Calvyn en gebed

 

The intuitive mind is a sacred gift and the rational mind is a faithful servant. We have created a society that honors the servant and has forgotten the gift.” – Einstein

 

Calvyn en gebed

Vir Calvyn gaan gebed altyd met dissipline gepaard. Hy sê dat as ons nie sekere vaste tye vir gebed het nie, kan dit ons maklik ontgaan. Hy skryf sekere reëls neer vir doeltreffende, vurige gebed.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van eerbied

Ons moet altyd onthou dat gebed ‘n gesprek is met God. Calvyn sê daarom dat ons harte en denke gedissiplineerd moet wees. Net diegene wat hulle op die regte manier voorberei vir gebed kan aan ‘n gesprek met God deelneem.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van behoefte en berou

Ons moet bid uit ‘n opregte gevoel van behoefte en berou. Ons moet God nader as bedelaars. Gelowiges moet volgens God se wil bid; sy heerlikheid moet altyd hulle fokus wees

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van nederigheid en vertroue

Ware gebed vereis dat ons alle vertroue in onsself aflê en nederig pleit vir verskoning. Ons moet net in God se genade vertrou vir seëninge – geestelik en tydelik. Enige ander benadering tot God bevorder net trots. Trots as ons bid, is fataal.

 

  1. ‘n Diepgevoelde sin van hoop

Die vertroue dat ons gebede beantwoord sal word se oorsprong is nie in onsself nie, maar deur die Heilige Gees wat in ons werk. In die gelowige se lewe oorwin geloof en hoop vrees sodat ons sonder huiwering kan glo. Ware gebed vertrou dat dit suksesvol sal wees as gevolg van God en sy verbond.

 

Hierdie reëls klink oorweldigend. Calvyn erken ons gebede is vol swakhede en mislukking. Maar God verdra ons swak pogings en verskoon ons onkunde.

 




Beproewings en versoekings (2)

 

Christian, beware of thinking lightly of sin. Take heed in case you fall little by little. —C.H. Spurgeon

 

Beproewings en versoekings (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

Watter doel bereik God deur beproewings? In vers 3 begin Jakobus vertel hoe God beproewings in ons lewens gebruik en hy doen dit tot in vers 12. Ons moet beproewing aanvaar vir dit wat God deur hulle bereik. Ons leer ten minste vier dinge van beproewings wat sal veroorsaak dat ons bly is. Ons kom nou by die tweede ding wat ons leer.

 

  • Ons leer om op sy wysheid te vertrou

Die implikasie van vers 5 is duidelik: As dit kom by wysheid is ons nog nie daar nie. Ons kort iets en daardie iets is wysheid. Ons het dit nodig as ons beproef word. Hier kry ons ‘n opdrag: Bid dit van God. In verhouding met die wysheid van God groei ons wysheid deur drie faktore: kennis, perspektief en ondervinding. Omdat ons in al drie hierdie gebiede tekortskiet, is ons wysheid beperk. As ons beproef word, besef ons dat ons nie alles weet wat besig is om te gebeur nie (kennis); dat ons nie ons situasie uit alle moontlike hoeke sien nie (perspektief); dat ons nie die nodige ondervinding het nie. God besit alle kennis; Hy het ‘n ewigheidsperspektief; in Christus het Hy elke soort toets ondervind – en volhard. Ons kan Hom vra, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.

 

God gee wysheid – oorvloedig, sonder diskriminasie, sonder huiwering. Dit gebeur nie outomaties nie – jy moet daarvoor vra. God gee nie vir ons ‘n maklike antwoord nie. As ons beproef word, is al wat ons wil hê dat ons omstandighede reggestel moet word. Maar God sê: “Kom na My en vra My om jou te help verstaan hoekom dit gebeur sodat Ek vir jou perspektief kan gee oor wat jy besig is om deur te gaan. Ek, as die Een wat al die kennis en ‘n ewigheidsperspektief en die ondervinding het, sal saam met jou loop.”

 

Die soewereine Koning van die skepping stel sy wysheid beskikbaar vir al sy volgelinge. As ons dus beproewings ondervind, vra vir God om vir jou wysheid te gee. Maar Jakobus sê dat as ons vra ons nie moet twyfel nie. Glo dat God wys is en dat Hy met jou is.

