Die voortdurende behoefte aan regstelling en berou

 

If youth but had the knowledge, if age but had the power – Franse spreekwoord

 

Die voortdurende behoefte aan regstelling en berou

Hoe reageer jy op konfrontasie? Met nederigheid en berou of word jy kwaad? Word die saak nou die persoon wat voor jou staan? Hoe konfronteer jy ander mense? Kyk jy terug daarna en voel spyt daaroor of kyk jy terug en vra vir God om jou swakke pogings ten goede te gebruik? Omdat ons mense is, sal konfrontasie altyd daar wees. Vir Christene moet konfrontasie lei tot nederige berou, opregte verskonings en versterkte verhoudings.

 

As ons met ons sonde gekonfronteer word, oortuig word daarvan en berou toon, is dit die gevolg van God se liefde. My kind, moet dit nie gering ag as die Here jou tug nie en moenie mismoedig word as Hy jou teregwys nie, want die Here tug hom wat Hy liefhet en straf elkeen wat Hy as kind aanneem (Hebreërs 12:5 – 6). Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? (Romeine 2:4). As jy nie gekonfronteer wil word nie, verwerp jy God se liefde; jy verwerp sy goedheid vir jou; jy plaas hindernisse in die pad van God se liefde.

 

As ons in nederigheid reageer as ons gekonfronteer word, laat ons toe dat mense kan aanhou om hulle bekommernisse te kommunikeer aan ons. As ons konfrontasie as ’n belediging sien van die persoon wat ons konfronteer, as ons in trots weier, word dit moeiliker vir mense om ons te nader – hulle voel hulle kan nie met ons praat nie.

 

 

 




Wat kan ons uit Abimelek se verhaal leer?

 

Satan finds some mischief still for idle hands to do – Anoniem

 

Wat kan ons uit Abimelek se verhaal leer?

Dit is nie altyd maklik om die Ou Testament te lees nie. Daar is dele wat ons nie vir ons kinders as slaaptydstories sal lees nie. ‘n Goeie voorbeeld is Rigters 9. Hier lees ons van Abimelek. Die verhaal begin waar hy koelbloedig 69 van sy 70 broers vermoor. Hy verklaar homself koning en eis belasting van die omliggende stede. Die een broer wat die slagting oorleef het, Jotam, waarsku dat hierdie wandaad nie ongestraf sal bly nie.

 

Na ‘n paar jaar blyk dit dat Jotam reg was. Die burgers van Sigem kom teen hom in opstand. In Tebes het ‘n vrou ‘n maalklip op sy kop gegooi en sy kopbeen verbrysel. Hy sterf nie onmiddellik nie en vra sy wapendraer om hom dood te maak: Hulle moenie van my kan sê ‘n vrou het my doodgemaak nie.

 

Is daar enige lesse wat ons uit hierdie bloedige verhaal kan leer? J. D. Greear identifiseer ‘n paar lesse.

  1. God se oordeel is stadig, soms subtiel, maar altyd seker

Ons kan baie maklik die indruk kry dat God in hierdie storie afwesig is – een tragedie na die ander. Maar dan in Rigters 9:56 – 57 lees ons: So het God die onreg gestraf wat Abimelek sy pa aangedoen het toe Abimelek sy sewentig broers vermoor het. God het ook al die verkeerde dade van die mense van Sigem op hulle koppe laat afkom. Ons kan dink dat God afwesig is, maar aan die einde het Hy die finale woord. Ons moenie toelaat dat die feit dat God nie onmiddellik oordeel ons selftevrede maak nie. Ons sê: “Ek kan môre bely.” Abimelek mag ook so gedink het. Dit is nie waar nie. Moenie die spasie wat God jou gee om tot bekering te kom met sy afwesigheid verwar nie.

 

  1. Die probleem is nie daar buite nie – dit is hier binne

In Rigter 9 kom die onderdrukking nie van ander volke nie, maar uit Israel self. Israel is nou sy eie probleem. Die probleme in ons lewens is nie net “daar buite” nie. Ons grootste probleem is sonde. Dikwels, soos in hierdie geval, tree God terug en laat die sonde sy gang gaan.  “In the long run, the answer to all those who object [to God’s judgment] is a question: ‘What are you asking God to do?’ To wipe out their past sins and to give them a fresh start…offering every miraculous help? But He has done so, on Calvary. To forgive them? They will not be forgiven. To leave them alone?Alas, I am afraid that is what He does. … In the end, there are only two kinds of people: those who say to God ‘thy will be done’ and those to whom God says ‘thy will be done.’” (C. S. Lewis)

 

  1. Ons het ‘n nuwe Koning, ‘n beter Regter nodig

Ons glo dat geld of opvoeding of die regering alles kan regstel. Hulle gee vir ons mag, maar nie verlossing nie. Aleksandr Solzhenitsyn sê: .“If only there were evil people somewhere insidiously committing evil deeds, then we could separate them from the rest of us and destroy them. But the line dividing good and evil cuts through every human being. And who is willing to destroy his own heart? Hierdie verhaal van Abimelek laat ons vorentoe kyk – na ‘n Verlosser wat nie alleen die wêreld sal herstel nie, maar ook vir ons. Jesus is die ware Koning; Hy is die regter wat ons bande kan losmaak. Verlossing gaan ons nie in beter omstandighede of meer geld of mag kry nie. Ons gaan verlossing slegs kry as ons op ons knieë voor ons Verlosser gaan staan.

