Each day of our lives we make deposits in the emotional memory banks of our children.” – Charles R. Swindol
Die kerk vandag (4)
Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church – verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.
Die Bybel is eintlik vaag oor hoe om kerk te doen. Ons kry nie ‘n bloudruk nie. Wat ons van die vroeë kerk lees, is einlik meer beskrywend as voorskriftelik. Ons weet ons moet die nagmaal vier. Hoe dikwels? Net druiwesap of wyn ook? Ongesuurde brood? Moet ons dit voor gaan ontvang? Wat sê die kerk van lidmaatskap of kerkregering?
Die kerk moes nog altyd die evangelie kontekstualiseer vir sy tyd en kultuur. Ons moet egter seker maak dat dit nie oor akkommodasie van die kultuur gaan nie – dat ons onbewustelik die waardes van ons kultuur aangeneem het nie. Kontekstualisering is belangrik, maar ook gevaarlik. Omdat die Bybel redelik vaag oor metodologie is, beteken nie dat alle metodologieë aanvaarbaar is nie. Nie alle metodes is neutraal nie. Ons moet ons aannames ondersoek. Net omdat ons dink ons kan iets doen, beteken nie dat ons dit moet doen nie.
Daar is veral twee ideologieë wat baie van dit wat die kerk doen dryf: pragmatisme en ‘n verbruikersmentaliteit.
As dit werk, kom ons doen dit. Ons moenie pragmatisme verwar met prakties wees nie. Die Bybel is prakties – lees net Spreuke. Pragmatisme is die soort denke wat waarde aan iets heg net omdat dit oënskynlik prakties is. Dit beoordeel die bruikbaarheid van ‘n praktyk bloot op resultate. Dit beteken ook dat as iets nie werk nie, moet ons dit nie gebruik nie. Natuurlik is dit soms waar.
Pragmatisme berus op ‘n voorafbepaalde maatstaf vir sukses. As ons glo ons kan ons eredienste vul deur ‘n kar weg te gee, is dit die regte ding om te doen. Maar sê nou net om ons eredienste te vul is nie ‘n neutrale resultaat nie? Wat daarvan as ons motiewe om ons eredienste te vul nie suiwer is nie? Sê nou net om die eredienste te vul gebruik meer hulpbronne as om mense te help om geestelik te groei? Hoe gebeur dit? Ons glo dat die resultate wat ons begeer ook deur God begeer word. As Paulus sê dat hy geplant, Apollos natgegooi het, maar dat God die groei gegee het, neem hy nie krediet vir die metodes wat hy en Apollos gebruik het nie – God gee die groei. Ons dink ons weet waarheen ons wil gaan, maar waar ons gaan eindig hang van God en nie van ons goeie idees af nie.
In Jesaja 6 roep God vir Jesaja om profeet te wees. Hierdie is ‘n praktiese saak. Maar Jesaja se bediening sou die pragmatis hewig ontstel het. Wat sê God: Julle sal hoor en hoor en tog sal julle niks verstaan nie. Hy sal 90% van die mense verloor. Is dit die soort visie waarvoor jy jou beskikbaar sal stel? Volgens die pragmatis lei bediening altyd tot groei, maar nie altyd soos ons verwag of begeer nie. Ons lees: So sal daar vir die land ‘n stomp oorbly: die gewyde geslag. Dit is die geslag waaruit Christus gekom het.
Pragmatisme is vandag aan die orde, ook in die kerk. Pragmatisme is anti-evangelie, want dit hanteer evangelisasie as ‘n soort piramiedeskema. Dit vergeet dat in die evangelies dit juis diegene aan die onderkant van die sosiale leer, die sonder invloed, juis vir die evangelie ontvanklik was. Ons draai ook Jesus se groot opdrag om: dit is nie meer gaan en vertel nie, maar kom en sien. Pragmatisme glo dat evangelisasie ‘n formule met gewaarborgde resultate is – as ons dit doen, sal dat gebeur.
Pragmatisme glo dat God se vermoë om enigiets te gebruik aan ons die vryheid gee om enigiets te gebruik. Die probleem is dat die onsigbare werk van die Heilige Gees nie iets is wat ons kan skeduleer nie. Dit gaan dikwels alles oor kwantiteit as ons dissipels maak en nie oor kwaliteit nie. Die dissipelskap wat volg, is vlak en dikwels kunsmatig. Pragmatiese dissipelskap maak pragmatiese dissipels. Die manier waarop die kerk sy mense trek, vorm sy mense.
Volgende keer kyk ons na die tweede ideologie: die verbuikersmentaliteit in die kerk.