Bybelstudie

In the fulness of time, God’s two creations, his whole universe and his whole church, will be unified under the cosmic Christs who is the supreme head of both (John Stott).

 

Bybelstudie

Baie van ons sukkel maar met Bybelstudie. Ons wil graag meer lees, maar ek moet eers dit of dat doen; ek het met ‘n leesplan begin, maar dit gou gelos … Kom ons kyk na drie verwaarloosde aspekte van Bybelstudie soos ons dit in Spreuke 2:1 – 5 kry: My seun, neem aan wat ek jou sê, maak wat ek jou voorskryf jou eie, hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Dan sal jy weet hoe om die Here te dien, sal jy ontdek wat dit is om God te ken.

 

  1. Ons het dringendheid verwaarloos

Hierdie is die woorde van ‘n vader aan sy seun. My seun – daar is ‘n dringendheid in sy woorde. Hy pleit by sy seun om God se woord te bestudeer. Ons moet weer hierdie dringendheid herwin. Dikwels beveel ons aan dat mense die Bybel moet lees – so asof dit opsioneel is. Vandag, vol van al sy aktiwiteite, het ons hierdie dringendheid nog meer nodig. Pleit ons by ons kinders om God se woord te lees? Hulle moet besef dat dit nie ‘n keuse is nie, maar ‘n saak van lewe en dood.

 

  1. Ons het harde werk verwaarloos.

Kyk na die aksie frases in hierdie verse:

  • Neem aan wat ek jou sê
  • Maak wat ek jou voorskryf jou eie
  • Hou jou ore oop vir die wysheid
  • Span jou in om te verstaan.
  • Roep insig by
  • Vra na gesonde begrip
  • Soek dit soos jy silwer sou soek
  • Spoor dit op soos ‘n verborge skat.

Aan die een kant moet ons dringend wees, maar aan die ander kant ook toegewyd. Om die Bybel te lees is nie maklik nie. Dis harde werk. Dit kom nie sommer outomaties nie. Dit is ‘n stryd. Daar is baie hindernisse en jy sal moet baklei om dit te laat gebeur. Ons sal moet volhard; ons sal hulp moet kry. Maar alles is die moeite werd.

 

  1. Ons het verbeelding verwaarloos

Ons sien nie meer God se woord as ‘n skat nie. Hierdie verse leer vir ons dat God se woord soos silwer en ‘n verborge skat is. Ons is op soek na ‘n waardevolle artikel. Baie van ons probleme om die Bybel te lees, sal opgelos word as ons weer besef dat ons hier met ‘n skat te doen het. Jy hoef nie iemand te oortuig om toegewyd na ‘n skat te soek nie!

 

Miskien moet ons meer emosie in ons lees van die Bybel sit. Miskien moet ons meer ons verbeelding as ons rasionele denke aanspoor. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ‘n verborge skat. Hierdie is emosionele taal; dit stimuleer jou verbeelding.

 

Hoe dikwels verwaarloos ons nie een van hierdie drie aspekte nie. Ons dink aan Bybelstudie in terme van roetine en kennis. Miskien moet ons weer kyk na dringendheid, harde werk en verbeelding.

 

 




Die plaaslike gemeente

 

Pray often, for prayer is a shield to the soul, a sacrifice to God, and a scourge to Satan. —John Bunyan 

 

Die plaaslike gemeente

In Efesiërs 2 praat Paulus van die nuwe mensheid. Hy gebruik drie beelde om hierdie nuwe gemeenskap te beskryf. Die ooglopende gevolgtrekking uit hierdie drie beelde is dat God ‘n gemeenskap en nie ‘n klomp individue wat in Hom glo, wil skep. Ons kan tog nie stene los van die gebou wees nie; ek kan tog nie ‘n seun/dogter los van die famile wees nie.; ek wil tog nie ‘n uitlander weg van my volk wees nie. Baie mense dink die kerk is onnodig, onbelangrik of selfs ‘n hindernis om groot dinge vir God te doen. Dit is nie wat God vir die Christen beoog het nie.

 

Die Nuwe Testament sê die kerk is ons fundamentele identiteit. Dit moet vir ons belangriker wees as waar ons werk of aan watter klub ons behoort. As ons los van die geloofsgemeenskap staan, volg ons nie die Nuwe Testamentiese patroon nie. Dit is nie goed om los te staan van die aanspreeklikheid en ondersteuning van ons broers en susters nie.

 

Die Nuwe Testament aanvaar dat elke Christen deel van ‘n plaaslike kerk is. Dit weet niks van individuele Christenskap of van mense wat sê dat hulle deel van die universele kerk is en daarom nie hoef aan te sluit by die plaaslike, sigbare kerk nie. Ons kan nie net by ‘n erediens insluip en weer uit nie – ons moet familielede wees.

 

Kerkdissipline aanvaar dat lidmate van die kerk identifiseerbaar is. Mense het geweet wie deel van ‘n kerk was. Julle voorgangers hou wag oor julle lewe en moet aan God rekenskap gee (Hebreërs 13:17). Hulle moes tog die mense oor wie se lewe hulle moes wag hou, kon identifiseer. Die Nuwe Testament beklemtoon die belang om aan ‘n plaaslike kerk te behoort. Dit is hoe God wil hê dat ons ons geloof moet uitleef en mekaar moet liefhê. Die geloofsgemeenskap is ‘n teken van God se genade. Dit is genade om saam te kan byeenkom en so mekaar se geloof te versterk, mekaar se laste te dra, mekaar te bemoedig, deur mekaar geleer en tereggewys te word, om saam nagmaal te gebruik.

