Bekering

 

I am glad you feel you are ‘standing still’ in your spiritual life. I should be still better pleased if you felt you were losing ground! Whatever makes for humility is so much to the good.” John Chapman

 

Bekering

Bekering is ‘n belangrike komponent van die evangelie en die Christelike lewe. Johannes die Doper se boodskap was: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe (Markus 1:4). Jesus begin sy openbare bediening met hierdie woorde: Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15).

 

Thomas Watson (1620 – 1686) sê: Repentance is a grace of God’s Spirit whereby a sinner is inwardly humbled and visibly reformed. Hy identifiseer ses bestandele wat noodsaaklik vir ware bekering is.

  1. Besef van sonde. Die mens sien duidelik dat sy leefwyse sondig is: Toe kom hy (die verlore seun) tot inkeer (Lukas 15:17). As ‘n mens nie sy sonde raaksien nie, is hy baie selde gemotiveerd om hom te bekeer.
  2. Ware berou oor sonde. Ek bely my ongeregtigheid, my sonde kwel my (Psalm 38:19). Ons moet die spykers van die kruis in ons siel voel as ons sondig. Droefheid volgens die wil van God bring bekering wat tot redding lei (2 Korintiërs 7:10). Hierdie is nie ‘n wêreldse hartseer nie. Ons sal dit duidelik sien uit die optrede wat dit tot gevolg het.
  3. Belydenis van sonde. Die nederige sondaar spreek vrywillig ‘n oordeel oor homself uit. Hulle erken opreg hulle spesifieke sondes. In die Skrif kry ons ten minste sewe voordele van sondebelydenis:
  • Belydenis van sonde vereer God. Josua sê vir Akan: My seun, gee tog aan die Here die God van Israel die eer wat Hom toekom en doen belydenis voor Hom (Josua 7:19)
  • Belydenis van sonde is ‘n manier om die siel nederig te hou. Asarja probeer keer dat die koning, Ussia, wierookoffers bring – iets wat net die priester mag doen. Ussia word briesend. Met die wierookpan is sy hand, gereed om die offer te bring: Maar terwyl hy teen die priesters uitvaar, breek daar melaatsheid op sy voorkop uit (2 Kronieke 26:19)
  • Belydenis van sonde gee verligting aan ‘n hart wat bekommerd is. Skep vir my ‘n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie (Psalm 51:12 – 13)
  • Belydenis van sonde suiwer ons van sonde.
  • Belydenis van sonde maak Christus vir die siel wat versoening nodig het, bemind.
  • Belydenis van sonde maak plek vir vergifnis. Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid (1 Johannes 1:9)
  • Belydenis van sonde maak plek vir genade. Wie sy sonde wegsteek, moet niks goed te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang (Spreuke 28:13).
  1. Skaam vir sonde is ‘n bestandeel van ware bekering. Esra bid: My God, ek is te skaam, ek het nie die vrymoedigheid om my kop voor U op te tel nie. Ons sonde is hoog opgestapel, ons misdade staan hemelhoog (Esra 9:6). Die verlore seun was so skaam vir sy sonde dat hy gevoel het dat hy nie verdien om nog seun te wees nie (Lukas 15:21). Sonde maak ons nakend voor God – misvormd in sy oë.
  2. Haat vir die sonde. Hoe meer ons vir Jesus liefhet, hoe meer haat ons die sonde. Bekering begin met die liefde vir God en eindig met die haat vir sonde. Om sonde te verdra, is die begin van sonde doen.
  3. Draai jou rug op sonde en keer terug na die Here. Kom met julle hele hart terug na My toe, vas, huil en treur! (Joël 2:12). Dit impliseer ‘n verandering. Dit moet hulle bewys met dade wat by die bekering pas (Handelinge 26:20). Esegiël skryf hierdie  woorde van God aan Israel: Bekeer julle! Laat staan julle afgode! Hou op met julle afskuwelike dade! (14:6).

