Do not have your concert first, and tune your instruments afterward. Begin the day with God. —Hudson Taylor
In die troonkamer
Hoe het God Homself aan ons geopenbaar? Daar is baie plekke in die Bybel waar God Homself geopenbaar het. Een voorbeeld is Jesaja 6.
God verskyn aan Jesaja. Jesaja roep uit: Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige (6:5). Dit gebeur met baie van ons – ‘n nuwe verstaan van God. Jesaja nooi ons uit om sy visie van God te deel in Jesaja 6:1 – 4. Wat sien ons hier van God? John Piper noem sewe dinge.
1. God is lewendig
In die jaar van koning Ussia se dood … Ussia is dood, maar God leef. Van ewigheid tot ewigheid is U God (Psalm 90:2). God was die lewende God reeds voordat die heelal tot stand gekom het. Daar is geen staatshoof wat 50 jaar van nou nog daar sal wees nie. God was altyd en sal altyd lewend wees.
2. God het gesag
Jesaja sien vir God: Hy het op ‘n baie hoë troon gesit. Daar is vrede en Hy is in beheer. Ons gee nie vir God beheer oor ons lewens nie – Hy het dit of ons nou daarvan hou of nie.
3. God is almagtig
Hierdie troon van God is nie een van vele nie. Hierdie troon is baie hoog. Hierdie troon is hoër as enige ander troon. Dit verwys na God se oppermag om sy gesag uit te oefen. Geen opponerende gesag kan God se opdragte tot niet maak nie. Wat Hy voorstel, bereik Hy: Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil doen, doen Ek (Jesaja 46:10). Hierdie almagtige gesag van die lewende God is ‘n toevlug vol vreugde en mag vir diegene wat sy verbond onderhou.
4. God is skitterend
Jesaja sien vir God op hierdie hoë troon sit en die onderste van sy kleed het die tempel gevul. Hy is ‘n God van overgelykbare grootheid. Hierdie grootheid van God sien ons op duidende maniere. Sy kreatiewe volheid loop oor in ongelooflike skoonheid. As die wêreld so wonderlik is, hoeveel meer skitterend moet die Here wat dit alles ontwerp en gemaak het nie wees nie?
5. God word eerbiedig
By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Ons weet nie wat hierdie skepsels was nie. Volgens Jesaja as hulle uitroep het die deure in hulle kosyne gerammel en die tempel word vol rook. Selfs hulle kan nie na God kyk nie – hulle bedek hulle oë. Hulle voel so onwaardig in God se teenwoordigheid dat hulle selfs hulle voete bedek. Groot soos hulle is, aanbid hulle hulle Skepper met nederigheid.
6. God is heilig
Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Heilig beteken afgesonder. ‘n Heilige ding is afgesonder van die gewone. Aardse dinge en mense is heilig in die sin dat hulle afgesonder van die wêreld en toegewy aan God is. Ons lees in die Bybel van heilige grond, heilige sabatte, ‘n heilige volk, heilige klere, die heilige Skrif, ens. Van wat kan jy God afsonder om Hom heilig te maak? Hy is tog afgesonder van alles wat nie God is nie. Daar is tog ‘n oneindige verskil tussen Skepper en skepsel. God is nie heilig omdat Hy die reëls nakom nie – Hy het die reëls geskryf. Sy heiligheid is sy unieke, goddelike wese. Sy heiligheid is wat Hy as God is. Daar is net nie woorde om God se heiligheid te beskryf nie. Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Habakuk 2:20).
7. God is heerlikheid
Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare! Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! (OAV). God se heerlikheid is die manifestering van sy heiligheid. Sy heerlikheid is die openbaring van sy heiligheid. In die wat naby My is, wil Ek my as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik (Levitikus 10:3 – OAV).
In Jesaja 6:10 sê God vir Jesaja dat hierdie boodskap die mense gaan verhard – hulle wil nie so ‘n God hê nie. In vers 13 lees ons egter van ‘n stomp waat oorbly: die gewyde geslag. Johannes haal hierdie vers in 12:40 aan. Hy voeg by: Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het (12:41). Jesus was dus die vervulling van die majesteit van Jesaja 6. Dit, sê Johannes, is waarom Jesus verwerp is: Hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God (12:43).