Wat beteken Coram Deo?

He saves man by grace, and if men perish they perish justly by their own fault (Charles Haddon Spurgeon).

Wat beteken Coram Deo?

Wat is die oorkoepelende doel van die Christelike lewe? Coram Deo vang die kern van ‘n Christelike lewe vas. Letterlik beteken dit iets wat plaasvind in die teenwoordigheid van God. Dit beteken om jou hele lewe in die teenwoordigheid van God te leef, onder die gesag van God en ter verheerliking van God.

 

Om in die teenwoordigheid van God te leef, beteken dat ons weet dat wat ons ook al doen God sien. Daar is geen plek so afgeleë dat ons sy blik kan ontsnap nie. Dit beteken ook dat ons bewus is van sy soewereiniteit. Dit beteken nie dat ons deur vrees vir oordeel gemotiveer word nie. Dit beteken ons erken daar is geen groter lewensdoel as om God te eer nie. Ons lewens moet lewende offers wees, gegee in ‘n gees van aanbidding en dankbaarheid.

 

Dit beteken ook dat ons ‘n lewe van integriteit moet leef. Ons verdeel nie ons lewens in twee kompartemente nie. Ons kan nie ons lewe tussen godsdienstig en nie-godsdienstig verdeel nie. Daar moet geen verskil tussen ons optrede in die kerk en buite die kerk wees nie. Dit moet ‘n lewe wees wat oop voor God lê. Alles wat ons doen, doen ons asof ons dit vir God doen. Dit is ‘n lewe gelewe volgens vaste beginsels.

 

 




Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?

 

When our spirit is lonely, we need friends. When oor body is cold, we need clothing. When oor mind is bored, we need books. To admit this is not unspiritual; it is human – John Stott.

 

Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?

Jesus vra hierdie vraag van sy dissipels in Matteus 16. Hulle antwoord is interessant: Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die profere. Elkeen verwys na ‘n profeet. Hoekom? Een van die gewilde Messiaanse verwagtings was dat ‘n groot profeet na vore sou kom. Ons kry dit in Moses se profesie: Ek sal ‘n profeet vir hulle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18). In Maleagi 4:5 lees ons: Ek gaan vir julle die profeet Elia stuur, voordat die dag van die Here kom. Hier sien ons dat die mense Jesus probeer verstaan op kennis wat hulle vooraf gehad het. Nadat hulle na Jesus se prediking geluister en na sy wonderwerke gekyk het, maak hulle een gevolgtrekking: Jesus was of ‘n profeet van ouds wat opgestaan het of Hy was ‘n nuwe profeet. As hulle Hom as profeet sien, beteken dit hulle sien Hom as iemand van betekenis met ‘n opdrag van God. Hulle sien dus Jesus as ‘n goeie mens, selfs ‘n goddelike mens, maar Hy was beslis nie God nie.

 

Maar Jesus gaan nou dieper met sy dissipels: Maar julle, wie sê julle, is Ek?  Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

 

Maar wat sê die mense vandag: Wie, sê die mense, is die Seun van die mens? Wie ek sê wie Jesus is, is belangrik, want dit bepaal hoe ek Hom gaan volg. As ek sê Hy was ‘n groot leermeester, sal jy Hom volg soos jy enige ander groot leermeester gaan volg. As jy glo dat Jesus baie goeie idees gehad het, gaan jy af en toe luister na wat Hy te sê het. As jy dink dat Jesus ‘n goeie voorbeeld was, sal jy sy voorbeeld probeer volg. Maar as jy glo dat Jesus die beloofde Messias is wat mens geword het om ons van ons sondes te verlos, om die sonde en die dood te oorwin en om oor ons as Here te heers, verander dit jou hele lewe. Glo jy in hierdie Jesus?

C. S. Lewis is baie uitgesproke hieroor: “You can shut Him up for a fool, you can spit at Him and kill Him as a demon; or you can fall at His feet and call Him Lord and God. But let us not come up with any patronizing nonsense about His being a great human teacher. He has not left that open to us. He did not intend to.”