 

Bekering beteken ook dat ek my volledig op God rig en in Jesus glo. Bekering se basis is dat ek die sonde haat en dat ek met blydskap bewus word van God se liefde en goedheid wat tot blydskap lei. Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot  bekering wil lei nie (Romeine 2:4). Ons verheug ons daarin dat Christus alles wat ons nodig het vir ons verlossing vir ons gedoen het.

 

 

 




Hoe lees ek die Bybel? Nuuskierigheid

 

There are no experts in the company of Jesus. We are all beginners.” – Eugene Peterson

 

Hoe lees ek die Bybel? Nuuskierigheid

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks oor hoe om die Bybel te lees.

Howard Carter en ‘n paar werkmense het vir maande in die sand in Egipte gesoek na verskuilde kelders. Eendag ontdek hulle ‘n deur. Hulle sny ‘n klein gaatjie daarin en ontdek die wonderlikste dinge daarbinne. Dit was die grafkelder van die bekende koning Toetankamen.

 

Howard Carter het in Engeland grootgeword – ‘n swak en sieklike seun, maar hy was baie nuuskierig. Dit dryf hom later na die sand van Egipte. Skatte word nie deur terloopse soekers ontdek nie, maar deur toegewydes ontdekkers – mense wat gedryf word deurdat hulle glo dat daar verborge skatte is en dat dit die moeite werd in om baie tyd en energie te spandeer aan die soeke daarna..

 

So is dit ook met Bybelstudie. Die mense wat die skatte van God ontdek, is diegene wat deur geloof en nuuskierigheid gedryf word – en wat toegewy is om die werk te doen. Om sommer sou lukraak deur die Bybel te blaai, sal nie sy diepste skatte blootlê nie. Ons verlang nie na God as ons net toevallig na Hom loer nie. God nooi ons uit om na sy woord te luister, die dieptes te ontdek en sy skatte te vind. Hierdie sluit in ‘n diep en persoonlike gesprek.

 

Goeie joernaliste word deur nuuskierigheid gedryf en nie oor wat die publiek sal dink nie. Goeie wetenskaplikes met integriteit ondersoek die bewyse – maak nie saak wat die uiteinde is nie. Sommige mense is van nature nuuskierig. Hulle verbind maklik met mense, want hulle stel belang in mense en respekteer hulle. Hulle open die Bybel soos ‘n argeoloog wat vir ‘n skat grawe.  Meeste mense moet egter kies om nuuskierig te wees. In Bybelstudie gaan dit oor geloof – die keuse om te glo dat daar goud daar is. Dit beteken jy respekteer vir God en dus ook sy woord. Ons moet sy woord diep in ons denke, gedagtes en hart ontvang.

 

Hoe doen ons dit? Hier is ‘n paar praktiese stappe.

  1. Moenie haastig wees as jy die Bybel lees en bestudeer nie. Ons moet ook die kleiner gedeeltes lees en nie net die groot opvallende punte nie.
  2. Maak asof jy dit nog nooit vantevore gelees het nie. Die verstaan van die Bybel is kumulatief oor ‘n leeftyd. Elke keer as jy ‘n gedeelte lees, lees dit vars, anders fokus jy net op dit wat jy vantevore onderstreep het.
  3. Verstaan jou vlak van kundigheid. Ons moet staatmaak op kennis wat ons van mense om ons kry. Daarom is Bybelwoordeboeke, ensiklopedië en kommentare van groot belang. Ons moet egter nie net daardie kundiges met wie se siening ons saamstem, lees nie
  4. Maar jou studie van die Bybel, gedrewe deur respek en nuuskierigheid, is en bly die kern van jou verstaan van die Bybel. Ja ons het kundiges nodig om besonderhede oor die geskiedenis, taal en kultuur in te vul, maar die grootste voordeel is wat ons kry deur studie en denke. Almal van ons kan dit doen.

 

Soos Carter kan ons almal na binne loer en wonderlike dinge sien.