 

  • Ons leer om op sy hulpbronne te vertrou

In Jakobus 1:9 – 11 lees ons van armes en rykes. Maar hoekom in die gedeelte oor beproewings? Beproewings herinner jou dat geld nie jou probleme kan oplos nie. Sal jy jou lewe op hierdie fisiese hulpbronne bou of op die geestelike hulpbronne wat God voorsien?

 

  • Ons leer om vir sy beloning te leef.

Jakobus sê dat almal wat in versoeking standvastig bly gelukkig is. Hier sien ons dat Jakobus baie verwys na Jesus se bergrede. Hy sê dat die man wat standvastig bly in versoeking sal as oorwinnigsprys die lewe kry. Hierdie verwys nie na ‘n fisiese oorwinnaarskroon nie, maar die ewige lewe. Daarom kan ons gelukkig wees, want beproewing herinner ons aan die beloning wat nog sal kom.

Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly (2 Korintiërs 4:17).

 

 

In die volgende blog gaan ons na ‘n tweede waarheid oor beproewings en versoekings kyk: Ons is verantwoordelik vir ons eie versoekings.

 




Wat leer Jesus vir ons in die gelykenisse?

 

I want to know God’s thoughts. The rest are details.” – Einstein

 

Wat leer Jesus vir ons in die gelykenisse?

Hierdie is ‘n verdere artikel uit Mel Lawrenz se “Understanding the Bible.”

Baie van Jesus se gelykenisse – soos die barmhartige Samaritaan – is in ons kultuur ingebed. Die gelykenis van die verlore seun is die hele evangelie saamgevat in ‘n eenvoudige boodskap. So kan ons die gelykenisse een vir een deurgaan – hulle is vensters op die werklikheid.

 

Jesus gebruik soms gelykenisse, want hierdie stories betrek ons gedagtes, emosies en sintuie. Hulle dwing ons om weg te gaan en na te dink. Ons kan nie hulle boodskap ontsnap nie. Jesus sê dat die gelykenisse die geheime van die koninkryk van God ontsluit vir diegene wat ore het om te hoor (Lukas 8:8 – 10).

 

Meeste gelykenisse het een hoofpunt. In meeste gevalle het die besonderhede van die storie geen spesifieke simboliese betekenis nie. In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan heg Jesus geen simboliese betekenis aan die rowers, die man se wonde, die herbergier of die donkie nie. As ons wel betekenis aan hulle heg, is dit arbitrêr.

 

Die eenvoudigste en natuurlikste verduideliking van ‘n Bybelse teks is altyd die beste. Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan is Jesus se antwoord op wie ons naaste is. Jesus maak dit duidelik aan die einde van die gelykenis as Hy vra: Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het? Die wetgeleerde antwoord: ‘     Die man wat aan hom medelye bewys het.” Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

 

Gelykenisse is nie abstrakte onderrig nie. Meestal roep hulle mense op tot ‘n sekere reaksie. As Jesus wel sekere betekenis heg aan die besonderhede in die gelykenis – soos in die gelykenis van die saaier – moet ons dit natuurlik aanvaar.

 

As ons die gelykenisse lees, moet ons die kulturele en geografiese agtergrond verstaan. So sal ‘n goeie kommentaar die pad van Jerigo na Jerusalem – die pad wat die barmhartige Samaritaan gereis het – beskryf. Dit is ‘n stowwerige pad in die heuwels van Judea. Dit is ‘n eensame en verlate plek waar rowers algemeen mense aangeval het. Ons sal die gelykenisse oor landbou beter verstaan as ons die lewe van ‘n boer van destyds verstaan.

 

Die einde is baie belangrik. Die sleutel wat die gelykenis ontsluit, kry ons dikwels in die laaste sinne.

 

Die gelykenisse van Jesus is God se gawe aan ons sterflike mense wat nie alleen die waarheid kan ontdek nie – ons kan nie die betekenis van die lewe interpreteer nie.

Ek sal gelykenisse gebruik as Ek praat; Ek sal bekend maak wat geheim gebly het van die skepping af (Matteus 13:35)

 

 




Beproewings en versoekings (1)

 

In heaven we shall see that we had not one trial too many. —C.H. Spurgeon

 

Beproewings en versoekings (1)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik.]

