Verkeerde gebruik van teksverse

 

“God has not revealed himself in any religion, including Christianity. He has revealed Himself in his Son. In Jesus Christ, God has spoken for himself, and we must hear that speech.” Karl Barth

 

Verkeerde gebruik van teksverse

Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting! (Jeremia 29:11)

Graig Groeschel is besig met ‘n reeks oor die verkeerde gebruik van gewilde verse. Hierdie keer kyk hy na Jeremia 29:11. Hierdie vers moet in sy konteks gelees word. Dit is deel van ‘n brief wat Jeremia aan die ballinge in Babilonië geskryf het.

 

Ons moet verstaan dat ons in die Bybel spesifieke en algemene beloftes kry. Spesifieke beloftes is beloftes gemaak aan spesifieke mense op ‘n spesifieke tyd. Algemene beloftes is beloftes wat vir alle mense en alle tye geld.

 

Jeremia 29:11 is ‘n spesifieke belofte gemaak aan Jode in ballingskap. Tog is daar dele van hierdie belofte wat ook vir ons geld. Ek weet wat Ek vir julle beplan. Het God planne vir ons? Beslis. Het Hy ‘n doel vir ons? Beslis. Het God planne om mense te seën? Beslis. God is goed en hy gee graag goeie dinge vir sy kinders.

 

Die Bybel is vol wysheid, maar mense is geneig om hulle gunsteling verse verkeerd te interpreteer. Ons lees hierdie vers asof God Kersvader is.  Ons gebruik hierdie spesifieke beloftes en gebruik hulle buite hulle konteks en maak hulle op ons van toepassing. So dikwels maak ons ons eie planne en sê dat dit God se planne is.

 

 




Psalm 8 (4)

God uses men who are weak and feeble enough to lean on Him – Hudson Taylor

 

Psalm 8 (4)

 

Teologiese Implikasies van Psalm 8

Die Nuwe Testament gebruik Psalm 8 om te help om sekere aspekte van God se belang uit te druk (1 Korintiërs 15:27; Hebreërs 2:6 – 8). Hierdie psalm kyk nie vooruit na ‘n nuwe tyd nie – dit is ‘n visie wat by die huidige hoort. Dit wys vir ons wat die mens tans is. Dit gaan van die veronderstelling uit dat ons nie mensekind kan sê voor ons God kan sê nie. Die psalm plaas ‘n verantwoordelikheid op en maak ‘n belofte aan die mens.

 

Hierdie psalm impliseer dat Genesis 1 nie as gevolg van die sondeval nietig verklaar is nie. Menslike ongehoorsaamheid beteken nie dat God nie meer die wêreld onder die gesag van die mens plaas nie. Net so is die mens steeds die beelddraer van God. Daar word ‘n band tussen die skepping en ons huidige ondervindings gemaak. Wat God bedoel het die mens moet wees, is steeds sy bedoeling vir die mens.

 

As ons na die heelal kyk, kan ons deur ons eie nietigheid oorweldig word. God wil hê dat ons anders na die heelal moet kyk – ‘n heelal waarin ons ‘n beduidende rol moet speel. Ons roeping is om saam te werk aan die voltooiing van God se skeppingsprojek; ons kan nie God se projek frustreer deur God se skepping te bederf nie. Ons kan deel wees van hierdie projek wetende dat die huil van kinders wat ly by God uitgekom het. Ons kan in geloof sê dat God oppermagtig is – ook oor die wêreld. God is nie ‘n laaste uur Verlosser nie.

 

Psalm 8 het ‘n wonderlike boodskap vir elke gelowige. Ons het ‘n spesiale status in die oë van God: aan die een kant, ‘n nikswerd sondaar, maar tog ook kind van God, koningskind. Ons moet ons status voor God aanvaar en die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan ten volle uitleef. Ons kan dit doen, want ons weet dat God die gehuil van kinders en suigelinge hoor en dat God grense opgerig het om te verhoed dat die teenstanders oorwin.

