Ek wil opstaan teen vrees

 

I am convinced that the first step towards attaining a higher standard of holiness is to realize more fully the amazing sinfulness of sin.” – J. C. Ryle

 

 Ek wil opstaan teen vrees

Moed is ‘n snaakse ding. Meeste van ons wil opstaan teen ons vrese. Meeste van die raad wat ons kry om ons vrees te oorwin, is van geen waarde nie. Meeste sê ons moet vrees ignoreer of minimaliseer. Jy gaan nie daarmee die groot vrese in jou lewe – eensaamheid, verlies, verwerping, die dood – oorwin nie.

 

Die Skrif praat reguit oor die werklikheid van vrees. Dit vertel ons ook van ‘n God ver verhewe bo enige vrees. God roep nie diegene met baie moed nie; God gee aan diegene wat Hy roep baie moed. Hiervan is Gideon ‘n goeie voorbeeld. Hy was beslis nie ‘n man met baie moed nie. As ons hom in Rigters 6 ontmoet, is hy besig om koring in ‘n parskuip uit te slaan. Hoekom? Omdat hy vir die Midianiete weggekruip het. Jy slaan tog koring in die oopte uit sodat die kaf kan wegwaai. ‘n Parskuip is gewoonlik ondergronds en daar is geen wind nie – niks om die kaf weg te waai nie. Die Engel van die Here verskyn aan hom en sê vir hom: Die Here is by jou, dapper man!

 

Die man wat in ‘n parskuip wegkruip is ‘n dapper man. Tog nie waar nie. God praat nie met Gideon oor wat hy is nie, maar oor wat God met hom gaan doen. Wonderlik. God definieer my nie volgens die toestand waarin ek is nie; Hy definieer my volgens met wat Hy in Christus met my gaan maak. Jou moed, jou integriteit jou heiligheid is dinge wat nie bestaan nie. Jy is nie van nature braaf of eerlik of heilig nie. As God na ons toe kom, begin Hy nie waar jy is nie. Hy begin by Christus. Daarom kan Hy vir ‘n man wat in ‘n parskuip wegkruip sê dat hy ‘n dapper man is.

 

Die groot vraag: Glo ons Hom? Glo ons dat hy diegene wat Hy roep braaf maak? Gideon word ‘n held al oorwin hy nooit sy vrees volkome oorwin nie. Maar hy het ‘n versekering by God gekry: “Ek is by jou!” Dit is God se antwoord op al Gideon se probleme. Dit is steeds wat God vir ons sê as ons bang is.

 

Moed is nie die afwesigheid van vrees nie; moed is nie om ons vrese te ignoreer nie. Moed is om God te midde van ons vrese te volg. As jy dit doen sal sy liefde al jou vrese verdryf.

 




Beproewings en versoekings (4)

 

We have two ears and one mouth, so we should listen more than we say”
Zeno van Citium

 

Beproewings en versoekings (4)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

 

Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

 

  1. God is getrou in ons versoekings (Jakobus 1:16 – 18)

Wat doen ons ten opsigte van beproewings en versoekings? Die probleem is dat ons oë so op ons omstandighede gefokus is dat ons glad nie sien wat God beplan nie. Wat doen ons as ons versoek word? Wat doen ons as ons deur ons begeertes aangelok en saamgesleep word? Ons onthou dat God getrou is. God, anders as die hemelligte, verander of verduister nie. In jou beproewings en versoekings moenie die leuens glo nie. Onthou dat God goed is en dat Hy dit wat goed is vir jou wil hê. Vertrou Hom as jy beproef word; draai na Hom as jy versoek word. Onthou: Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader.

 

Daar is veral drie aspekte van God se goedheid wat ons moet oorweeg:

  • God se goedheid is onveranderlik.
  • God se goedheid is onverdiend. Omdat dit sy wil was, het God ons deur die woord van die waarheid tot die lewe gebring (vers 18). God gee aan ons nuwe lewe, nie op grond van die goed wat ons gedoen het nie, maar uit genade. God is die Bron van alle goeie dinge in ons. Dit is sy goedheid wat ons van binne na buite verander.
  • God se goedheid is oneindig. Ons is eerstelinge van wat Hy geskep het. Dit is ‘n voorsmakie van wat nog gaan kom –die dag wanneer Hy alles nuut gaan maak. Dit is die nuwe hemel en aarde waar daar nie meer beproewings en versoekings sal wees nie.

 

Ons het nou ‘n hele aantal blogs gespandeer om Jakobus se siening van beproewing en versoekings te verstaan

 




Die gevaar van teologie

 

It is not the absence of sin but the grieving over it which distinguishes the child of God from empty professors [of faith]” – A. W. Pink

 

Die gevaar van teologie

[Teologie = theos – god + logia – studie, belangstelling.]

