Hoe weet ek wat God se wil is?

 

Thinking deeply about the gospel is the only way to consistently feel deeply about the gospel. —C. J. Mahaney

 

Hoe weet ek wat God se wil is?

Hoe kan ons God se wil vir ons vasstel? In die Skrif kry ons drie beginsels.

 

1.     Soek raad

In die Spreuke-boek kry ons gereeld oproepe om wysheid te soek, maar ons lees ook dat die pad na wysheid loop deur die soeke na raad by diegene wat reeds wys is. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het, luister na raad (12:15. Kyk ook na 11:14, 13:10, 15:22, 19:20; 15:2).

Hoe meer verreikend die besluit is, hoe belangriker is dit om raad te vra. Hierdie beginsel kry ons duidelik uit die verhaal van Jetrro se besoek aan Moses, sy skoonseun, in Eksodus 18. Moses vertel vir Jetro wat hy alles doen. Die volgende dag gaan Jetro kyk na wat Moses doen. Hy vra vir Moses: Waarom doen jy die volk dit aan? Jetro sê vir Moses wat hy besig is om te doen is nie reg nie. Daar moet ‘n duidelike werksverdeling kom – Moses moet bekwame manne kry om van sy take te doen. Moses moes leer om te delegeer. Jetro gee selfs ‘n kort beskrywing van die soort mense wat Moses moes soek. Dan lees ons: Moses het na sy skoonpa geluister en gedoen wat hy gesê het.

 

Die lewe is soms meer ingewikkeld. Eeue na Moses lees ons die verhaal van Absalom wat in opstand teeen Dawid kom. Dawid moes uit Jerusalem vlug. Moet hy nou vir Dawid agtervolg of moet hy eers sy mag konsolideer? Hy het twee raadgewers. Agitofel was Dawid se top raadgewer, maar nou is hy aan Absalom lojaal. Hy beveel aan dat Dawid onmiddellik agterna gesit word en verslaan word. Gusai was ‘n vriend van Dawid, maar sit in Absalom se binnekring. Hy doen hom voor as iemand wat bereid is om vir Absalom raad te gee. Gusai se raad is dat Absalom voorlopig niks doen nie. Absalom volg sy raad – die verkeerde raad, want kort daarna sterf Absalom en Agitofel hang homself op (2 Samuel 15 – 18).

Almal van ons het raadgewers nodig, maar ons moet die raad wat ons kry versigtig oorweeg.

 

2.     Oorweeg die raad wat jy kry

In 1 Konings 12 lees ons die verhaal van Rehabeam en die skeuring van die ryk. Na Salomo se dood kom die volk na Rehabeam en vra verligting van die swaar las wat op hulle geplaas is – hoë belastings, dwangarbeid, ens. Rehabeam konsulteer twee groepe mense:

  • Die ouer mense. Hulle beveel aan dat Rehabeam gehoor gee aan die versoeke van die volk.
  • Die jonger manne. Hulle beveel aan dat hy hulle verpligtings vermeerder. Hy moet die volk laat besef dat hy die koning is.

Rehabeam aanvaar die raad van die jonger manne – die verkeerde keuse. Dit lei tot die skeuring van die ryk.

 

Hoekom lyk dit vir ons uit hierdie verhale asof daar slegte raad van God kom? Gusai se raad lei tot Absalom se dood; die jonger manne se raad aan Rehabeam lei tot die skeuring van die ryk. In 2 Samuel 15:31 bid Dawid: Here, laat daar tog niks kom van Agitofel se raad nie. God luister na Dawid se gebed en Absalom neem ‘n dwase besluit. In 1 Konings 12:15 lees ons: Die koning het nie aan die versoek van die volk voldoen nie. Dit was ‘n beskikking van die Here …  Absalom en Rehabeam se aanvaarding van slegte raad werk na God se groter doel. God se wil word gedoen.

Wat leer ons hieruit?

  • Dit is reg om raad by God se mense te vra, maar ons moet altyd die raad versigtig oorweeg.
  • Ons moet begin deur te vra waarom ons raad wil hê? Wat is ons motief? Is dit om soos Absalom en Rehabeam ons eie ego te bevorder? Of is dit om God se heerlikheid te bevorder? As dit oor my sukses en selfverheeliking gaan, kan ons nie verwag dat ons gaan slaag nie.

 

  1. Evalueer die raad wat jy kry

Die Nuwe Testament voeg nog by hierdie hierdie wysheid om die raad wat ons kry, te evalueer.

