie.Rediing uit Sion volg uit die oortuiging dat God daar woon. God is by sy getroue gemeenskap wat in Sion aanbid.

 

Volgende keer let ons op die teologiese implikasies van hierdie psalm.

 




Individualisme en die gelowige

 

Outside the church there is no salvation (Augustinus)

 

Individualisme en die gelowige

Met reg word individualisme as een van die grootste gevare van die kerk gesien. Dit is egter nie moontlik, en ook nie wenslik, om alle vorme van individualisme uit ons teologie te verwyder nie.

  • Individue moet steeds op die evangelie reageer.
  • Individue moet steeds gehoorsaamheid en lojaliteit beoefen.
  • Individue is steeds aanspreeklik vir hulle optrede.

Wat wel kortkom is die begrip van ‘n korporatiewe identiteit: ek is wie ek is omdat ek deel van die kerk is.

I am because we are; since we are, therefore I am (John Mbiti).

Teologie word in die kerk ontwikkel, belig, verkondig en toegepas. Ons moet ons identiteit in die  geloofsgemeenskap bou.

 

Die kerk is die openbare gesig van die evangelie. Vir baie mense is dit die enigste evangelie wat hulle ooit sal hoor.

 




Sonde: Wat is die invloed van sonde op my verhouding met God?

 

The gospel is not a truth among other truths. Rather it sets a question mark against all truths.” Karl Barth

 

Sonde: Wat is die invloed van sonde op my verhouding met God?

Ek gaan ‘n aantal blogs gebruik om oor sonde te skryf. Ek gaan, waar toepaslik, van die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika gebruik maak.

 

Ons het gesien wat die gevolge van sonde in die algemeen is. Nou gaan ons meer spesifiek kyk na die gevolge van sonde op my verhouding met God. Ons kyk na ‘n paar aspekte:

 

  1. Skuldgevoelens

My sonde het ek teenoor U erken; my skuld het ek nie bedek nie (Psalm32:5).

As gevolg van ons sondes staan ons voor God skuldig. Die evangelie leer vir ons dat God ons skuld verwyder. Jesus Christus neem ons sonde op Homself. Laat ons daarom ingaan met ‘n opregte hart, in volle geloofsekerheid, met ons harte besprinkel, vry van ‘n slegte gewete, en ons liggame gewas met skoon water (Hebreërs 10:22). Ons is vry van ‘n slegte gewete – ontslae van ons skuldgevoelens.

 

  1. Vervreemding

 Die denke van ons sondige aard is vyandskap teen God, dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie (Romeine 8:7).

As gevolg van die sonde kom daar ‘n wedersydse vyandskap tussen God en die mense. Die God-mens verhouding is verbreek. In die paradys het dit beteken dat Adam en Eva vir God weggekruip het en uiteindelik uit die paradys moes padgee. Maar God het hierdie vervreemding deur die kruis van Jesus Christus oorwin. As ons, toe ons nog vyande was, met God versoen is deur die dood van sy Seun, hoeveel te meer sal ons deur sy lewe verlos word noudat ons met Hom versoen is (Romeine  5:10).

 

  1. Degenerasie

Dit weet ons: dat ons ou mens saam met Hom gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kan word en ons nie meer slawe van die sonde sal wees nie (Romeine 6:6).

As gevolg van sonde gaan ons agteruit: van liefde na haat, van deug na die kwade. Ons enigste genesing is regenerasie deur die Gees.

 

  1. Verslawing

 Aan God die dank dat julle wel slawe van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die vorm van die lering waaraan julle onderwerp is … Want toe julle nog slawe van die sonde was, was julle ongebonde ten opsigte van die ongeregtigheid (Romeine 6:17, 20).

Almal van ons was slawe van die sonde. Dit is slegs deur die genade van God dat ons van die slawebande bevry is.

 

  1. Verharding van die hart

Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe van God, omdat hulle onkundig is deur die hardheid van hulle harte (Efesiërs 4:18).