 

Jakobus skryf baie oor beproewings en versoekings. Hoekom beproewings en versoekings? Hoe hanteer ons versoekings en beproewings? As ons die hooftema van 1:2 – 18 kan opsom, is dit beproewing en versoeking is onvermydelik en God gebruik dit om ons geloof te verdiep. Daar is drie waarhede wat bepaal hoe ons beproewings en versoekings verstaan en daarop reageer:

  1. God is soewerein oor ons beproewings
  2. Ons is verantwoordelik vir ons eie beproewings
  3. God is getrou in ons versoekings

 

  1. God is soewerein oor ons beproewings (1:2 – 12)

Beproewings is nooit buite God se beheer nie. God bereik sy doel deur beproewings Hierdie is ‘n baie belangrike gedeelte vir ‘n volwasse, opregte Christelike lewe. So baie teoloë sê dat God nie wil hê dat ons siek of arm moet wees nie. Jakobus skryf aan ‘n gemeenskap van Christene wat oorwegend arm was en sê dat hulle moet bly wees as beproewings oor hulle kom. Hierdie is eintlik ‘n opdrag. Bly wees is ‘n werkwoord wat sê hoe ons moet dink. Dit gaan nie hier oor ‘n gevoel nie; dit gaan nie oor voorgee dat alles reg is nie

 

Ons moet versigtig wees. Ons eerste woorde aan iemand wat swaarkry moenie wees, “wees baie bly” nie. In Johannes 11 nader Maria en Marta vir Jesus na hulle broer Lasarus gesterf het. Jesus begin nie deur onmiddellik vir hulle te sê dat Jesus ‘n doel met Lasarus se dood gehad het nie, alhoewel Hy geweet het dat God ‘n doel daarmee gehad het. Nee, Hy vertoos hulle en huil saam met hulle.

 

Hoe ondervind ons blydskap in beproewing? Jakobus verwys hier na allerlei beproewings. Beproewings is nie in hulleself iets wat blydskap uitlok nie.  Hulle lei egter tot blydskap as ons besef dat hulle onder beheer van ‘n soewereine God plaasvind wat besig is om sy doel deur hulle te bereik.

 

Watter doel bereik God deur beproewings? In vers 3 begin Jakobus vertel hoe God beproewings in ons lewens gebruik en hy doen dit tot in vers 12. Ons moet beproewing aanvaar vir dit wat God deur hulle bereik. Ons leer ten minste vier dinge van beproewings wat sal veroorsaak dat ons bly is.

 

  • Ons leer om te groei om meer en meer soos Jesus Christus te wees

Die toetsing van die geloof lei tot volharding. Hierdie volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom. God se doel in ons lewens is volwassenheid in Hom – groei om meer soos Hy te word. Eendag gaan alle mense voor die regterstoel van God staan en sy doel is om ons vir daardie dag voor te berei. Ons dink nie so nie. Ons dink ons doel in die lewe is om suksesvol te wees, ‘n goeie werk te kry, ens. As ons dat beproef word, slaan dit ons plat. Maar as ons doel is om God te ken en meer soos Hy te word, kan ons bly wees as ons beproef word, want dit bring ons nader aan ons einddoel.

 

Om te volhard as gevolg van toetsing vereis ‘n radikale God-gesentreerde perspektief op die lewe. Toetsing gaan nie oor die regstelling van ons omstandighede nie, maar om God te ken en in Hom te groei. Dan, maak nie saak wat ons omstandighede is nie, kan ons bly wees, want ons sal ons doel bereik. God plaas beproewings op jou pad sodat ons kan groei. Beproewing is blydskap as God jou doel is.

 

In beproewing ondervind ons groei in geestelike volwassenheid wat ons nooit op enige ander manier sal ondervind nie. Dit is nie bemoedigend as jou doel ‘n gemaklike, sorgvrye lewe is nie. Dan sal beproewing nooit vir jou blydskap bring nie.

 

Volgende keer gaan ons na ‘n verdere aspek kyk wat maak dat ons bly is in beproewings.