 

 

 

 




God het van oordeel gepraat (3)

 

 “If the Spirit of God detects anything in you that is wrong, He does not ask you to put it right; He asks you to accept the light, and He will put it right.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (3)

So het hulle God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het (Psalm 106:21). Deur ‘n goue kalf te maak, wys Israel geen respek vir God en sy gebooie nie. Hulle aanbid nie vir God nie, maar beledig Hom. Hoe reageer God hierop? Hy straf die volk – Hy tref hulle met ‘n ramp (Eksodus 32:35). Hoekom tree God so drasties op? Die antwoord kry ons in Moses se lied: Israel het vreemde gode bo die Here verkies, Hom getart met hulle afskuwelike afgode,  offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie, aan onbekende gode, nuwe gode wat van die bure af kom, gode wat onbekend was aan julle voorvaders …Hulle het iets wat nie ‘n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks was nie (Deuteronomium 32:16 – 17, 21).

 

Wat gebeur as ons afgode aanbid? ‘n Afgod is geen god nie – dit is ‘n leuen. Agter die leuen staan die Satan en sy helpers – demone. Paulus stel dit so: Wat wil ek hiermee sê? Dat ‘n afgodsoffer of ‘n afgod enige betekenis het? Nee, maar dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer, en nie aan God nie (1 Korintiërs 10:19 – 20). Ons moet dit duidelik verstaan dat God nie enige vorm van aanbidding aanvaar nie. Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstelling van bose geeste aanhang (1 Timoteus 4:1).

 

Baie hiervan het reeds in ons tyd waar geword. Daarom kry ons so baie verskillende groepe en verskillende onderrig van mense wat die Naam van die Here gebruik. Jesus self het al gewaarsku teen vals profete: Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus 7:15 – 23).

 

Iets wat meer algemeen word, is dat die mens homself as sy eie God sien. Daarna kyk ons volgende keer.

 




Vrae wat ons oor elke teks moet vra

 

Inerrancy means the word of God always stands over us and we never stand over the word of God. —Kevin DeYoung

 

Vrae wat ons oor elke teks moet vra

Ons het vantevore ‘n soortgelyke blog geskryf. Ons gaan dit egter nou prakties toepas op die verhaal van die dogtertjie van Jaïrus en die vrou met bloedvloeiing (Markus 5:21 – 43). Hoe beantwoord hierdie gedeelte ons vyf vrae?

 

  • Wat leer hierdie teks my van God

God eer die geloof van almal wat deur Jesus na Hom toe kom. Sosiale status, geslag en ander onderskeiding is onbelangrik. God sorg vir die man wat besete was met bose geeste, die bekende man (Jaïrus), die uitgeworpe vrou met bloedvloeiing en die klein dogtertjie wat magteloos was. God het mense lief sonder enige onderskeid. Hy het geen witbroodjies nie.

 

  • Wat leer hierdie teks my van die sondige mensdom?

Siekte en dood is werklikhede van ons gevalle en sondige wêreld. Ons wêreld het die aanraking en genade van God deur Jesus Christus dringend nodig.

 

  • Wat leer die teks my van Jesus Christus?

Jesus gee om vir mense wat seergekry het. Jesus doen sy werk volgens sy tydtafel. As Jesus die onreines aanraak, word hulle rein, want Hy neem hulle onreinheid op Hom. Jesus gee genesing en lewe aan diegene wat Hom vertrou. Hy gee krag aan diegene wat geen krag het nie.

 

  • Wat wil God hê dat ek moet weet?

Ons kan met ons versoeke na Jesus kom – maak nie saak wie ons is en wat ons gedoen het nie. Ons moet in geloof na Hom kom – ons moet glo en nie bang wees nie. God aanvaar onvolmaakte geloof vanuit ‘n opregte hart as die voorwerp van die geloof Jesus Christus is.

 

  • Wat wil God van my hê?

God wil hê dat ons met enige versoek na Hom sal kom. God wil hê dat ek Hom vertrou ten spyte van my omstandighede. Hoekom? Want hy kan vertrou word om ons te genees en die groot vyand – die dood – te oorwin. Hoe weet ek dit? Ons kyk na die kruis en die leë gtaf. Wat ‘n Verlosser.

 

Hierdie vyf vrae moet deel van ons Bybelstudie word.