Hoe bid ons?

 

The usefulness of the law lies in convicting man of his infirmity and moving him to call upon the remedy of grace which is in Christ – Augustinus

 

Hoe bid ons?

Jy leer baie van ‘n persoon deur te luister na sy gebede. Soms hoor ons gebede wat soos ‘n lysie vir Kersfees klink – ek wil dit hê; ek wil dat hê. Sommige mense wil soos die Fariseër mense met hulle gebede probeer beïndruk.

 

Ons kan baie by Nehemia leer van gebed. Toe Nehemia van die vervalle toestand van Jerusalem verneem het, bid hy vir vier maande.

 

Rick Warren sê dat ons in hierdie gebed van Nehemia vier geheime kry van gebede wat beantwoord word.

 

  1. God se karakter moet die basis van jou versoek wees

Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat U liefhet en u gebooie gehoorsaam (1:5). Nehemia sê drie dinge oor God:

  • God is groot – dit is sy posisie
  • God is ontsagwekkend – dit is sy krag
  • God kom sy beloftes na – Hy handhaaf sy verbond.

Die eerste ding wat Nehemia doen, is dat hy erken wie God is en dat Hy ‘n groot God is. Hy begin deur die regte perspektief te kry. Hy erken dat God ‘n getroue God is. God se karakter moet die basis van ons gebede wees.

 

  1. Bely die sondes in jou lewe

Ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het (1:6). Kyk net hoe dikwels praat hy van “ek” en “ons.” Ons  het U nie geëer nie; ons was ongehoorsaam … Dit was nie Nehemia se skuld dat die volk in ballingskap gesit het nie – dit het 70 jaar vantevore gebeur. Tog sluit hy homself in by die volk se sondes – “ek is deel van die probleem.”

 

Wanneer laas het ek/ons die sondes van ons volk of familie of ons vriende bely? Ons dink nie meer so nie, want ons is te individualisties. Die samelewing leer vir ons dat elkeen vir sy eie heil verantwoordelik is. Dis nie waar nie. Luister weer na Kain se vraag na hy sy broer vermoor het: Moet ek dan my broer oppas? Die antwoord is: Ja. Aanvaar die blaam. Moenie verskonings maak nie; moenie dink dit is altyd iemand anders se fout nie.

 

  1. Maak aanspraak op God se beloftes

Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het (1:8). Nehemia herinner God aan wat Hy in die verlede gesê het. Abraham, Moses, Dawid en die profete het dit gedoen: “God, ek wil U aan een van u beloftes herinner …”  Moet God herinner word? Nee. Sal God vergeet wat Hy belowe het? Nee. Hoekom moet Hy dan aan sy beloftes herinner word? Want dit help ons om te onthou wat Hy belowe het.

 

  1. Wees spesifiek in wat jy vra

As jy ‘n spesifieke antwoord op jou gebed verlang, moet jy spesifieke versoeke rig. As jy sommer so in die algemeen bid, gaan jy in ieder geval nie weet of jou gebed beantwoord is nie. Nehemia huiwer nie om vir sukses te bid nie. Daar is niks verkeerd daarmee om vir sukses te bid as wat jy vra God sal verheerlik nie. Dit is wat Nehemia gedoen het: Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen (1:11). As ek God nie kan vra om my te seën met wat ek besig is om te doen nie, moet ek dalk iets anders doen. God wil nie hê dat jy jou lewe moet mors nie.

 

 




Die Here is my herder

 

Every Christian is also an evangelist, who should teach other and publish the glory and praise of God – Martin Luther

 

Die Here is my herder

As iemand een psalm gememoriseer het, is dit waarskynlik Psalm 23. Waarom is hierdie psalm, een van 150 in die Bybel, so gewild? Dit was nie altyd die geval nie. Sy gewildheid het maar gewissel. In die VSA is hierdie psalm gewild omdat  Henry Ward Beecher, prominente prediker, dit in 1858 as die nagtegaal van die psalms beskryf het.

It is small, of a homely feather, singing shyly out of obscurity; But, oh, it has filled the air of the whole world with melodious joy, Greater than the heart can conceive. Blessed is the day on which that psalm was born.

Teen 1916 was die psalm deel van die begrafnisdienste in die Metodiste kerke. Waarskynlik was dit as gevolg van die laaste vers:

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Die feit dat dit ‘n kort psalm is  en dat hy oënskynlik individuele godsdiens beklemtoon, het ook tot die pslm se gewildheid bygedra.

 

Waaroor gaan die psalm? Dit kan as ‘n lied van vertroue geklassifiseer word. (Soos psalm 4, 11, 16, 62 en 131) Hierdie hoop word deur twee sentrale beelde oorgedra:

  • God is die herder wat die psalmis as ‘n skaap wat versorging nodig het, sien (vers 1 – 4).
  • God is ‘n gasheer wat die psalmis as sy gas sien (vers 5 – 6).

 

Wat opvallend is, is God se oorvloedige versorging – as herder en as gasheer. Die dood speel geen rol in hierdie psalm nie, behalwe in die bekende frase: in ‘n dal van doodskaduwee (OAV). Hierdie is ‘n ou vertaling wat sy oorsprong in die Septuagint het. Die Hebreeuse woord beteken waarskynlik nie ‘n dal van doodskaduwee nie. Daarom kry ons in nuwere vertalings eerder frases soos donker dieptes (NAV). As hierdie nuwe vertalings korrek is, vermeld die psalm nooit dood nie – dit gaan eerder oor lewegewende beelde van God wat vertroue inboesem en inspireer.

