Geestelik, maar nie godsdienstig nie

 

There is no such virtue as temperance in spiritual feasting. —Jonathan Edwards

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie

“Ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie.” Dit is iets wat ons vandag baie algemeen, veral by jongmense, hoor. Wat beteken dit? Baie jongmense gebruik dit om hulle persoonlike verhouding met Jesus te beklemtoon. Godsdiens, vir hulle, beteken reëls en gebruike – daardie wettisisme wat Jesus by die Fariseërs veroordeel het. Jong Christene distansieer hulle van al daardie dinge – godsdienstige tradisies wat gelowiges se aandag van dit wat waarlik belangrik is, aftrek.

 

Dit is interessant, want tot dusver het die kerk geglo dat “Geestelik, maar nie godsdienstig nie” na mense sonder enige godsdienstige affiliasies verwys. Nou begin ons besef dat dit na toegewyde Christene mag verwys – veral jongmense wat iets oor die gehalte van hulle geloof wil sê. Baie Christene is baie versigtig vir tradisie. In die Katolieke en Ortodokse kerke speel tradisie ‘n baie groter rol. Protestantse kerke beklemtoon persoonlike geloof wat nie deur gebruike of menslike tradisies belemmer word nie.

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Jongmense wil dikwels hiermee vir hulle van godsdienstige tradisies distansieer. Tradisie vir hulle is nie iets onskuldig nie – dit is iets wat vermy moet word. Dit geld nie net vir godsdiens nie – ook op die gebied van die politiek skram jongmense weg van tradisie.

 

Is dit nie tyd dat ons weer baie ernstig na ons tradisies kyk nie? Tradisie moet die besware van skeptici, maar ook van baie gelowiges, oorkom.

 




Die Bybel is ‘n lewegewende wet

 

I would rather wear out than rust out,” George Whitefield

 

Die Bybel is ‘n lewegewende wet

Min mense raak opgewonde oor wette. In Psalm 119 noem die skrywer herhaaldelik die Skrif as die wet. Dit maak nie juis ons harte warm nie – dit intimideer ons.

 

Die skywer van Psalm 119 het iets geweet wat ons dikwels nie raaksien nie: God se wet bring lewe. Dit is iets soos ‘n maatlyn – jy maak seker jy het die regte lengte materiaal. Sonder dat jy gedurig meet, verval die eenvoudigste take in chaos.

 

God se wet is die maatband waarmee ons alles meet; dit is die standaard waarmee ons bepaal wat goed of sleg en reg of verkeerd is. Natuurlik haat ons dit as iemand anders vir ons sê wat reg en verkeerd is – ons sal eerder ons eie insigte volg. Ons weet ons harte is nie 100% rein nie. As ons nie ‘n maatband het nie, weet ons nie wat reg of verkeerd is nie. Ons het iets ekstern nodig om reg van verkeerd te onderskei. Daardie iets is die woord van God.

 

Die Bybel behoort ons soms te weerspreek en te ontstel. Gebeur dit nie, lees ons nie die Bybel korrek nie. Ons projekteer net ons vooropgestelde idees na God en verbeel ons dat Hy met ons saamstem. Al weerspreek God se woord ons lei dit ons tog deur die lewe. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:105). Dit is asof jy verlore was en weer die pad kry. Nou kla jy nie dat die pad te nou of beperkend is nie – jy verbly jou net daarin dat jy nie meer deur dorings en distels moet voortstrompel nie.

 

Dit is waarom die skrywer van Psalm 119 hom in die wet verbly. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad oor my die oorhand kry nie (119:133). Die Satan wil hê dat daar dele van ons lewens moet wees waar ons God se woord verontagsaam. So baie van ons laat dit toe. Die wysheid van God is nie arbitrêr nie. Dit is nie ‘n opsionele deel van ons lewens nie. Die wysheid van God is die lewe self.

 




Die Psalms: Inleiding (4)

 

Idolatry is worshiping anything that ought to be used, or using anything that ought to be worshiped. ~ Augustinus

Die Psalms: Inleiding (4)

 

Genade kom eerste

Die psalms gee uitdrukking aan ‘n diepe bewustheid van die genade van God. Elke psalmis is diep bewus daarvan dat dit wat hy is, wat hy glo, dink en voel totaal afhanklik is van dié God wat eerste in sy lewe ingegryp het. Hy is bewus daarvan dat God Hom aan Israel geopenbaar het deur dit wat Hy gedoen het. God het die hemel en die aarde geskep vir die mens. God het Homself en sy liefdesplan aan Abraham, Isak en Jakob geopenbaar. Die psalmis kon dus terugkyk en na God verwys as die “God van ons Vaders”. God het hul voorvaders verlos uit Egipte, uit slawerny. Hy het hul beskerm en hul hul eie land gegee. Deur Moses het God aan hul die Wet gegee.

 

Maar daar is nog meer. God het Israel uit al die volke uitverkies as sy volk – sy spesiale mense. Na die gelofte wat God met Abraham gesluit het (Gen 17:1 – 8), het God ‘n gelofte met die hele volk aan die voet van die Berg Sinaï gesluit (Eks 19:3 – 6). As julle My gehoorsaam en julle aan My verbond hou, sal julle uit al die volke My eiendom wees.

