Ons is geroep om dissipels te maak en nie bekeerlinge nie

The law is a hammer that breaks proud and obstinate hypocrites (Martin Luther.)

Ons is geroep om dissipels te maak en nie bekeerlinge nie

Het die verbruikerskultuur die manier waarop ons die evangelie verkondig, verander? Ons deel die evangelie met ander, maar dit is nie altyd dieselfde evangelie wat Jesus verkondig het nie. Die boodskap is dikwels afgewater. Ons laat sekere “radikale” dele uit, want ons is bang ons skrik mense af. Ons water die evangelie af om ons kultuur te weerspieël. Ons verminder die verwagtings: Jy hoef niks anders te doen nie, jy moet net glo. Geen wonder mense los die evangelie as dinge moeilik word nie.

 

“When Christ calls a man, he bids him come and die.” (Dietrich Bonhoeffer) Daarvan hoor ons niks meer nie. Ons leef in ‘n verbruikerskultuur en daarom moet ons nie verbaas wees as mense hierdie selfde gesindhede in die kerk bring nie: my manier van doen, my voorkeure, my begeertes is belangrik. Kry ek dit nie, gaan ek my heil elders soek. Ons het die evangelie wat alles oor Christus gaan, geneem en nou gaan dit alles oor ons. Jesus is deel van ons lewe – nie ons hele lewe nie.  Ons almal plaas dinge hoër as Jesus – geld, gesondheid, gemak, belangstellings, stokperdjies. Ons kom na Hom met verwagtings oor wat Hy vir ons sal doen.

 

Baie mense glo dat dit voldoende is om te glo en dan op die kantlyn te staan en vir Hom te skreeu. Jesus soek nie koorleiers nie, maar mense wat bereid is om Hom volg – maak nie saak wat dit kos nie. Jesus soek nie bekeerlinge nie, maar dissipels.

 

Bekeerlinge is nuwe gelowiges. Dit is waar almal van ons begin. Ongelukkig is dit ook dikwels waar ons stop. Bekeerlinge is nie verkeerd nie – hulle is soos babas, behalwe dat hulle nie groei en verander nie. Toe ek ‘n kind was, het ek gepraat soos ‘n kind, gedink soos ‘n kind, geredeneer soos ‘n kind. Maar noudat ek ‘n man is, is ek klaar met die dinge van ‘n kind (1 Korintiërs 13:11).

 

Vir jare het die kerk beklemtoon dat jy mense so ver moet kry om ‘n besluit vir Christus te neem. Dit is belangrik, maar wat gebeur dan? Waar is die opvolg? Die dissipel is nie alleen toegewy om vir Christus te sterf nie, maar hy leef elke dag vir Hom.

 

Wat is die verskil?

  • Bekeerlinge is gelowiges wat soos die wêreld leef; dissipels leef soos Jesus.
  • Beheerlinge fokus op hulle waardes, belangstellings, vrese, bekommernisse en prioriteite; dissipels fokus op Jesus.
  • Bekeerlinge gaan kerk toe; dissipels is die kerk.
  • Bekeerlinge moedig van die kantlyn aan; dissipels neem aan die wedstryd deel.
  • Bekeerlinge hoor die woord van God; dissipels leef dit.
  • Bekeerlinge volg die reëls; dissipels volg vir Jesus.
  • Bekeerlinge gaan oor glo; disispels gaan oor wees.
  • Bekeerlinge is gemaklik; dissipels maak opofferings.
  • Bekeerlinge praat; dissipels maak meer dissipels.

 

‘n Dissipel volg die lewe en voorbeeld van Jesus – hulle maak sy waardes hulle waardes, sy roeping hulle roeping. Hulle is toegewy aan sy saak en is bereid om daarvoor swaar te kry. ‘n Dissipels se identiteit, doel en betekenis kry hy in Jesus Christus – Hy is die middelpunt van hulle lewens. Dissipels is nie alleen bereid om vir Christus te sterf nie, maar om elke dag vir Hom te lewe.

 

 

 

 




Hoe moet ons die wet van God gebruik?

I was obliged to be industrious. Whoever is equally industrious will succeed equally well. — Johann Sebastian Bach

 

Hoe moet ons die wet van God gebruik?

Hoe moet ons dan die wet gebruik? In 1 Timoteus 1:3 – 11 praat Paulus nie oor die dieet- en seremoniële wette van die Ou Testament nie. Daar is ook blywende morele wette wat op mense van alle tye van toepassing is. Daar is drie maniere om God se wet te gebruik.

  • God se wet help ons om die grense van sonde raak te sien sodat ons sonde kan vermy.

Dit is ‘n funksie van enige wet – dink aan die verkeersreëls. In hierdie sin is die wet vir wetsverbrekers geskryf. ’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame  bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat  heilig en gewyd is (1:9). In 1:9 – 10 wys hy dan op spesifieke sondes. Hulle verwys na verbreking van die tien gebooie. Die wet help ons om hierdie sondes te identifiseer en dan uit te roei. Die wet wys vir ons wat reg is en God gebruik dit om ons van sonde te weerhou.