 

 




Die huisgesin van God

 

Love is counting someone else’s needs and interests as more important than your own needs or interests or comfort. —Tim Keller

 

Die huisgesin van God

As ‘n geloofsgemeenskap moet die kinders van God mekaar met liefde en respek hanteer – dit sluit in wyse en deernisvolle ondersteuning van weduwees in.

 

Vir baie Christene is die maklik om op ‘n Sondag by ‘n erediens in te stap, ‘n paar liedere te sing, na ‘n preek te luister en reguit huis toe te gaan sonder enige betekenisvolle interaksie met medegelowiges. Ons moet tog mense se privaatheid respekteer! Ons moet ons tog nie met ander se lewens bemoei nie! Maar die mense wat langs ons in die kerkbanke sit, is ons broers en susters. Ons behoort bekommerd te wees oor hulle. Ons moet mekaar liefhê … Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood. Elkeen wat sy broer haat, is ‘n moordenaar … Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê (1 Johannes 3:13 – 16). Die manier waarop  ons medegelowiges hanteer is ‘n aanduiding van ons verhouding met Christus.

 

As familie hanteer ons mekaar op ‘n sekere manier. As jy met ouer mense praat, praat jy met die respek wat hulle toekom: Maar vermaan asof hy jou vader is. Ook die jonger mans moet soos broers vermaan word; die ouer vroue soos moeders, en die jonger vroue soos susters, in alle eerbaarheid (1 Timoteus 5:1 – 2).

 

Gemeentes is ‘n huisgesin – ‘n geloofsgesin en daarom moet lidmate se verhouding met mekaar dit weerspieël. As ons in hierdie wêreld wil getuig en die eenheid van die gemeente wil bewaar, sal ons die Skrif gehoorsaam en mekaar met liefde en respek behandel. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is (Johannes 13:35).

 

 




Ek wil ander bemoedig

 

It is not the doctrine of justification that does my heart good, it is Christ, the justifier. —C.H. Spurgeon

 

Ek wil ander bemoedig

Watter soort mens wil God hê dat ons moet wees? Ons talente, persoonlikhede, vermoëns en agtergrond verskil, maar tog is daar sekere basiese kenmerke wat God van almal van ons verwag. Een daarvan kry ons in 1 Tessalonisense 5:11: Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen. Om mekaar te bemoedig, beteken eenvoudig om ander te laat weet dat hulle nie alleen is nie, om langs hulle op hulle lewensreis te loop. Die Christen se lewe is nie een van isolasie en onafhanklikheid nie, maar een van interafhanklikheid en verhoudings.

 

Een van die beste voorbeelde van ‘n bemoediger in die Bybel is Barnabas. Hy verkoop grond wat hy gehad het en bring die geld vir die apostels. Josef ‘n Leviet wat op Siprus gebore is en wat deur die apostels Barnabas genoem is – dit beteken iemand wat mense moed inpraat (Handelinge 4:36 – 37). Later lees ons dat hy hom oor Saulus ontferm het en hom na die apostels gebring het en hulle gerusgestel het dat hy nou ook ‘n gelowige was (Handelinge 9:26 – 27). Hierdie Saulus word later die groot apostel Paulus.

 

God wil elkeen van ons op verskillende tye en op verskillende maniere gebruik om ander te bemoedig. Daarom moet ons oplet op die mense wat God oor ons pad bring en onsself beskikbaar stel om saam met hulle te loop.

 

Wat moet ons doen as ons ander mense wil bemoedig?

  1. Ons moet aan ander ons tyd en onverdeelde aandag gee

In 1 Tessalonisense 2:17 – 20 lees ons van Paulus se verlange om weer die broers in Tessalonika te sien. Die beste is om hulle van aangesig tot aangesig te sien, maar as dit nie moontlik is nie kan ons hulle skakel of e-posse stuur of teksboodskappe. Hoe dikwels sien ons nie mense in restaurante sit elkeen besig op sy foon – dit is verkeerd.  As ons met ander mense is, moet ons ons volle aandag aan hulle gee en aandagtig luister na wat hulle sê. Hoe sal ons dan weet wat hulle op die hart het en hoe om hulle te ondersteun?

 

  1. Help hulle met hulle behoeftes

In 1 Korintiërs 1:5 – 7 skryf Paulus oor ons plig om ander te bemoedig. Dit mag beteken dat ons diegene wat swaarkry vertroos; tyd met eensame mense spandeer; iemand se praktiese behoeftes hanteer.

 

  1. Bou mekaar geestelik op

In Romeine 1:11 – 12 praat Paulus van bemoediging in die geloof. As mense in moeilike tye sukkel om God te vertrou, het hulle iemand nodig om hulle aan God se teenwoordigheid, sy beloftes en sy krag te herinner. ‘n Ander aspek van geestelike bemoediging is om iemand te waarsku wat op die verkeerde pad loop.

 

  1. Bemoediging is ‘n motiveerder

Dink maar net aan jou eie moeder en hoe sy jou bemoedig het as dinge vir jou skeef geloop het. Word jy ook ‘n bemoediger – soos jou moeder en Barnabas. Jy weet nooit watter verskil jou woorde van bemoediging sal maak nie.

 

Wie kan ek vandag bemoedig?