Versoekings

 

Jesus said, ‘Say it – say our Father,’ and you will suddenly discover He is – Oswald Chambers

 

Versoekings

Mense het ‘n wonderlike vermoë om hulle slegte gedrag te regverdig. Een voorbeeld hiervan is: “Die duiwel het my dit laat doen.” Volgens Ben Witherington stem die Bybel, veral ten opsigte van gelowiges, nie saam met hierdie teologie nie. Die Bybel stem nie saam dat jy jou sonde kan regverdig deur jou huis, ouers, gemeenskap, skool, ens te blameer nie. Jakobus stel dit duidelik: Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort, en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood (1:14 – 15).

 

Dit is altyd sleg om te ontdek dat jy die bron van jou eie probleme en versoekings is. Ons sal eerder iemand of iets anders blameer. In sy bergrede sê Jesus: Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jy mag nie egbreuk pleeg nie.’ Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg (Matteus 5:27 – 28). Let net op wat Jesus as die kern van die probleem sien: ons eie begeertes. Jesus sê dat mooi vrouens die kern van die probleem is nie, maar ons begeertes.

 

Versoekings is nie sonde nie; om toe te gee aan versoekings is sonde.

 




Infiltrasie deur die evangelie

 

It is in the heart that God is preceived and not by reason. So that is what faith is: God perceived by the heart, not by the reason. Blaise Pascal

Infiltrasie deur die evangelie

Ons kan baie leer by die spesiale magte van die verskillende weermagte. Die Navy SEALS van die VSA kry hulle naam omdat hulle op drie maniere infiltreer (Sea, Air, Land). Die kerk het ook drie maniere van infiltrasie met die evangelie. Die manier wat gebruik word, word deur die situasie bepaal.

 

  • Gebed

Dit is waarskynlik die direkste metode om God in ‘n bepaalde situasie in te bring. Ons bid vir God se hulp; ons bid vir wysheid. Daar is egter meer aan gebed as net bid vir waar ons tekortskiet. “The goal of prayer is not to see who can spend the longest time in prayer … not to pray with greater feelings of certainty, or greater eloquence, or even greater frequency. The goal of prayer is to live all my life and to do all my ministry in the joyful awareness that God is present, right here, right now.” (John Ortberg) Gebed is om van hierdie groot waarheid bewus te wees: God is hier.

 

  • Teenwoordigheid

Hierdie is nog ‘n manier waarop die evangelie infiltreer. Ons praat van God se teenwoordigheid wat altyd daar is alhoewel ons geneig is om dit te vergeet. Maar teenwoordigheid het nog ‘n element: persoonlike teenwoordigheid. Net soos Jesus mens geword het en tussen die mense rondgeloop het, het ons ook die geleentheid om by ander teenwoordig te wees. Ons verteenwoordig Christus; ons is sy arms en bene en hande en voete vir mense wat nog nie van God se teenwoordigheid bewus is nie. Die probleem is dat ons dikwels fisies teenwoordig is, maar emosioneel afwesig. Teenwoordigheid in bediening beteken volledig teenwoordig – ten volle bewus van God se teenwoordigheid en ten volle bewus van wat in mense se lewens aangaan.

 

  • Die Skrif

Die Skrif infiltreer as ons God se woord betrek by die situasies waarin ons is. Ongelukkig kan ons die Skrif oppervlakkig of voortydig gebruik. Ons kan maklik vir iemand wat sukkel met pornografie sê dat die Bybel sê dat as jou oog jou pla jy dit moet uitruk. Dit help niks. Wat ons moet doen, is om die onderliggende oorsaak hiervoor vas te stel – afstand van God, eensaamheid, ens. Dan moet ons die Skrif gebruik om hierdie dieperliggende oorsake te hanteer. Gebruik die Skif, maar moenie dit as ‘n haelgeweer– trek die sneller en hoop jy tref iets – gebruik nie

 

Gebed, teenwoordigheid en die Skrif is drie maniere waarop ons die lewens van mense vir wie God ons geroep het om te bereik, kan infiltreer.

 




Moet ek al die Psalms lees?

 

I’d rather be found in Christ than lost in God – James Donney

 

Moet ek al die Psalms lees?

Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.  My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit … Dié wat my op straat sien, vlug vir my. Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan … (Psalm 31:10 – 14

Sjoe. Moet ons die klaagpsalms lees? Lees net Psalm 31:10 – 14. Die psalmis skep hier vir ons ‘n probleem. Wat hy daar beskryf, is op min van ons se lewens van toepassing. Met meeste van ons gaan dit baie beter. Kan ons nie maar sulke psalms oorslaan nie? Nee, daar is goeie redes om hulle te lees:

  1. Dit herinner ons dat daar Christene dwarsoor die wêreld is wat swaarkry – Christene wat deur diep waters gaan. Sing/lees ons hierdie psalms bid ons in werklikheid vir hierdie Christene. Dit herinner ons ook aan diegene in ons eie omgewing wat swaarkry. Ons word uitgedaag om na hulle in praktiese deernis uit te reik.
  2. Dit herinner ons aan wat ons werklik verdien. As gevolg van ons sonde het ons die reg op ‘n gemaklike lewe verbeur. Elke dag sonder pyn is ‘n dag van genade – van onverdiende guns. As ons wel swaarkry, moet ons altyd onthou dat daar ‘n dag sonder trane sal kom.
  3. Dit herinner ons om vir probleme en uitdagings voor te berei. Op een of ander stadium kom almal van ons voor moeilike tye te staan. Sing hierdie psalms op ‘n voorbereidende manier. Vra God om ons gereed te maak en toe te rus vir sulke tye as hulle kom.
  4. Dit herinner ons om al ons probleme na die Here te bring. Hy is ons enigste hoop in moeilike tye, maar soms is ons geneig om van Hom af weg te hardloop. Maar deur hierdie psalms roep God ons terug en sê vir ons: ‘Bring al jou pyn na My toe. Stort jou hart teenoor My uit. Vertel vir My presies hoe jy voel.” Hierdie is ‘n uitdrukking van ons groot behoefte en afhanklikheid van Hom
  5. Dit herinner ons dat ons lyding nie naasteby opweeg teen wat Jesus Christus vir ons gely het nie. Hy kon hierdie psalm soos niemand anders sing nie. Daarom moet ons dit ook tot lof van Jesus Christus sing.

 

Dink mooi voor jy besluit dat ‘n sekere deel van die Bybel nie iets het om vir jou te sê nie.

 




Die kerk vandag (10)

 

When we give to God we give him what is his; when we give to the poor we merely redistribute God’s wealth –  Derrett

 

Die kerk vandag (10)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Een ding wat ons vandag baie algemeen hoor, is dat gelowiges hulleself moet voed. As dit beteken om gelowiges op te lei en toe te rus om die Christelike dissiplines te beoefen, is dit reg. Wat ons nie nodig het nie, is ‘n groep eensame mense wat eensaamheid beoefen nie. Is meer individualisme werklik die antwoord?

 

Die kerk is die liggaam van Christus – en ons het dit nodig. Ons het die geloofsgemeenskap en die ondersteuning wat dit bied, nodig. Ons het ook die herders nodig.

 

Jesus vra vir Petrus in Johannes 21:15: Het jy my baie lief, meer as hulle hier? Ja, Here antwoord Petrus hom. Maar nou sê Jesus nie vir hom: “Leer my skape om hulle self te voed” nie. Nee, Jesus sê: pas my skape op. Jesus praat hier van ‘n herder se persoonlike sorg vir sy kudde. Jesus help vir Petrus om te sien dat sy rol die werk van Jesus Christus self moet weerspieël: “As jy my waarlik liefhet, sal jy aan ander doen wat Ek vir jou gedoen het.” Jesus gee nie net hulpbronne en programme uit nie, maar Hy sit/stap/praat/eet/bid saam met hulle. Hy gee hulle raad en help hulle reg; Hy bemoedig hulle. Hy sweet, huil en slaap voor hulle – en Hy sterf vir hulle. Jesus weet dat die skape ‘n herder nodig het.

 

Dit beteken nie ons moet nou alles los nie. Wat ons van moet vergeet, is dat ‘n program die sleutel tot geestelike groei is. Dissipelskap is nie ‘n sisteem nie – dissipelskap is om Jesus te volg. Dit vereis hulp wat meer persoonlik as ‘n program is. Die selfvoedingsprogram aanvaar dat wat mense kortkom is ‘n stel vaardighede om hulle behoeftes te hanteer. Jesus sê nie: “Leer my skape nie.”  Ons het vaardighede nodig, maar eerstens het ons genade nodig. Jesus is nie ‘n rolmodel nie, maar die soewereine God.