Hoekom toets God ons geloof?

 

“Right is right even if nobody does it. Wrong is wrong even if everybody is wrong about it.” (G. K. Chesterton)

 

Hoekom toets God ons geloof?

Ons verwag dat die geloofshelde in die Bybel van die een episode van gehoorsaamheid na die volgende sou beweeg – opeenvolgende geloofsoorwinnings op die pad na ewige heerlikheid. Dit is nie wat ons in die Bybel kry nie.

 

Kom ons kyk na Abraham. In Genesis 12 roep God hom om alles te los en Hom te volg. Abraham doen dit. Oorwinning. Daarna volg ‘n gemengde beeld van Abraham. Hy lag vir God se belofte; hy plaas sy vrou twee maal in gevaar om sy eie bas te red; hy kry ‘n kind by ‘n slavin; hy gee aan Sara die reg om daardie slavin te mishandel.

 

Hoekom vertroos dit ons? Ons lewens as Christene bestaan nie uit ‘n ononderbroke reeks oorwinnings nie. Abraham se op-en-af gehoorsaamheid sê vir my dat God deur gebroke mense soos ek en jy kan en sal werk. Deur Abraham se mislukkings leer ons iets van ons geloofsreis.

 

  1. Ons geloof neem toe omdat God ons toets

Net nadat Abraham God gevolg het, kom daar ‘n hongersnood in die land. Hy word gedwing om na Egipte te gaan. Dit was nie toevallig nie – God was besig om sy geloof te toets. Geloof is nie ‘n eenmalige besluit wat ons neem om God te volg nie – soos ‘n spier word dit sterker as dit geoefen word. Geloof is die belangrikste spier in die Christen se lewe en God wil dit versterk. Alles in die lewe van ‘n Christen groei in die grond van geloof.

 

  1. As God ons geloof toets, bring Hy ons dikwels tot op die rant

God gee nie vir Abraham ‘n seun onmiddellik nadat Hy dit belowe het nie. Abraham moes eers sy totale hulpeloosheid besef. Daarom moes hy dertig jaar wag voor die belofte vervul is. Abraham was reeds 70 jaar oud toe die belofte gemaak is. Hoekom moes hy nog dertig jaar wag? Om ‘n spier te groei, moet dit tot op die rant gedruk word. Dit is wat God met ons geloof doen – Hy druk ons tot die rant toe. As God onmiddellik ‘n seun vir Abraham gegee het, sou dit rede vir blydskap gewees het, maar nie vir geloof nie. Abraham moes eers sy eie hulpeloosheid besef voordat hy ten volle op God se beloftes vertrou het. Waarskynlik het dit God dekades geneem om daardie punt te bereik, maar Hy het daar gekom.

 

Miskien is God tans besig om jou tot op die rant te druk. Dis nie aangenaam of gemaklik nie. Niemand hou daarvan om deur die valleie te loop nie, maar dit is net daar waar God ons kan laat besef dat Hy voorsien. Ons kan nie hierdie toetse op ons eie slaag nie. Omdat Jesus getoets is ver bo enigiets wat ons ooit sal ondervind, kan ons Hom volg as ons getoets word.

 

 

 

 




Die krag van Gebed

 

To trust God in the light is nothing, but trust him in the dark—that is faith. —C.H. Spurgeon

 

Die krag van Gebed

In Markus 9:14 – 29 kry Jesus se dissipels met ‘n seun wat deur ‘n gees besete was, te doen. Hy  het dikwels op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.  Die gees het hom selfs in die vuur en in water gegooi. Die seun se vader het hom na die dissipels gebring vir genesing. Hulle kon hom nie help nie. Toe Jesus daar aankom wil Hy weet wat aan die gang was. Die seun se vader verduidelik die situasie aan Jesus. Na ‘n kort gesprek genees Jesus die seun.