 

Die naam wat God vir Homself gebruik het toe Hy Hom aan Moses geopenbaar het, was Jahweh. Hierdie Hebreeuse naam is nooit deur die skrywers van die Ou Testament gebruik nie weens hul eerbied vir God en sy Naam. Hul het eerder gepraat van “Die Here”, die naam wat vandag nog steeds in die psalms gebruik word. Jehowa is bloot die spelling van Jahweh soos gebruik deur die eerste drukkers van die Bybel in Engels 600 jaar gelede. Dit is onakkuraat en behoort nie gebruik te word nie.

Die God van die Gelofte

Aangesien die Here die God van die Gelofte is, word daar in die psalms taal gebruik wat geloftetaal genoem kan word. In die dae van Moses was dit algemeen vir seëvierende konings om ‘n gelofte-ooreenkoms aan te gaan met die mense van die volk wat oorwin was. Die hele begrip van ‘n gelofte was dus welbekend in hierdie tyd. Maar God se gelofte met Israel was anders. Die inhoud was nuut vir die mense van daardie tyd, en vir die mense van alle tye. Ons besef selfs vandag nog nie die volle omvang van die gelofte nie.

 

Die Hebreeuse woord hesed word gebruik om die inhoud van God se gelofte te beskryf – dit wat God vir Israel doen en deur Israel vir die hele wêreld. Dit is ook wat God verwag Israel moet doen. Die woord beskryf God se liefde en lojaliteit binne die gelofte en is daarom buite ons beperkte menslike begrip. Ten spyte van probleme met die vertaling van sekere “gelofte-woorde” ontdek ons die basiese waarheid van genade: God het eerste opgetree. God het sy volk gered, selfs voor hul nog kon vra. Geen psalmis smeek God vir redding nie. Wat hul wel dikwels doen, is om vir vergewing vir hul opstand teen God en sy wil te smeek. Hy smeek vir geloof of vir hoop of vir ‘n dieper bewustheid van God se genade. Praat hy uit dankbaarheid en liefde doen die psalmis dit met die volle wete wat God reeds vir hom gedoen het. Hierdie psalmdigters het geweet dat die offers van bulle en bokke deur God aan hul gegee is om hul op te voed in die ware betekenis van offer, ‘n optrede uit die hart van die mens.

 

 




Hoekom sien ons die Bybel as sleurwerk en nie as ‘n vreugde nie?

 

“It belongs to the church of God to receive blows rather than to inflict them — but, she is an anvil that has worn out many hammers.” – Theodore Beza

 

Hoekom sien ons die Bybel as sleurwerk en nie as ‘n vreugde nie?

Die langste hoofstuk in die Bybel is ‘n verruklike gedig oor … die Bybel self. Die skrywer van Psalm 119 glo dat God se woord die mooiste in die wêreld is. Die Bybel is die verbasende storie van God se liefde vir ons.

 

Die Bybel kan sekerlik intimiderend wees. Selfs Christene skram weg van die Bybel – ons kan nie juis opgewonde raak oor die Bybel nie. Ons is nie anti-Bybel nie; ons hou van die dele oor Jesus. Van die Ou Testamentiese stories is ook goed. Ook meeste van die psalms is aanvaarbaar. In die Bybel kry ons 1600 opdragte; daar is 40 verskillende skrywers; daar is meer as 3000 karakters – 31 met die naam Sagaria! Dan praat ons nie eers van die geslagsregisters nie.

 

Dan kry ons Psalm 119 waar die skrywer herhaaldelik sê dat hy hom in God se woord verbly. Verbly is nie juis een van die woorde wat ons gebruik as ons van die Bybel praat nie – eerder iets soos sleurwerk. Hoekom is dit so? Daar is baie redes hiervoor, maar ons kyk in hierdie blog na net een: Die Bybel is die openbaring van God en nie die verligte gedagtes van God nie.

 

Oral lees ons dat die Bybel God se wonderlike openbaring van Homself aan ons is. Dit is belangrik. Ons kultuur beskou die Bybel as ‘n versameling gedagtes oor God – soms goed, maar nie uniek nie. Ons glo dat alle godsdienste iets het om aan te bied. Die Bybel word gesien as ‘n eerlike poging deur individue om dit wat nie geken kan word nie, te begryp. Jesus het nie dit geglo nie. Hy het voortdurend die Skrif gebruik en elke keer as Hy dit gedoen het, het Hy dit met gesag gedoen. Jesus het geglo dat as die Bybel praat God gepraat het. Jesus het die Skrif verduidelik en vervul, maar nooit gekorrigeer nie. Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is (Matteus 5:18).

 

As jy die Bybel as ‘n versameling gedagtes sien, gaan dit jou nie juis verbly nie. Daar sal sekerlik dele wees wat interessant is en jou selfs sal inspireer. Maar ons het nog altyd wyse skrywes gehad en nie na hulle geluister nie. Hoekom sal ons nou na die Bybel luister?

 

Dit is die wonder van die Bybel: as ons in die donkerte verlore is, as ons voortstrompel in die lewe (wat ons almal doen), dan het ons nie slim gedagtes nodig nie. Dan het ons iets meer nodig. U woord, Here, staan vir altyd vas in die hemel (119:89). Dit is wat ons nodig het: Iemand in die hemel wat kan sien wat ons nie sien nie. Ons het God self nodig om die sluier terug te trek.