Christus is ons geestelike aanbidding waardig.

 

How simple life becomes when things like mirrors are forgotten. -Daphne du Maurier

 

Christus is ons geestelike aanbidding waardig.

As ons God se grootheid sien, as ons die regte perspektief kry op wie Christus is en wat Hy vir my gedoen het, sal ek nooit weer speletjies met God speel nie. As ons Christus as die beeld van God sien, moet ons met liefdevolle aanbidding en gehoorsaamheid reageer As gevolg van Jesus Christus kan ons hierdie offers uit ‘n rein hart bring. Elke gelowige is ‘n priester geroep om geestelike offers te bring. As priesters bring ons lewende offers vir die Here.

 

Maar wat offer ons?

  • My liggaam (Romeine 12:1 – 2): Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
  • My finansies (Filippense 4:14 – 18): Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
  • My lof (Hebreërs 13:15): Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, die lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.
  • My goeie werke (Hebreërs 13:16): Moenie nalaat om goed te doen te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.
  • Diegene wat die evangelie aanvaar het as gevolg van my verkondiging (Romeine 15:16): Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies ‘n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is.

Deur God se genade mag ons betekenisvolle aanbidding gee aan Hom aan wie al die eer en heerlikheid toekom.

 

 




Die skepping sug

 

Joy is the most infallible sign of the presence of God.” Leon Bloy (1846-1917)

 

Die skepping sug

Op een of ander stadium vra elke Christen of dit die moeite werd is om ‘n Christen te wees. In Romeine 8:18 – 25 antwoord Paulus hierdie vraag met ‘n onomwonde ja. Hy sê: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Wat is hierdie heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek? Die skepping sien met gespanne afwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die hele skepping sal hernuwe, herstel en verlos word. Ons kindskap sal geopenbaar en erken word.

 

Ook sal ons as sy kinders gelykvormig wees  aan die beeld van sy Seun – net so heilig soos Hy is (8:29). Dit is wat heerlikheid is. Maar dit is nie die huidige posisie nie: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Toe die mens in sonde geval het, deel die skepping in daardie val. Die natuur is nie wat dit behoort te wees nie. Dit is van ons, wat veronderstel is om in harmonie met die natuur te leef, vervreem. Die skepping is aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Maar hierdie verydeling gaan gepaard met ‘n belofte van hoop wat God gegee het. Daarom kan die skepping in hoopvolle afwagting wag.

 

Tans is die skepping nog verslaaf aan verganklikheid (vers 21). Dit is aan ‘n voortdurende siklus van dood en agteruitgang onderwerp. Die natuur is in pyn en lyding vasgevang: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Maar dit is nie die laaste woord nie. Die skepping sal self ook bevry word … om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. In plaas van sugte sal daar vervulling wees. In plaas van pyn sal daar vreugde wees.

 

Dit is die toekoms waarna die skepping kan uitsien. Dit is Paulus se antwoord op die vraag of ons toekomstige heerlikheid die huidige swaarkry die moeite werd maak. Ons is nog nie daar nie, maar ons sal daar wees. Ons het die Gees ontvang … as die eerste gawe van God – die voorsmaak van dit wat sal kom, naamlik totale vryheid van die gevolge van sonde en die dood wat die Gees eendag aan ons sal gee. Dit gebeur as God ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (vers 23).

 

Ons weet dat ons nog nie is wat ons eendag sal wees nie. Ons het ook nie reeds alles wat ons eendag sal hê nie. Ons weet dat al ons beste dae nog voor ons lê en dat ons pynlike dae dan agter ons sal lê. Daarom, selfs tydens ons slegste dae weet ons: Dit is alles die moeite werd.

 




Kommentaar aanlyn

 

None of the important things God has for us to do in church each week can happen if we’re not there. —Tony Payne

 

Kommentaar aanlyn

Om mense se kommentaar aanlyn te lees, is ‘n interessante, en soms onrusbarende, studie in die menslike natuur. Die probleem is dat hierdie kommentaar dikwels onmiddellik gemaak word. Daarom is hulle dikwels agterlosig. Van elke ligsinnige woord wat die mense sê, sal hulle rekenskap moet gee op die oordeelsdag (Matteus 12:36). Dus: om kommentaar op die Internet te lewer, is iets ernstig vir God.

 

Hoe moet ons dan kommentaar lewer?

  1. Selde

Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel is verstandig (Spreuke 10:19). Ons moet ons lippe (en vandag ook ons vingers) in toom hou. Ons moet altyd onthou dat ons sondige natuur aan ons ‘n oordrewe gevoel van selfbelang gee. In nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3). Miskien is ons menings nie nodig nie.

 

  1. Stadig

Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie, en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19). As ‘n artikel jou kwwad maak, moet nooit skryf terwyl jy nog geïrriteerd is nie. As jy kwaad is, is dit moeilik om inskiklik en bedagsaam te wees (Titus 3:2). Wag en bid. Dan kan jy besluit of jy wil antwoord.