 

Later toe hulle alleen was, wou die dissipels weet waarom hulle nie die seun kon genees nie. Jesus antwoord hulle: Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie. As ons bid, onderwerp ons ons aan die Bron van alle krag – Jesus Christus. Doeltreffende, lewensveranderende bediening kom nooit deur die krag van ‘n mens nie, maar deur die krag van God. Die mens is net die kanaal waardeur God werk. Gebed is die manier om hierdie kanaal oop te hou.

 

Die gesprek tussen die vader en Jesus is baie interessant. Die vader sê: As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons. Let op: As. Beteken dit dat hy nie geloof in Jesus het nie? Daarom sê Jesus vir hom: Vir die een wat glo, kan alles. Dan die vader se uitroep: Ek glo … Help my in my ongeloof. Dit is waar elke gelowige leef.  Ons glo, maar met die krag van Christus nodig om ons in ons ongeloof te help. Net die gelowige wat bid, kan ander help. Sonder gebed het jy geen bediening nie.

 




Wees meer soos Jesus Christus

 

 “The truth is like a lion; you don’t have to defend it. Let it loose; it will defend itself.” (Augustinus)

 

Wees meer soos Jesus Christus

Daar is ‘n toenemende ideologiese polarisasie in ons samelewing. Ed Stetzer sê dat dit aan ons die geleentheid gee om meer soos Jesus te wees. Die wêreld word meer sekulêr, maar die gelowiges bly toegewyd. Wat interessant is, is dat baie sogenaamde nominale Christene die Christelike etiket afskud. Die vraag is: Hoe moet ons as Christene in hierdie gepolariseerde samelewing leef?

 

In ‘n kultuur wat toenemend gepolariseerd is, word Christene se siening meer ongewild. Die versoeking om ons op drastiese maniere te verdedig neem toe. Maar Christene moet altyd hulle roeping om meer soos Jesus te wees onthou. Hier is drie maniere waarop ons dit kan doen.

 

  1. Luister beter na mense wat van ons verskil

Ons is vinnig om mense wat van ons verskil te veroordeel. Ons leef nie meer in ‘n Christelike nasie nie. Ons moet met sekulêre mense begin praat oor hoe ons in vrede kan saamleef. Hoe voel ongelowiges om tussen gelowiges te woon? Ons volg ‘n Persoon, Jesus,  wat ons beveel het om die wêreld van Hom te vertel. As ons aanhou skreeu op mense, sal ons hulle nie kan vertel van Jesus wat gekom het en vir hulle aan die kruis gesterf het nie. Niemand hou daarvan as daar op hulle geskreeu word nie.

 

  1. Ons moet mense ten spyte van ons verskille liefhê

Christus sê dat ons ons naaste soos onsself moet liefhê; ons moet ander behandel soos onsself behandel wil word. Ons moet leer om saam met ongelowiges te leef ten spyte van groot verskille. Ons kan nie mense liefhê as ons nie na hulle wil luister nie. Ons kan tog nie so bang wees om die sondekiem op te tel dat ons weier om saam met ongelowiges te eet nie. Die kerk is nie juis daarvoor bekend dat hy mense wat van hom verskil, liefhet nie. Die neiging is om buitestanders buite te hou. Ons kan nie mense terselfdertyd haat en bereik nie. Oppas vir woorde wat seermaak en verdeeldheid bring. Dit maak deure toe. Jesus het na mense soos Saggeus en die Samaritaanse vrou uitgereik wat van Hom verskil het.

 

  1. Lei mense om te verstaan wat ons glo

Ons het weer ‘n passie vir evangelisasie nodig – maar evangelisasie gebou op verhoudings. Die wêreld moet weet ons verskil in wat ons glo, maar ook in hoe ons optree. Leef die soort lewe wat aan ons geloofwaardigheid gee. Werk ons hard genoeg om te verseker dat mense ons aan ons liefde sal herken?