 

Al hierdie voorregte is as gevolg van die kruis van Jesus Christus. Hy het ons nader getrek en een gemaak.

 




Die groot opdrag: vermenigvuldiging of byvoeging?

 

What is the greatest need in the Church today? … The one thing we need in Western Christendom is a deeper knowledge of God. We need to know God better (D. A. Carson).

 

Die groot opdrag: vermenigvuldiging of byvoeging?

“Sending capacity, not seeting capacity, should define a church’s “success in mission’ J. D. Greear

Jesus se siening van die kerk was nie ‘n groep mense om een leier bymekaar nie, maar veelvuldige leiers wat uitgaan in die krag van die Gees. Dink net aan die krag van ‘n kerk waar gewone lidmate weet wat die beteken om gevul deur die Gees te wees en om deur die Gees gelei te word. God se plan om Homself in die kerk te verheerlik was nie deur die nuutste kuns of duur geboue nie. Daar is niks verkeerd met hierdie dinge nie, maar die ware krag van die kerk kry ons in die Heilige Gees wat deur gewone mense beweeg as hulle sy teenwoordigheid in die strate uitdra.

 

Lukas gaan uit sy pad om te wys dat die grootste vordering in die verspreiding van die evangelie die gevolg is van die optrede van gewone mense. Kyk ons na die wonderwerke in Handelinge sien ons dat 39 van die 40 buite die kerk gebeur. Mense vandag moet toenemend buite die mure van die kerk bereik word. Daarom is individuele gelowiges gevul met die Gees vandag belangriker as ooit vantevore.

 

Dit beteken ook dat die kerk toenemend moet fokus op die bemagtiging en toerusting van gelowiges. Dit is baie bemoedigend om te sien hoe ons lidmaatgetalle groei, maar hierdie inkrementele groei gaan geen verskil maak aan die mense buite die kerk nie. Ons moet ons mense bemagtig om God se krag te vermenigvuldig daar waar hulle is.

 

God se koninkryk word uitgebou as ons leiers vermenigvuldig en uitstuur en nie almal vashou nie. Ons moet ons gemeenskappe met leiers vul – nie bekeerlinge nie, maar dissipels. Die grootste krag is nie as ‘n gemeente sy getalle vermeerder nie, maar as ons mense bemagtig en loslaat in die wêreld. Ons doel is nie ‘n klomp mense bymekaar om ‘n leier nie, maar ‘n fabriek van leiers wat uitgaan in die wêreld en oral nuwe gemeentes begin.

 

 

 




God se bemarkingstrategie

 

Saying you ‘understand the Bible’ unaided is like saying you’ve taken out your own appendix. Jim West

 

God se bemarkingstrategie

En hulle twee (Paulus en Barnabas) het ‘n hele jaar lank saam in die gemeente gewerk en baie mense onderrig. In Antiogië is die gelowiges vir die eerste keer Christene genoem (Handelinge 11:26)

Bemarking is ‘n groot besigheid. Van 2000 – 2006 het Coca-Cola 15,5 biljoen dollars aan advertensies gespandeer. In 2009 het Microsoft 1,4 biljoen dollars aan advertensies spandeer.

 

Wat van die kerk? Sal advertering sukses van Jesus se groot opdrag waarborg? Wat is God se bemarkingstrategie? God as Here van die hele skepping het sekerlik genoeg hulpbronne om so ‘n projek te befonds. Tog gebruik God nie so ‘n bemarkingstrategie nie. Ons kry iets meer persoonlik – amper verborge – by Hom.

 

In Handelinge 11 beskryf Lukas dat gelowiges in Antiogië Christene genoem is. Maar die woord Christen word net ‘n verdere twee maal in die Bybel gebruik. Dit is dus nie hoe die vroeë kerk homself beskryf het nie. Om iemand destyds ‘n Christen te noem, was eintlik om hom te beswadder.  God gebruik nie bemarkingstrategieë nie. God vra sondaars om in Jesus Christus te glo. Hy spandeer nie biljoene aan advertensieborde nie. Hy vergewe almal wat hulle rug op hulle afgode draai en Christus hulle Here en Verlosser maak. Dit is God se bemarkingstrategie.

 

Die resultaat van God se evangelistiese bemarkingstrategie is vol kerke gevul deur sy genade. God herskep gevalle beelddraers een op ‘n slag en hulle word ‘n leër van advertensieborde. Hulle verkondig oral God se verlossende genade. Sodra kerke dit besef, sal hulle minder tyd, energie en geld aan advertensies en glansgebeure spandeer. Kerke sal sien dat die beste manier om die wêreld van Jesus Christus te vertel, is om soos Hy te wees.

 

Hierdie strategie werk steeds. Ons moet dit net weer vasvang. Ons moet op die krag van God se woord en ons getuienis vertrou. Hierdie getuienis praat hard soos ons meer en meer soos Christus word.