 

Maar wat dan van tuis wees in die huis van die Here  tot in lengte van dae? Tot in lengte van dae  het ‘n parallelle verhouding met my lewe lank vroeër in die vers. Die psalmis is diep dankbaar vir God se versorging wat hom in staat stel om goedheid en liefde te alle tye te ondervind. Dit stel hom ook in staat om gereeld na God se huis – die tempel – terug te keer.

 

Die boodskap is kragtig: die psalmis sal nie deur vyande nie, maar deur goedheid en liefde agtervolg word. Hy sal aanhou om God se teenwoordigheid in die tempel te ondervind. Dit is hoekom die psalm so gewild is. God se beskermende leiding en gasvryheid beteken dat hierdie psalm in feitlik alle omstandighede gebruik kan word. Dit fokus op God se oorvloedige versorging: my beker loop oor (OAV).

 




Hoe moet ek die Bybel lees?

 

My father’s values were old, traditional values. But just because they were old and traditional didn’t necessarily make them good. They were good values because they were biblical values, and biblical values are relevant in every generation.”- Burk Parsons

 

Hoe moet ek die Bybel lees?

Mel Lawrenz gaan ‘n hele reeks oor hierdie onderwerp skryf. Ons gaan gereeld daarna kyk.

 

Die Bybel is waar ons die stem van God hoor – die woord wat my konfronteer, nader roep, vervul, bemoedig en regstel. Ons moet die Bybel bestudeer. Bybelstudie is vir elke gelowige en is nie iets wat ons moet intimideer nie. Jy hoef nie Grieks en Hebreeus te ken nie en jy hoef nie duisende rande aan boeke te spandeer om die Bybel te bestudeer nie.

 

Die woord studie (van die Latyn stadium wat ywer en absolute toewyding beteken) verwys na ywer, toewyding en konsentrasie. As ek die Bybel optel en dit lees en dit wil verstaan en gewillig is om my aan die Bybel te onderwerp, bestudeer ek dit. Bybelstudie begin as jy na God draai en sê: “Ek wil U beter ken en ek is gewillig om aandagtig te lees – met toewyding, konsentrasie en ywer.”

 

Alles word dus bepaal deur ons harte: Wil ons ‘n woord van God hoor? Het ons ‘n sin van verantwoordelikheid om werklik die ware betekenis van die Bybelse tekste te verstaan? Sal ons op die Skrif as lewenstyl konsentreer wetende dat met verloop van tyd ons beter en wyser mense sal word?

 

Lees die Bybel met ywer.

 




Priscilla en Akwila

 

Always and everywhere the servants of Christ are under orders to evangelize. —J.I. Packer

 

Priscilla en Akwila

Priscilla en haar man Akwila het vir Paulus ontmoet toe hy Korinte in ongeveer die jaar 50 besoek het. Hulle word vriende, reisgenote en medewerkers in die bediening. Die verhaal begin in die jaar 49 toe Claudius, die keiser, alle Jode wat Chrestus gevolg het uit Rome verban het. Dit sluit Priscilla en Akwila in.

 

Hulle reis na Korinte. Hulle was net soos Paulus tentmakers van beroep (Handelinge 18:2 – 3). Paulus het by hulle ingetrek en saam met hulle gewerk. Toe hulle vir Paulus ontmoet het, was hulle reeds volgelinge van Jesus. Later reis hulle saam met Paulus na Efese waar hulle agtergebly het om die jong gemeente daar te ondersteun. In Efese onderrig hulle die begaafde prediker Apollos. Hulle onderrig hom oor die evangelie, veral die doop (Handelinge 18:24 – 26). Later, nadat die opdrag van Claudius tereggetrek is, het hulle na Rome teruggekeer (Romeine 16:3 – 4).

 

Ons lees ses maal van Priscilla en Akwila in die Nuwe Testament – elke keer saam as ‘n paar. Hulle tree op as leiers in die nuwe gemeentes en die mense het hulle waardeer. Hulle vennootskap beklemtoon een model van bediening in die vroeë kerk. Paulus verwys na hulle as medewerkers in Christus Jesus wat hulle lewe vir my gewaag het. Twee maal noem Paulus dit dat gemeentes in hulle huis bymekaar kom (Romeine 16:5; 1 Korintiërs 16:19).

 

Prisca is die Latyns vir “aan wie groot respek betoon word.” Sy mag ‘n hoër sosiale status as haar man beklee het, want vier maal verskyn haar naam voor syne. Die gewone gebruik was dat die man se naam eerste genoem word. Dit mag ook wees dat sy ‘n beter leermeester as haar man was, want as Handelinge 18:26 sê dat hulle vir Apollos onderrig het, verskyn haar naam eerste. Hulle was waarskynlik nie arm nie. Hulle huis was groot genoeg om ‘n huiskerk te huisves. Meeste vroue word nie volgens hulle beroep geïdentifiseer nie, maar ons lees dat hulle net soos Paulus tentmakers was (Handelinge 18:3).

 

Akwila was ‘n Latynse naam wat “arend” beteken. Hy is in Pontus in Klein-Asië (die huidige Turkye) gebore. Op een of ander stadium reis hy na Rome. Hy was ‘n tentmaker. Dikwels was die ambagsmanne vrygestelde slawe, alhoewel Paulus ook ‘n tentmaker was al was hy ‘n Romeinse burger deur geboorte (Handelinge 22:25 – 28). Meeste ambagsmanne was lede van gildes. Die Jode en Christene was nie lede van sulke gildes nie, want lede het die gode van die spesifieke ambag geëer. Hulle het ook gereeld bankette gehou waar die spesifieke  god geëer is en die vleis aan hom geoffer is.

 

Hier het ons ‘n voorbeeld van ‘n egpaar wat toegewyd in die koninkryk van God gewerk het.