 

Ons staan by ‘n keerpunt – belangrik, maar nie ontmoedigend nie. Soos die samelewing meer sekulêr word, sal die kontras met Christene net duideliker word. Sal die verskil tussen die twee wees dat Christene bereid is om te luister, om soos Jesus lief te hê, om mense na Hom te lei of sal die verskil iets anders wees? Jesus se weg is altyd die beste weg.

 

 

 

 




Matteus 24:15 – 16

 

Courage is contagious. When a brave man takes a stand, the spines of others are often stiffened.” (Billy Graham)

 Matteus 24:15 – 16

The Gospel Coalition het ‘n afdeling waarin hulle moeilike Bybelgedeeltes verduidelik.

 

Wannner julle dan die ‘gruwel van die verwoesting,’ waarvan deur die profeet Daniël gepraat is, in die heilige plek sien staan – die leser moet goed hieroor nadink – dan moet dié in Judea na die berge vlug (Direkte vertaling in die Interliniêre Bybel).

 

Wat is hierdie gruwel van verwoesting?  Wat is die verband tussen die profesieë van Daniël en Jesus? Wie is die leser en waaroor moet hy nadink? Moet hulle letterlik na die berge vlug?

 

Ons moet begin deur hierdie vers in konteks te lees. Die woord gruwel kry ons meer as ‘n honderd maal in die Ou Testament en net enkele kere in die Nuwe Testament. ‘‘Gruwel” is gewoonlik ‘n baie groot sonde. Dit mag na seksuele sondes verwys, maar meestal verwys dit na oortredings van die verbond. In die profete-boeke verwys dit meestal na afgodery – veral as dit met die offer van kinders gepaard gaan. In Daniël 9:26 – 27 verwys dit na ‘n ander regeerder wat Jerusalem met sy tempel en offers sal vernietig. Hy sal op die een hoek van die tempel ‘n ding sit wat ‘n gruwel vir God is. In 11:31 lees ons weer van hierdie ding wat ‘n gruwel vir God is wat verwoesting aanrig (11:31). In Daniël verwys dit na Antioges Epifanes IV wat ‘n beeld en/of altaar vir Zeus in die tempel opgerig het.

 

Matteus 24:15 – 16 is deel van Jesus se profetiese rede. Hierdie rede begin waar Jesus vir sy dissipels sê dat die tempel afgebreek sal word (24:1 – 2). Die dissipels wil weet wanneer dit sal gebeur en wat die teken van u koms en van die einde van hierdie wêreld sal wees? (24:3). Hulle sien al hierdie gebeure as een. In werklikheid vra hulle drie vrae:

  • Wanneer sal die tempel val?
  • Wat is die teken van Jesus se terugkeer?
  • Wat is die teken van die einde van hierdie wêreld?

 

Jesus hoor en antwoord twee vrae. Matteus 24:3 – 35 hanteer hoofsaaklik gebeure wat lei tot die val van Jerusalem in 70. Vanaf  24:36 praat Jesus dan oor  die dag en die uur van die wederkoms. In 24: 4 – 13 is Jesus besig om sy dissipels voor te berei vir gebeure wat nog tydens hulle leeftyd sou plaasvind. Maar wie tot die einde volhard, sal gered word (24:13).

 

Die profesie in 24:15 – 16 maak net sin met verwysing na die val van Jerusalem. Hierdie gruwel kom in die vorm van die Romeine in die jaar 70. Die Romeinse leër was altyd ‘n gruwel, want hulle het beelde van die keiser, vir wie hulle aanbid het, saam met hulle gedra. Hulle het vernietiging gebring, want hulle bevelvoerder het die stad vernietig – hy het die Allerheiligste betree en dit ontreinig.

 

Die leser moet begryp dat hy gereed moet wees om te vlug as die Romeinse leër die stad nader. As Jesus ons oor toekomstige gebeure onderrig, is sy doel nie om ons nuuskierigheid te bevredig nie, maar om sy mense t beskerm en te onderrig.