 

 




God se wil

 

We all should know that diversity makes for a rich tapestry, and we must understand that all the threads of the tapestry are equal in value no matter what their color. -Maya Angelou, digter

 

God se wil

Baie Christene sien God se wil as ‘n padkaart met baie spesifieke opdragte van God wat ons moet ontdek. Hier draai jy links, en daar draai jy regs. Natuurlik kan God sekere mense vir iets spesifieks roep. Ons sien dit in die Bybel. God se roeping is dikwels oper en meer elasties.

 

Meestal is God se roeping soos die doek van ‘n skilder. Ons kan verf waar ons wil, maar ons mag nie van die doek weg beweeg nie. Oral waar ons ons op die doek in ons daaglikse lewe uitdruk, is aanvaarbaar. God sal sy wil deur my werk, maak nie saak watter beroep ek kies nie. God se wil is nie ‘n Goddelike paaseier nie – ons moet elke eier wat weggesteek is, kry nie.

 

Ons moet bid dat God sy wil aan ons bekend maak, maar ons hoef nie slapelose nagte daaroor te hê nie. Ons moet groei daar waar ons geplant is. As God iets anders vir ons beplan het, sal Hy gou vir ons daarvan in kennis stel.

 

 




Die kultuur om ons verander

 

“The care of the soul is ‘a matter of the highest importance;’ beyond anything which can be brought into comparison with it.” – George Whitefield

 

Die kultuur om ons verander

As volgelinge van Christus sal ons nie altyd inpas in die wêreld waarin ons leef nie. Dikwels gaan ons in sekere gebiede van ons lewe teen die stroom van die kultuur. Ons het ‘n vaste Bybelse fondament nodig om vas te staan te midde van ‘n veranderende kultuur. Ons moet weet hoe God se woord ons verstaan van sake van die dag vorm. Ons moet weet hoe ons die evangelie met deernis en moed aan die mense om ons kan verkondig.

 

Ed Stetzer sê dat daar vier moontlike reaksies is op kultuurverandering.

  1. Ons pas aan

Ons gaan kompromië aan oor wat ons glo en hoe ons optree om die omliggende kultuur te paai. Ons mag selfs glo dat dit liefdevol en strategies is; dat iemand na Christus aangetrek sal word omdat hierdie benadering minder aanstoot sal gee. Ons doel is nie om om Jesus te volg makliker te maak nie. Die boodskap van die evangelie is teenkultureel en aanstootlik vir die mens.

 

  1. Ons onttrek

Hierdie is die ander uiterste. Ons distansieer ons volkome sodat ons nooit interaksie met die wêreld om ons het nie. Die bedoeling mag eerbaar en opreg wees. Maar Jesus het spesifiek gebid dat die Vader nie sy volgelinge uit die wêreld moet neem nie, maar om hulle binne die wêreld waarin Hy hulle uitstuur, te beskerm (Johannes 17:15 – 16). Die wêreld om ons het dringend die lewensveranderende krag van die evangelie nodig. Om ‘n afgesonderde subkultuur te vorm, is nie die toepaslike reaksie nie.

 

  1. Ons veg

Hierdie benadering is antagonisties en verdedigend. Hierdie benadering sien die kultuur as ‘n vyand wat verslaan moet word in plaas van mense wat verlos moet word. Ons begeerte moenie wees om te bewys dat ons reg is of om ons pad op die wêreld om ons te forseer nie. Ons doel is om te wys dat Christus waar en waardig is.

 

  1. Ons verweer

Dit beteken ons raak met oortuiging en deernis betrokke by die kultuur. Ons staan vas op die waarheid van God; ons word deur die Gees bemagtig; ons vertel die wêreld van God se liefde. Ons begeerte is nie om te oorwin nie, maar om te verlos. Dit is belangrik wat ons doen, hoe ons dit doen en hoekom ons dit doen. Ons harte moet brand met ‘n begeerte om God te verheerlik. Ons kan nie stilsit en stil bly terwyl God nie verheerlik word en mense ‘n pad loop wat tot selfvernietiging sal lei nie. Ons moet God vra dat sy Naam bekend en geliefd sal word in ons kultuur. Hierdie begeerte beteken nie net gebed nie, maar ‘n produktiewe lewe elke dag.

 

‘n Verkeerde reaksie op ons kultuur help nie die saak van Jesus Christus nie. Dit is letterlik ‘n saak van lewe en dood.