 

  • Die wet wys vir ons dat God die sondaar verdoem

As ons sondig, getuig die wet teen ons. Dit wys vir ons hoe ons ongehoorsaam was. Die wet maak ons opstand teen God duidelik. As ons dit besef, besef ons ‘n noodsaaklike deel van ons verlossing. Voor ons na Christus kom, staan ons voor die wet en word deur God veroordeel. Die wat hulle deur hulle sondige natuur laat beheers, kan nie die wil van God doen nie (Romeine 8:8). Die wet open ons oë dat ons skuldig is voor God. In reaksie besef ons dat ons Christus nodig het. Dit is die evangelie; dit is hoe ons verlos word. Christus het die straf van alle wetsverbrekers klaar betaal. Die wet red ons nie; die wet lei ons na Christus en Hy red ons. The law is a hammer that breaks proud and obstinate hypocrites (Martin Luther.)

 

  • Die wet wys ons wat God se wil vir diegene wat verlos is, is

God se morele wet onderrig ons. Dit openbaar God se karakter en wys vir ons hoe ons God en ons naaste moet liefhê. Nou dat die Heilige Gees in ons woon het ons die begeerte en die krag om God te gehoorsaam. Ons word van binne gelei om God se wil te doen. Vir die Christen is die wet nie meer ‘n hamer nie, maar ’n Goddelike gids.

 

Ons kan nie sommer sê dat die wet nie meer van toepassing is nie. Wat wel waar is, is dat die wet ons nie kan red nie.

 




Moet ons die mense van die sinkende skip red?

The peace of God is first and foremost peace with God. —J.I. Packer

 

Moet ons die mense van die sinkende skip red?

Sommige evangeliste sien hulle roeping as om mense van die sinkende skip van die wêreld te red. Die skip is besig om te sink en ons moet soveel as moontlik van die mense red. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe (1 Johannes 2:17).

 

John Piper sê hierdie prentjie is nie heeltemal waar nie – die bootjie sink nie. Die aarde behoort aan die Here – so ook die hemel. Kyk, Ek maak alles nuut (Openbaring 21:5). Die bootjie en die lewe daarop gaan eendag heeltemal vernuwe word. Beide prentjies is waar. Dit is waar dat die skip van die wêreld nooit sal sink en onbewoonbaar sal word nie. Die nuwe wêreld is die ou wêreld wat vernuwe is. Maar elke persoon op daardie bootjie sterf en word oorboord gegooi. As hulle egter geloof in Jesus se reddingsbaadjie het, kom Hy en tel hulle op in sy reddingsboot. Skryf op! Geseën is dié wat van nou af in die Here sterwe (Openbaring 14:13). As hulle nie Jesus se reddingsbaadjie dra nie, sink hulle en sterf. ‘n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel (Hebreërs 9:27).

 

Die dringendheid is nie dat die boot sink nie, maar dat al die passasiers besig is om dood te gaan.  Dit is ook waar dat die bootjie ‘n kombinasie van pragtige vakmanskap van die Bootbouer is en dat die bootjie ‘n begaafde bemanning het- al is hulle in opstand teen die Eienaar. Van die dinge op die boot werk goed, maar die meeste dinge breek.

 

Dit is egter ook waar dat die Here wat die skip gebou het en sorg dat dit nie sink nie, eendag aan boord sal kom – die ware Kaptein. Die gelowiges bly op die skip. Almal wat deur die reddingsbaadjie van Jesus gered is, sal weer hulle plek op die boot inneem. Jesus sal die hele boot weer nuut maak. Dit word nou ‘n volmaakte plek vir ewige vreugde.

 

Red ons of maak ons nuut? Beide. Ek het nie gekom om mense wat op die regte pad is tot bekering te roep nie, maar sondaars (Lukas 5:32). Dit is ‘n oproep uit die sonde in die lewe.

 




Dwaalleer

 

Christ is much more powerful to save, than Adam was to destroy. —Johannes Calvyn

 

Dwaalleer

“A new Gospel is being taught today. This new gospel is perplexing – it omits Jesus and neglects the cross” (Dawid W. Jones en Russell S. Woodbridge – Health, Wealth and Happiness).

Vals leermeesters kry ons oral. Dit is nie iets nuut in die kerk nie. Paulus waarsku reeds die ouderlinge van Efese: Ek weet dat daar na my vertek wrede wolwe onder julle sal indring, en hulle sal die kudde nie ontsien nie. Ja, uit julle eie geledere sal daar mense na vore kom wat met leuens die gelowiges agter hulle aan sal probeer verlei (Handelinge 20:29 – 30). As ons 1 Timoteus lees sien ons dat Paulus se voorspelling in die kol was. Dwaalleer is reeds ‘n probleem in die gemeente in Efese. Vir Paulus was dwaalleer nie net ‘n hindernis om te oorwin nie, maar ‘n dodelike kanker wat uit die kerk gesny moet word as die kerk gesond wou bly en sy roeping wil vervul.

 

En vandag? Jones en Woodbridge sê dat 46% van mense wat sê dat hulle Christene is, glo dat God materiële rykdom aan alle gelowiges met genoeg geloof gee. Hierdie sogenaamde voorspoedsteologie belowe materiële en fisiese seëninge in hierdie lewe. Sentrale elemente van die evangelie, soos dit wat Christus reeds aan die kruis vir ons gedoen het en die vergifnis van sonde, word na die agtergrond geskuif. Voorspoedsteologie is veral algemeen in die VSA, maar versprei vinnig dwarsoor die wêreld.

 

Ons moenie onsself bluf nie – dwaalleraars is steeds in ons midde.