  • In Galasiërs 2:11 – 14 wys Paulus vir Petrus tereg. God kan ‘n persoon gebruik om ‘n ander tereg te wys. Paulus dring daarop aan dat ons ons geloof eerlik, deursigtig en reguit moet beoefen. Dit beteken ons optrede moet met ons woorde ooreenstem. In Handelinge 10 lees ons van Petrus se besoek aan Kornelius. Daar besef Petrus dat nie-Jode ook deel van God se koninkryk is. Hy eet saam met hulle. Maar toe ‘n groepie Joodse gelowiges daar aankom, onttrek Petrus hom. Hy soek nie konfrontasie nie. Vir Paulus was dit misleiding en hy verset hom openlik teen Petrus omdat sy optrede duidelik verkeerd was. Beide Petrus en Paulus gaan voort met sendingwerk. Petrus het Paulus se teregwysing gehoor en verander.
  • Soms mag selfs die eenparige raad van God se mense ons nie lei in die rigting wat God aandui nie. In Handelinge 20:22 sê Paulus vir die ouderlinge van Efese dat hy na Jerusalem toe gaan gedring deur die Gees. Wat daar met my sal gebeur, weet ek nie. In Handelinge 21 lees ons van verskeie groepe wat Paulus afraai om na Jerusalem te gaan: die gelowiges in Tirus (21:4), die profeet Agabus (21:11) en die mense wat saam met Paulus was (21:12). Eenparig teen Paulus se besluit. Tog gaan Paulus na Jerusalem. Soos verwag was daar probleme. Maar dit is ook hoe Paulus uiteindelik in Rome gekom het – die stad waarheen God hom gestuur het. Met ons hart gerig op Jesus moet ons soms die raad van goeie, gelowige vriende verwerp.

 

 




Ek verstaan nie alles nie

 

“If you would not murder yourself, take particular care never to preach too loud or too long. Always conclude the service within the hour. Then preaching will not hurt you.”–John Wesley

 

Ek verstaan nie alles nie

Miskien is alles nie vir ons duidelik nie; miskien is daar dele wat ons nie verstaan nie. Paulus sê vir Timoteus: Dink na oor wat ek sê; die Here sal jou insig gee om alles te verstaan (2 Timoteus 2:7). Moenie alleen voel as jy nie alles verstaan nie. Die Bybelskrywers leer ons dat God ons denke oopmaak om die boodskap van die evangelie te verstaan. Dit is hoe dit in Filippi begin het: God het die denke en hart van Lidia geopen: Een van dié wat geluister het, was ‘n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het … Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak (Handelinge 16:14).

 

Paulus is op sy tweede sendigreis. Hy sien die visioen van ‘n man wat hom smeek: Kom oor na Masedonië toe en help ons. In onderwerping aan die Heilige Gees maak Paulus gereed om na Masedonië te gaan omdat ons tot die oortuiging gekom het dat God ons geroep het om die evangelie aan hulle daar te verkondig. God is besig om sy plan om die evangelie tot aan die eindes van die wêreld te verkondig in werking te stel. Hy gebruik mense om sy sending uit te voer. Hy lei hulle deur sy genadige voorsiening en die Heilige Gees se leiding.

 

God in sy voorsienigheid lei ons dikwels deur deure toe te maak. Paulus  word verhoed om  na Asië en Bitinië te gaan (Handelinge 16:6 – 7). Soms wil ons iewers heen gaan, maar eindig deur elders te dien. Ons taak is om die werk wat God elke dag vir ons gee, te doen. Ons moet gereed en gewillig wees om rigting te verander as die Heilige Gees ons lei. Miskien spandeer ek te veel tyd om die volgende 10 jaar van my lewe te beplan  en gee nie genoeg tyd om die volgende 10 dae te beplan nie.

 

Hou op om jou oor jou “lewensplan” te bekommer en volg vir Jesus Christus. Moet ek iemand van Jesus Christus vertel? Is daar ‘n nuwe werk waarheen die Heilige Gees my lei? Het jy onlangs ‘n maaltyd of koffie gedeel met iemand wat Jesus Chistus nie ken nie? Hulle mag dit nie hardop sê nie, maar baie soebat: “Kom en help ons.”

 




Die pad van wysheid (3)

 

Three ways to make Jesus your king: trust him, obey him, and expect great things from him – Tim Keller

 

Die pad van wysheid (3)

In die vorige blog het ons na enkele aspekte van wysheid gekyk. Ons kyk na verdere aspekte van wysheid.

 

  1. Wysheid gaan oor strategieë om die doelwitte te bereik

Spreuke vertel vir ons hoe om die slaggate van die lewe te vermy. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van die pad af (10:17). Die wyse man is gewillig om raad te aanvaar. Die dwaas, daarenteen, loop nie in God se wysheid nie en aanvaar nie raad nie. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het luister na raad (12:15); Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê (19:20).