Ons kennis van God kan gevaarlik wees. Goeie teologie beteken dat ons God aanbid en geniet. Gebeur dit nie, is dit nutteloos. Maak ons nie dalk van teologie ‘n afgod nie? Hier is ‘n paar vrae om vas te stel of ons ‘n afgod van teologie gemaak het.

  1. Trek jou teologie jou nader na God toe? Lei dit tot groter intimiteit met God? Niemand kon Jesus enigiets van God vertel nie, maar dit het nie sy behoefte om te bid afgewater nie.
  2. Mobiliseer jou teologie vir jou? Stuur groter kennis van God jou dieper die wêreld in? Die doel om iets van God te weet, is dat die wêreld ook van Hom moet weet.
  3. Laat jou teologie jou toe om vir ander in liefde op te offer? Laat meer kennis van God jou toe om ander meer lief te hê en beter te dien? Goeie teologie breek grense tussen mense af.
  4. Maak jou teologie jou gretig om te leer – om meer van Hom te weet? Teologie is ‘n lewenslange reis. Goeie teologie het altyd plek om te groei.
  5. Maak teologie jou nederig? Word jy meer afhanklik van sy genade?
  6. Bepaal jou teologie waaraan jy waarde heg en wat jou prioriteite is?
  7. Lei jou teologie tot deernis? Breek jou hart vir die behoeftiges?
  8. Is Jesus die middelpunt van jou teologie?
  9. Verhoog jou teologie die begeerte vir heiligheid? Wil jy meer en meer soos Christus wees?

 

Nadat ek hierdie lysie gelees het, kan ek net sê: Skuldig

 




Beproewings en versoekings (3)

 

It’s not that I’m so smart; it’s just that I stay with problems longer.” – Einstein

 

Beproewings en versoekings (3)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

Ons kyk vandag na die tweede waarheid.

 

  1. Ons is verantwoordelik vir ons versoekings (Jakobus 1:13 – 15)

Ons het gesien dat God soewerein in ons beproewings is en daarom kan ons bly wees as ons beproef word. God in sy soewereiniteit sal die geloof van sy mense toets en Hy doen dit vir hulle beswil. Maar nou moet ons versigtig wees om nie te glo dat God ons toets om van Hom af weg te beweeg nie.

 

Elke beproewing gaan gepaard met versoeking. As ek finansiële probleme het, wantrou ek God se voorsiening; as iemand vir wie ek lief is, sterf, bevraagteken ek God se liefde. God kan ons toets, maar Hy versoek ons nie: God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie (vers 13). Die mens word deur sy eie begeertes verlei – ons is verantwoordelik vir ons versoekings.

 

Maar waar kom sonde vandaan? God is sonder sonde. Die bose is vreemd aan Hom. Op geen wyse kan God vir sonde en versoeking blameer word nie. Jakobus sê: Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.  God is sonder sonde, maar nie die mens nie. Die verantwoordelikheid vir versoeking en sonde lê by ons – ons innerlike sondige begeertes gee toe aan versoeking.

 

In ons moderne wêreld word alle pogings aangewend om ons van verantwoordelikheid kwyt te skeld. Ons blameer ander – ons opvoeding, die regering, my vriende, enigiets waaraan ons kan dink. Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie (Romeine 7:18). Dit erken ons nie sommer nie.

 

Ons het nou na die oorsprong van sonde gekyk.  Nou moet ons na die anatomie van sonde kyk. Sonde gebeur nie sommer uit die bloute nie. Daar is ‘n proses daaragter. Ons kan aan vier stappe dink:

  • Verleiding. Genesis 3 is ‘n goeie voorbeeld van hierdie proses. Die hart van sonde is ongeloof. Ons glo Hom nie as Hy vir ons sê iets is goed vir ons en iets anders is sleg vir ons nie. Ons bevraagteken Hom. Ons sien dit in die vraag van die slang: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? (3:1).
  • Begeerte. Versoeking speel op ons begeertes. Dit trek ons aan, maar verberg die feit dat dit ons skade sal berokken.
  • Ongehoorsaamheid. Ons tree volgens ons begeertes op.
  • Dood. Dit is die gevolg van ongehoorsaamheid.

 

Met watter sonde jy ook al flankeer of watter begeertes jy vervul, hardloop weg van hulle. Dit lei tot ons dood.

 

Volgende keer gaan ons na die laaste waarheid in verband met beproewings en versoekings kyk: God is getrou in ons versoekings.