Wat is die genesing van so ‘n harde hart? Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee (Esegiël 36:26).

 

Dit is duidelik dat sonde ons verhouding met God ontspoor. Daar kom ‘n verwydering tussen ons en God. Jesus met sy kruisdood en opstanding het hierdie gebroke verhouding herstel deur ons met God te versoen,

 

 




Leef ek vir ander?

 

 “So whenever we speak about what God has done, we should strive to show how much we depend on him alone, and how all we have comes freely from his bountiful hand.” – Johannes Calvyn

 

Leef ek vir ander?

As ek ‘n dissipel van Jesus is, moet ek my lewe vir ander oriënteer. Hierdie liefde vir ander is die hart van dissipelskap. Ons  dien ander vir Christus se ontwil net soos Hy gedoen het. Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie ander (Markus 10:45). Selfs voor Christus in die Skrif genoem word, leer God ons hierdie lesse deur die die familie. Hy maak ons ouers en so gee ons baie aandag aan een persoon – ons voed en lei hom/haar na ‘n volwasse lewe.

 

God gebruik die krag van hierdie ouer-kind verhouding as ‘n kanaal waardeur sy woord vloei. Moses gee die tien gebooie aan die volk en gee dan hierdie opdrag: Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan (Deuteronomium 6:6 – 7). Dissipelskap beteken dat ek die kennis van God en sy woord elke oomblik van die dag aan ander moet oordra.

 

Die beroemdste dissipelmaker was natuurlik Jesus Christus. Jesus het ‘n klein groepie geroep. Hy belê baie tyd en energie in hierdie twaalf dissipels. Hulle het bely dat Hy die Messias was; Hy wou  gehad het dat hulle by Hom  bly. Nou kan ons sê dat Jesus God is en daarom doen Hy dit.

 

In Handelinge 16 lees ons van een van Paulus se sendingreise. Ons begin deur te lees van Timoteus. Omdat Paulus vir Timoteus met hom wou saamneem. Soos Jesus en sy dissipels wou Paulus gehad het dat Timoteus by hom moes bly. Jare later skryf Paulus vir Timoteus: Wat jy my voor baie getuies hoor verkondig het, moet jy toevertrou aan betroubare manne wat bekwaam sal wees om die ook aan ander te leer (2 Timoteus 2:2).

 

Wat beteken dit as jy in geestelike kinders belê? ‘n Goeie beginpunt is Kolossense 1:28 – 29: Hom verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlik wysheid onderrig en leer, sodat ons elke mens tot geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy gee en wat kragtig in my werk. Paulus span hom in. Ons sal dit ook moet doen as ons dissipels wil maak. Die Christelike geloof is nie ‘n lui geloof nie.

 

Spog Paulus hier oor sy werk? Allermins: die krag wat hy het om hom in te span kry hy van Christus wat kragtig in my werk. As ons goed aan ander mense wil doen, sal dit net gebeur as God se Gees in en deur ons werk. Die wete dat God in ons werk, werk vrees teen. Ons weet ons werk is nie tevergeefs nie.

 

Daar is twee begrippe wat Paulus hier gebruik wat baie belangrik is: verkondig en bring: Hom verkondig ons … sodat ons elke mens in geestelike volwassenheid in Christus kan bring. Hy verkondig sodat hy kan bring. Hy verduidelik ook wat by verkondiging betrokke is. Hom verkondig ons deurdat ons alle mense met alle moontlik wysheid onderrig en leer. Paulus waarsku en onderrig. Dit sluit in die vermoë om tussen reg en verkeerd te kan onderskei. Dit is hoe Paulus sy geestelik volwasse mense voor Christus kan bring.

 

Om dissipels te maak vereis ‘n langtermyn siening; dit vereis die gesindheid van ‘n belegger wetende dat die opbrengs ewig is. Die belegging vind deur God se woord plaas. Ons moet die woord saai – nou. Ons sal eers later die oes sien.