 

 




Die Mona Lisa

It is a greater mercy to descend from praying parents than from nobles. —John Flavel

 

Die Mona Lisa

In Jenson en Grimmond se The Archer and the Arrow word die bewaring van die evangelie vergelyk met die bewaring van die Mona Lisa skildery. Hierdie bekende skildery word in ‘n koeëlvaste kas wat spesiaal vir die doel gebou is, bewaar. Dit is so waardevol dat dit slegs twee maal tydens die laaste eeu buite die Louvre vertoon is.

 

Wat van diegene wat die skildery by daardie geleenthede vervoer het? Wat sou gebeur het as diegene wat die skildery vervoer het, besluit het dat daar ‘n paar gebreke aan die skildery was? Wat sou gebeur het as hulle ‘n kwas geneem het en ‘n mooi patroon op die rante bygevoeg het? Nee, hulle werk was nie om die skildery te verbeter nie, maar om dit in sy oorspronklike toestand af te lewer. Hoeveel te meer geld dit nie vir die evangelie nie.

 

Christene is geroep om die evangelie te bewaar. Ons moet die evangelie teen indringers, wolwe en dwaalleraars  wat gedurig iets by die evangelie wil byvoeg, beskerm. Ons moet aanhou om die evangelie te bestudeer, uit te leef en te verkondig sodat mense die evangelie kan ken en oordra aan ‘n wêreld wat ‘n groot behoefte daaraan het. Dit is ‘n taak wat ons nederig sal hou. Hoe doen ons dit? Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon (2 Tessalonisense 1:14). God is met ons en vir ons.

 




Ly vir die evangelie

 

Every Christian should be both conservative and radical; conservative in preserving the faith and radical in applying it. —John Stott

 

Ly vir die evangelie

Om vir Christus te ly is ‘n belangrike tema in 2 Timoteus. In 2 Timoteus 1:8b – 12a antwoord Paulus drie belangrike vrae oor lyding.

 

  • Hoe ly ons? (vers 8c)

Dra jou deel van die ontberings vir die evangelie met die krag wat God jou gee.

Ons is maar swak, maar deur God se krag kan ons swaarkry hanteer. Jesus voorsien voldoende krag vir sy volgelinge sodat hulle teenstand, swakheid en vervolging kan hanteer. Jesus is voldoende. As jy vir die evangelie swaarkry, onthou dat jy deel in Christus se lyding en sy spesiale krag geniet. Sonder My kan julle niks doen nie (Johannes 15:5).

 

  • Hoekom ly ons? (vers 9 – 12a)

In hierdie verse beskryf Paulus kortliks die evangelie. Daarna sê hy: Om hierdie rede ly ek ook hierdie dinge.  Paulus was bereid om sy lewe op te offer, want hy het geglo dat die evangelie dit werd was. Jy kan lyding verduur as jy sien wat Paulus gesien het. Wat het Paulus gesien toe hy oor die evangelie nagedink het? In hierdie verse beklemtoon hy  drie aspekte:

  • Die grootheid van God in verlossing. Hy het ons gered en ons geroep … Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. God verlos ons
  • Die genade van God in ons verlossing. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Die bron van ons verlossing is nie meriete nie, maar God se onverdiende guns. God skuld ons niks nie. Ons enigste hoop op verlossing is sy genade. Ons kan dit nie doen nie; Jesus Christus het dit klaar vir ons gedoen.
  • Die gronde vir ons verlossing. Die basis van ons verlossing is die persoon en werk van Christus. Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus. Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring. Toe hulle vir Bonhoeffer kom haal het om hom na sy teregstelling te neem, sê hy vir sy vriend: “Dit is die einde. Vir my die begin van die lewe.”

 

  • Wanneer moet ons lyding verwag (1 Timoteus 1:10c- 12a)

Ons kan lyding verwag as ons die evangelie verkondig. Verlossing berus volledig op genade, maar dit word ondervind deur die verkondiging van die evangelie. Paulus het die evangelie verkondig deur sy aanstelling as prediker en apostel en leraar. As prediker verkondig hy die evangelie; as apostel is hy met die evangelie gestuur; as leraar verduidelik hy die evangelie. Dit word ook van ons verwag.

 

As ons die evangelie verkondig, moet ons teenstand verwag. Ons moenie lyding soek nie, maar ons moenie verbaas wees as dit kom nie. Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Paulus ly, want hy het openlik gepraat en hy praat openlik, want hy het geglo dat die evangelie dit werd was.