Die Bybel aanvaar formele toewyding

 

At every stage of our Christian development and in every sphere of our Christian discipleship, pride is the greatest enemy and humility our greatest friend (John Stott).

 

Die Bybel aanvaar formele toewyding

Is lidmaatskap van die gemeente ‘n noodsaaklike deel van die Christen se lewe? In 1 Korintiërs 5 roep Paulus die gemeente op om die tug toe te pas. Ons lees: Per slot van rekening is dit nie vir my om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. God sal hulle oordeel (5:12). Hier onderskei Paulus tussen dié binne en dié buite die gemeente. Later (in Hoofstuk 14:23 – 25) aanvaar Paulus dat ongelowiges ook saam met die gemeente vergader.

 

In Matteus 18 praat Jesus oor die hantering van ‘n broer wat sondig. In hierdie gedeelte aanvaar Hy dat sy volgelinge deel van ‘n gemeente sal wees. Hy aanvaar ook dat die gemeente ‘n mate van gesag het oor die individu. Die gelowige verstaan dat hy ook aan die gemeente aanspreeklik is; die gemeente verstaan vir wie hy aanpreeklik is.

 

Dit is veral oor tug waar die Skrif baie duidelik is oor die formele verband met die gemeente. Formaliteit is gewoonlik nie sigbaar as alles glad verloop nie. Sodra verskille ontstaan word die kontrak belangrik. Maar ons sien hierdie formele aard ook in die onderrig oor leierskap: Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee. Wees gehoorsaam en onderdanig aan hulle, want dan sal hulle hulle werk met vreugde kan doen en nie kla nie; anders het dit vir julle geen nut nie (Hebreërs 13:17). Na watter leiers verwys die skrywer hier? Na die leiers van die gemeente waaraan hulle behoort. Die leiers is ook verantwoordelik vir die spesifieke lidmate van hulle gemeente.

 

Elke gelowige moet betekenisvol en doelgerig deel van ‘n spesifieke liggaam van gelowiges wees. Daar moet hulle tot die welstand van die gemeente bydra. Hulle kan nie net verbruikers wees van wat die gemeente aanbied nie. Lidmaatskap verskil afhangende van die verskillende kontekste. Maak nie saak hoe jy dit doen nie, maar mense moet verstaan waartoe hulle hulle verbind. Die res van die gemeente moet ook hulle verantwoordelikheid teenoor nuwe lidmate verstaan.

 

Baie gemeentes is teen enige vorm van formaliteit. Maar die gemeente moet Christene tot ware dissipelskap oproep. Hierdie dissipelskap sluit in ‘n betekenisvolle toewyding aan die gemeente. Daar is geen ander konsep vir ‘n Christen in die Skrif nie.

 

 

 




Is ons nuttelose kinders van God?

 

A humble Christian studies his own infirmities, and another’s excellencies. —Thomas Watson

 

Is ons nuttelose kinders van God?

As ‘n wingerd nie druiwe produseer nie, waarvoor is dit goed? Skaduwee? Brandhout? Beide hierdie voordele is nie die primêre doel waarvoor hierdie bome gemaak is nie. In Esegiël 15 lees ons dat ‘n wingerdloot vir een doel bestaan. Ons kan nie meubels daarvan maak nie; ons kan nie ‘n pen daarvan maak om goed aan op te hang nie. As hy nie druiwe dra nie, dan het hy net een nut: Dit  word in die vuur gegooi om te brand.  As die loot eers verbrand is, het dit nog minder nut.

 

Hoekom was Israel nutteloos vir God? Hulle was troueloos. Hulle het afgode aanbid; hulle was ongelowig en ongehoorsaam. Petrus wou ten alle koste vermy dat diegene vir wie hy lief was onvrugbaar moes wees. Daarom sê hy vir hulle: En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, die godsvrug met liefde onder mekaar  en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense (2 Petrus 1:5 – 8).

 

Selfs tydens die ballingskap wou God nie gehad het dat sy mense nutteloos en onvrugbaar moes wees nie. God het altyd ‘n doel met waar Hy ons plaas – selfs in ballingskap. Hulle moenie passief wees nie,  maar moet die welstand van die mense in Babilon bevorder. Maar ons kan nie gelyktydig die welstand van ons stede soek en by hulle in hulle afgodery aansluit nie.

 

Die beste wat gelowiges vir ons stede kan doen, is om die evangelie te verkondig. Maar die evangelie sal nie deur ons groei as dit nie ook in ons groei nie. Ons beteken niks vir ons stede as ons die mure van die geloofsgemeenskap so hoog maak dat dit ‘n fort word waarin ons skuil nie. God kies nooit dat sy mense nutteloos moet wees nie – dit is ‘n keuse wat ons vir onsself maak.