 

  1. Wysheid gaan oor verhoudings

Ons moet altyd die beste vir ander soek. Liefde, geregtigheid en trou is die maatstawe vir ons handelinge met ander. Ons het praktiese wysheid nodig om ons in hierdie deugde te lei. Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed (14:21); As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word (25:21 – 22). Liefde vir die naaste, al tree hy nie liefdevol op nie, is die kenmerk van ‘n wyse man. Die selfgesentreerde persoon is ‘n dwaas.

 

  1. Wysheid gaan oor selfbeheer

In Galasiërs 5:23 is selfbeheersing ‘n vrug van die Gees. Sonder  selfbeheer is die mens baie kwesbaar: ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke 25:28). Die Spreuke-skrywer verwys baie na ‘n gebrek aan selfbeheersing. Twee voorbeelde is: Wie kort van draad is, begaan dwaashede (14:17);  ‘n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon (14:29). ‘n Gebrek aan selfbeheer is ‘n resep vir mislukking.

 

  1. Wysheid gaan oor nederigheid.

Ons kan nederigheid op twee maniere sien: jy aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie en jy aanvaar regstelling in jou lewe – dinge wat jy moet verander. ‘n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister (25:12). Die wyse man luister na ‘n teregwysing en is dankbaar daarvoor. Wie op ‘n teregwysing ag slaan, sal lewe en ‘n tuiste vind tussen mense wat wysheid het (15:31).

 

Jesus kom na die wêreld as die volmaakte wysheid. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1 Korintiërs 1:30); Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:2 – 3). Die lewe van wysheid waartoe ons geroep is, is ‘n lewe om meer sood Christus te wees. Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van  nederigheid en wysheid getuig (Jakobus 3:13).

 

‘n Lewe van wysheid erken dat God weet wat Hy doen en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jakobus 3:17 – 18).

 




God praat eerste; dan bring ons ons vrae

 

You’re so heavenly minded, you’re no earthly good –  Johnny Cash

 

God praat eerste; dan bring ons ons vrae

Hierdie is ‘n verdere artikel van Mel Lawrenz oor hoe om die Bybel te lees.

 

Daar is twee basiese maniere waarop ons die woord van God leer ken.

  • Die eerste is om met ‘n oop gemoed en hart na die Skrif te kom – met ‘n gesindheid van ontdekking. Ons probeer ons vooropgestelde sienings te beperk. Ons laat toe dat die woorde van die skrywers hulle impak hê. God se woord stel die agenda. Om die Bybel op hierdie manier te lees, is ware ontdekking Dit is ‘n gesindheid wat sê: “God my verstand en hart is oop. Sê wat U wil, breek af wat U wil; bou wat U wil.”
  • Die ander manier om God se woord te bestudeer, is om na die woord met vrae te kom. Moet jy jou kind klein of groot doop – wat sê die Skrif? Ek wil van my vrou skei – wat sê die Skrif?

 

Beide benaderings is geldig. As ons die eerste metode gebruik, mag ons geleenthede om die Skrif toe te pas, mis. As ons net die tweede benadering gebruik, laat ons God nooit toe om die eerste woord te praat nie. In die proses mis ons die groot idees in die Skrif wat ons vrae nooit sou verwag het nie.

 

Om ons geloofsisteem  deur die eerste metode op te bou, is die beste langtermyn benadering om ‘n struktuur vir ons geloof te bou. Hoe benader ons die Skrif met ons vrae? Dit is verkeerd om ‘n vraag te vra en dan na die Bybel te gaan en sekere verse uit te soek wat God dalk mag gebruik om die dilemma op te los. Ons kan goeie antwoorde in die Bybel kry as ons vrae soos die volgende vra:

  • Wat is die betekenis van sonde?
  • Wat is die basis vir ‘n goeie huwelik?
  • Is ek verantwoordelik vir die foute van my kinders?
  • Wat is die werk van die Heilige Gees?
  • Hoe moet ek bid?

In sommige gevalle is dit maklik om ‘n antwoord te kry. Ander vereis werk.

 

Dikwels kry die vrae ‘n ander vorm as ons vir die antwoorde soek. Ons besef dat ons nie die regte vraag gevra het nie.

 

Daar is twee benaderings om die Bybel te bestudeer. In beide gevalle bestudeer ons die Skrif in gehoorsaamheid en onderwerping. Om die tweede benadering te volg – deur antwoorde op ons vrae te soek –  moet ons weet hoe om ‘n tematiese studie te doen. Daarna kyk ons volgende keer.