 

  1. Vriendelik

Wat julle sê, moet altyd vriendelik wees en van goeie smaak getuig; en julle moet weet hoe julle elkeen behoort te antwoord (Kolossense 4:6). Almal van ons lees dinge deur ons eie ondervindings en perspektiewe. Almal van ons sê en interpreteer dinge verkeerd. Daarom wees vriendelik en geduldig. Aanvaar die beste in ander mense.

 

Wanneer moet ons kommentaar lewer? Die doel om te praat, met jou lippe of vingers, is sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). As ons dan wel besluit om kommentaar te lewer, is daar ‘n paar voorstelle:

  1. Bedank

Dit is die beste rede om kommentaar te lewer. As die skrywer ons verstaan van ‘n onderwerp verbeter of ons bemoedig of ons waarsku, bedank hom daarvoor. Die stuk hoef nie perfek te wees nie, maar as dit ons gehelp het, kan ons hom bedank. As dit ons nie gehelp het nie, bly stil.

 

  1. Bemoedig

Mense vind dit makliker om ander te kritiseer as te bemoedig. Dit is dikwels trots wat ons kritiese denke besoedel. Praat mekaar moed in en versterk mekaar (1 Tessalonisense 5:11).

 

  1. Verduidelik

As ‘n artikel vir jou verwarrend is, vra eers vrae ter verduideliking. Moenie sommer onmiddellik allerhande gevolgtrekkings maak nie. ‘n Vriendelike vraag mag wys dat die skrywer ‘n fout gemaak het of dat die leser hom misverstaan het.

 

  1. Stel reg

Dit is selde nodig. Ons spandeer te veel tyd om kritiek uit te dink. Soms is daar ‘n ooglopende fout in die artikel wat belangrik genoeg is om ‘n regstelling te vereis. Maar in hierdie gevalle onthou Paulus se opdrag: ‘n Dienaar van die Here moenie rusie maak nie. Inteendeel hy moet vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om ander te leer en iemand wat onreg kan dra. Met vriendelikheid moet hy teenstanders teregwys. Dit kan wees dat God hulle bekeer en hulle tot kennis van die waarheid bring (2 Timoteus 2:24 – 25).

 

Luister weer na die woorde van Jakobus 3:6): Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe van die geboorte af tot die dood toe aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek. Jakobus skryf hierdie waarskuwing aan Christene.

 

 




Jesus het gesug

Do noble things, not dream them, all day long.”  Charles Kingsley

 

Jesus het gesug

Mense sug gereeld. Dit is dikwels as gevolg van frustrasie of ongeduld. In Markus 7 lees ons van Jesus wat ‘n doofstom man genees het. Ons lees dat Jesus sy vingers in die man se ore gesteek het en spoeg aan sy tong gesmeer het. Daarna het Hy na die hemel toe opgekyk, gesug en vir hom gesê:Effata! Dit beteken: Gaan oop! Die man is onmiddellik genees.

 

Hoekom het Jesus dan gesug. Dit kan tog nie wees omdat Hy gefrustreerd of ongeduldig of kwaad was nie. Hoekom was hierdie sug so betekenisvol dat Markus dit in sy evangelie ingesluit het? Daar is ‘n paar moontlikhede:

  1. Dit was ‘n sug van vergelyking

Ons sug as ons ‘n pragtige huis of tuin sien wat erg verwaarloos is. Jesus sug toe Hy die pragtige mens wat Hy gemaak het, nou so verwaarloos sien. Sy sug was dieper want dit het op die twee sintuie vir kommunikasie gefokus – stem en hoor. Kommunikasie is een van die dinge wat die mense van ander skepsels onderskei het.

 

  1. ‘n Sug van oorwinning

Soos die gewigopteller sug en kreun as hy die swaar gewig optel, so sug Jesus weens die groot inspanning om die man te genees. Jesus was nie net besig om die man se fisiese probleme te genees nie, maar Hy was ook besig om die man van sy sondes te verlos. Dit vereis ‘n grootse poging en het Hom gedreineer.

 

  1. ‘n Sug van bekommernis

Jesus besef sodra die man kan hoor en praat sal sy ore en lippe begin sonde doen. Hy sien dat groter versoekings nou hierdie man se voorland is. Hy is bekommerd hieroor en daarom sug Hy.

 

  1. ‘n Sug van deernis

Toe God die vernietiging van hierdie man se sintuie sien, sug Hy uit deernis. Hy het ons lyding op Hom geneem, ons siektes het Hy gedra (Matteus 8:17). Jesus het hierdie dinge diep aangevoel.

 

Hoe wonderlik om ‘n Verlosser te hê wat vir al ons beproewings omgee. Ek kan al my sugte na Hom toe bring.