 

Soek jou gemeente die welstand van die stad? Is jou stad ‘n beter plek om in te woon, omdat die gemeente bestaan? Hoe dikwels bid die gemeente vir die welstand van die gemeenskap? Sonde het geen voordele nie. In plaas van sonde te soek en nutteloos vir die stad te word, moet ons die welstand van ons stede bevorder en vir hulle bid.

 




Psalm 7 (4)

 

In our world too, a stable once had something inside it that was bigger than our whole world – C. S. Lewis

 

Psalm 7 (4)

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.] Hierdie is ‘n lang psalm so ek gaan ‘n hele aantal blogs aan hom spandeer.

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

7: 11 – 17: Loflied vir God. Vertroue in die regverdigheid van die regter.

Ons kry hier ʼn oorgang na ʼn geloofstelling. Dit is ʼn lang stelling – feitlik die helfte van die psalm.. Die oorgang is geleidelik.

 

In vers 11 – 14 word meegedeel wie God is. Dit gee die bidder nog meer geloofsvertroue. By Hom skuil die bidder, want God is gereed en by magte om die regverdiges, dié wat op Hom vertrou, te beskerm. Die psalmis gebruik drie stelle beelde om God se regverdige oordeel te beskryf:

  • In die stryd word die Here voorgestel as ʼn goed gewapende soldaat – Hy maak sy swaard skerp en span sy boog: Hy maak vir hom dodelike wapens gereed.
  • Die skuldige is soos ʼn swanger vrou: die onreg het in hom opgekrop en nou gee hy geboorte aan
  • Die skuldige is soos iemand wat ʼn diep gat gegrawe het met sy onreg en dan self daarin val – sy kwaad kom op sy kop af.

 

Teenoor God, die betroubare regter, en die bidder as onskuldige, staan die goddeloses – skuldiges. Hulle saai onreg, kweek boosheid en oes leuens. Die boosheid wat hulle vir die onskuldige beplan het, lei uiteindelik tot hulle eie ondergang. Die vromes kan onbevrees die handhawing van die reg tegemoetgaan. God is by hom en help hom. Ons moet nooit vergeet dat God die God van oordeel is nie. Ons kan maar seker wees ons sondes sal ons inhaal. Die bose is selfvernietigend.

 

7:11: 11Die verhewe God is my skild, Hy wat die opregtes van hart verlos.

Hierdie is die eerste van vier stellings oor God. God se wese  soos dit die bidder (in die konteks van ʼn onverdiende bedreiging)  beïnvloed, word beskryf. Die bidder sê weereens dat hy ʼn mens van integriteit is – hy is opreg. Daar is geen verskil tussen sy uiterlike woorde en innerlike gesindheid nie.

 

7:12: 12God is ’n regverdige regter, elke dag ‘n bestraffende God

 Hier kry ons twee verdere stellings oor God se wese. God is bereid om sterk op te tree teenoor mense wat dit verdien. Bestraffend kombineer gesindheid en optrede.

 

7:13 – 14: 13As iemand hom nie bekeer nie, maak Hy sy swaard skerp, span Hy sy boog en lê daarmee aan. Hy maak vir Hom dodelike wapens gereed; Hy maak van sy pyle brandpyle.

Die ontsteltenis word duidelik uitgespreek – deur van beelde gebruik te maak.  Mense kan die straf van God ontsnap. Hoe? As hulle ophou om die verkeerde te doen. Vergifnis is moontlik as hy hom bekeer. Maar as hulle hulle nie bekeer nie, volg God se toorn. God berei sy wapens voor.  Hy het ʼn hele arsenaal wapens – ʼn skerp swaard, ʼn gespanne boog en  brandpyle om mense en huise aan die brand te steek.

 

7:15: Kyk, wie verwagtend is van onreg en swanger is van boosheid, gee geboorte aan bedrog.

Nou kry ons ‘n konkrete beskrywing van die goddelose. Dit begin met drie verskillende beelde. Die goddelose word beskryf as ʼn vrou wat geboorte gee aan ʼn monster. Die pyn en angs van ʼn vrou wat geboorte skenk word beskryf. Onreg en boosheid gaan dikwels saam en verwys na verkeerde optrede teenoor ander mense. Bedrog beskryf dan hoe mense verkeerd optree teenoor ander – bedrog wat hulle vryheid, lewe en hulle plek in die gemeenskap in gevaar stel.

