Sonde en verlossing
Thanksgiving is an antidote for sin, for it is difficult to both give thanks and sin at the same time (Kyle Snodgrass).
Sonde en verlossing
BioLogos het ‘n reeks Creation, Evolution, and Christian Laypeople aangebied. As deel van die reeks het Tim Keller oor sonde en verlossing gepraat.
Daar is mense wat glo dat daar nie letterlik ‘n Adam was nie, maar tog die onderrig van Genesis 2 en Romeine 5 aanvaar. Dit is dat alle mense gesondig het en dat hulle deur Christus verlos kan word. Is hierdie benadering nie te simplisties nie?
Die evangelie is goeie nuus en nie goeie advies nie. Dit is nie riglyne oor wat ons moet doen om onsself te verlos nie, maar eerder ‘n aankondiging oor wat reeds gedoen is om ons te red. Die evangelie is dat Jesus in die geskiedenis iets gedoen het, sodat wanneer ons met Hom in geloof verenig is, ons die voordele van wat Hy gedoen het, ervaar. So word ons verlos. Hoe kan ons nou krediet kry vir iets wat ons nie gedoen het nie? Dit maak miskien nie vir ons sin nie, maar vir die mense van Jesus se tyd was dit sinvol. In solidariteit met ‘n vader of ‘n ander lid van die familie of van die stam is jy in ‘n verbondsverhouding met hulle. Jy word verantwoordelik gehou of jy kry krediet vir wat die ander persoon doen. In Josua 7 lees ons dat Akan se hele familie gestraf word omdat hy gesondig het.
In daardie tyd, en in die Bybel, is ‘n persoon nie wat hy is slegs as gevolg van sy persoonlike keuses nie. Hy is wie hy is deur sy stam en familie-omgewing. As hy dus iets goed of sleg doen, is ander in solidariteit of in ‘n verbond met hom en hulle word hanteer asof hulle gedoen het wat hy gedoen het.
Dit is ook, volgens Paulus, hoe die verlossing van Christus werk. As ons in Hom glo, is ons in Christus. Ons leef in ‘n verbond met Hom, want ons is verbind aan Hom, nie deur familiebande nie, maar deur geloof.
Maar wat het dit nou met Adam te doen? Paulus praat hieroor in Romene 5 en 1 Korintiërs 15. Aangesien die dood deur ‘n mens gekom het, het die opstanding van die dooies ook deur ‘n mens gekom. Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word (1 Korintiërs 15:21 – 22). Wanneer Paulus sê dat ons in Christus verlos is, bedoel hy dat ons ‘n verbondsverhouding met Christus het. Wat Hy in die geskiedenis gedoen het, kom op ons rekening as krediet. Maar in dieselfde sin sê Paulus dat ons as mense ook “in Adam” is. Adam is dus ‘n verbondsverteenwoordiger van die hele mensdom. Ons is in ‘n verbondsverhouding met hom en wat hy in die geskiedenis gedoen het, kom op ons rekening.
Ons kan tog nie in ‘n verbondsverhouding met iemand wees wat nooit in die geskiedenis bestaan het nie. As Adam dus nie bestaan nie, val Paulus se hele argument dat beide sonde en genade deur ‘n verbond werk, plat. As ons nie glo wat Paulus oor Adam geglo het nie, ontken ons die kern van Paulus se onderrig.
As jy nie glo in die val van die mensdom as ‘n enkele geskiedkundige gebeurtenis nie, wat is jou alternatief? Ons kan sê dat sekere mense stadig van God weggedwaal het – hulle het immers ‘n eie vrye wil. Hoe het die sonde dan versprei? Net deur ‘n slegte voorbeeld? Dit is nie wat die kerk geleer het nie. Ons leer nie sonde by ander nie – ons erf ‘n sondige natuur. Ons leer ook dat dit nie oorspronklik in ons natuur was om te sondig nie, maar dat ons iewers in sonde geval het.