 

7:16: 16Wie ‘n put grawe en dit uithol, val in die gat wat hy gemaak het.

In die huishouding is die vrou se plig die grootmaak van kinders. Die man moet verseker dat die huis reg toegerus is (byvoorbeeld ʼn waterbron) en dat die lande teen wilde diere beskerm is (grawe putte om die diere in te vang). Die goddelose val self in die gat wat hy gegrawe het.

 

7:17: 17Sy kwaad kom op sy kop af; op sy skedel kom sy geweld neer.

Terugkeer kan beteken terugkeer van die verkeerde of dat jou moeite op jou hoof terugkeer. Geweld dui hier op fisiese geweld – die goddelose het ander seergemaak.

 

 

In hierdie gedeelte lees ons weer van regverdig. Dit word gebruik:

  1. Van God – Hy is die regverdige God en regter. Hy plaas sy volgelinge in die regte verhouding met Hom en dan gee Hy hulle krag om in gemeenskap met Hom te leef. Hierdie krag wat Hy ons gee, is ʼn belangrike element van sy liefde.
  2. Van sy mense. Om te sê hulle is regverdig beteken nie hulle kan almal irriteer met hoe goed hulle is nie. God se regverdiges is diegene wat vergifnis ontvang het, mense wie God huis toe gebring het toe hulle afgedwaal het.

 

 




Ons interaksie met God

 

“Tell me how much you know of the sufferings of your fellowmen and I will tell you how much you have loved them.” –Helmut Thielicke

 

Ons interaksie met God

In Esegiël 14:1 – 12 lees ons van Israel se leiers in ballingskap wat na die profeet, Esegiël, toe kom. Die woord van die Here het tot die profeet gekom: Mens, hierdie manne heg waarde aan afgode. Ons kan baie leer uit die interaksie tussen God en hierdie leiers.

 

  • Ons soek God op sy voorwaardes en nie ons s’n nie

Die leiers van Israel het die regte ding gedoen deur na God toe te kom, maar hulle doen dit met harte wat nie reg was nie. God is onder geen verpligting om positief te reageer op almal wat Hom nader nie. Om ‘n  gunstige antwoord by Hom te kry moet ons Hom met opregtheid en op sy voorwaardes nader. Dit sluit in sy eksklusiewe reg op my aanbidding. God verdra nie mededingers nie. Ons is dwaas as ons dink dat ons sonde nie ‘n invloed op ons verhouding met God sal hê nie. Om afgode in ons harte te koester, skei ons van God. Ons kan nie gelyktydig met God en met sonde loop nie. Ons is dwaas as ons van ‘n lewende God na ‘n nie-bestaande afgod afdwaal.

 

  • God bly genadig en barmhartig teenoor diegene wat hulle bekeer (vers 6)

Mense wat verlore gaan, maak God hartseer. Israel het God verlaat, maar Hy sê vir hulle: Bekeer julle! Laat staan julle afgode! Hoe hanteer ons diegene wat ons seergemaak het?

 

  • God se dissiplinering het altyd ‘n dubbele doel

Sy doel is altyd verheerliking van Homself en vir ons beswil. God wou die afgode uit Israel se harte wegruk. Sy doel met dissipline is die verandering van sondige mense na mense wat Hom alleen aanbid. Dan sal Israel nie weer van My af wegdwaal en hulle nie weer verontreinig met al hulle opstandige dade nie (14:11). Deur ons van ons sondes te verlos, verlos God ons van onsself. Hy tree in en doen wat ons nie op ons eie kan doen nie. Hy help ons om van die dooie afgode ontslae te raak. Om vir die lewende God te sterf is een ding; om vir afgode wat ons self gemaak het te sterf, is ‘n tragedie.

 

  • God gee aan goddelose leiers net wat hulle verdien

Diegene wat aanhou om die Here te verwerp, sal self verwerp word. As ons weier om onsself te bekeer, sal God optree met dade en nie woorde nie. God oordeel nooit sonder ‘n rede nie. Ek sal so ‘n man se teenstander wees en van hom ‘n voorbeeld, ‘n spot maak, hom van my volk afsny (14:8). Afgodery is dwaas; om te weier om die afgode te los en jou te bekeer is nog dwaser.

 

  • As ons iets anders as God en sy woord soek, moet ons nie verbaas wes as ons mislei word nie.

As ons nie ernstig oor God is en ons afgodery hanteer nie, is dit nie die Here wat ons verlei het nie. Tog sal Ek my hand teen hom uitsteek en hom tussen my volk Israel uit verdelg. God verlei nie mense nie, maar laat hulle die gevolge dra van wat hulle reeds doen.