Jesus se eerste opdrag aan sy dissipels

 

The care of the soul is ‘a matter of the highest importance;’ beyond anything which can be brought into comparison with it – George Whitefield

 

Jesus se eerste opdrag aan sy dissipels

Net nadat Jesus die Groot Opdrag aan sy dissipels gegee het, sê Hy vir hulle: Maar julle moet in die stad bly totdat julle met krag van bo toegerus is (Lukas 24:49). Jesus se eerste opdrag aan sy dissipels was … wag. Dit moes vir hulle moeilik gewees het. Die evangelie moes uitgedra word en hulle was net elf. Daar is ‘n wêreld daar buite met groot behoeftes.

 

Maak nie saak wat hulle gedink het nie, hulle wag soos Jesus hulle beveel het om te doen. Hulle wag vir tien dae. Hulle wag vir die Heilige Gees. Hoekom het Jesus hulle laat wag? Hoekom het Hy nie sommer onmiddellik die Heilige Gees uitgestort nie, sodat hulle met hulle werk kon voortgaan nie? Hy wou gehad het dat hulle moes besef dat die Groot Opdrag nie iets is wat hulle kan doen nie. Hy sou dit deur hulle doen. Hy is die argitek, ons is die ongeskoolde arbeiders.

 

Ons sal meer gedoen kry as ons besef dat die verantwoordelikheid vir die sending by Hom berus – nie op ons skouers nie.

  • Hy lei; ons volg
  • Hy beveel; ons gehoorsaam
  • Hy voorsien; ons is rentmeesters
  • Hy doen; ons aanbid.

 

Daarom moet Hy al die eer kry.

 




Die Drie-eenheid en gebed (3)

Blog74

We must not be concerned only with that which troubles us, but with all that troubles God. —John Owen

 

Die Drie-eenheid en gebed (3)

[Ek gaan onder andere van Tim Keller se boek Payer: Experiencing Awe and Intimacy with God gebruik maak.]

 

Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons (Romeine 8:34).

Jesus Christus tree vir ons by die Vader in – ons kom na die Vader deur die Seun. Jesus is die Middelaar tussen ons en God:

Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus (1 Timoteus 2:5).

 

God is groot, ons is klein; God is volmaak, ons is onvolmaak. In die ou dae is tempels gebruik om die gaping tussen God en mens kleiner te maak. Offers en rituele deur middelaars (priesters) is gebruik om ‘n afgeleë God nader te bring. Al hierdie optredes kon egter nooit die gaping uitgewis het nie.

 

Nou het dinge verander:

Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie (Hebreërs 4:14 – 15)

Jesus Christus verwyder hierdie gaping sodat ons God kan nader:

Kom ons gaan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebreërs 4:16).

Hoe kan ons God met vrymoedigheid nader? Ons kan dit doen omdat Hy soos ons geword het en onderhewig aan lyding en die dood was. Hy het dit gedoen sodat ons verlos en met Hom versoen kan word. Dit gebeur nie deur ons eie pogings en meriete nie, maar deur genade in geloof.

 

In Jesus Christus word God mens om hierdie gaping tussen God en mens te oorbrug. Jesus Christus is die Middelaar van die mens se nuwe verhouding met God. Dit kan nie misluk nie, want dit is op God en nie op ons trou gebou nie.

 




Geseënd is die vredemakers

 

It is a poor sermon that gives no offense; that neither makes the hearer displeased with himself nor with the preacher – George Whitefield

 

Geseënd is die vredemakers

Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word (Matteus 5:9).

Die Romeine wat Jesus se woorde gehoor het, het gedink dat hulle vrede het – die Pax Romana. Rome het die klein oorloggies tussen groepe mense stopgesit; hulle het seerowery stopgesit. Ons moet versigtig wees as een groep vrede vestig, veral as hulle dit deur geweld en onderdrukking doen – soos Rome gedoen het.

 

Jesus het glad nie die Pax Romana in gedagte gehad toe Hy hierdie woorde geuiter het nie. Wat Hy vervul het, was die Ou Testament se klem op Sjalom. Jesus konfronteer die Romeinse reël van vergelding deur een van verlossing, genade en die kruis. Dit is nie net die Romeine, Selote en tollenaars wat nie verstaan wat Jesus sê nie. Almal van ons kan dit verkeerd verstaan. Ons pas nie toe wat Jesus sê nie. In plaas van vrede, maak ons oorlog. Ons glo dat as Jesus van vredemakers praat, praat hy figuurlik. Jesus wil hê dat ons sy woorde letterlik opneem; Hy wil hê dat ons vrede moet maak. God inisieer ons vrede met Hom – Hy versoen ons – maar ons moet reageer. As ons met Hom versoen is, moet ons ook met ons naaste vrede soek. Ons kan nie versoening met God van versoening van ons naaste skei nie.

 

Om vrede te maak, is meer as om oorlog te vermy. Daar is niks passief daaraan nie. Dit is harde werk.

Hoe wonderlik klink op die berge die voetstappe van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede aankondig, wat die goeie tyding bring, wat redding aankondig, wat vir Sion sê: “Jou God is Koning!” (Jesaja 52:7).

 




Die Barmhartige Samaritaan

 

If you are going to walk with Jesus Christ, you are going to be opposed … In our days, to be a true Christian is really to become a scandal. – George Whitefield

 

Die Barmhartige Samaritaan

Ons brein vergader stukkies inligting en as dit bekende stukkies herken, poog dit om die legkaart wat ons reeds ken, te voltooi. Die probleem hiermee is dat ons dikwels die moontlikheid dat God iets nuut met ons wil deel, uitsluit, want ons gaan onmiddellik na die einde van die storie.

 

Die primêre boodskap van die barmhartige Samaritaan is ingebed in die wetgeleerde se opvolgvraag: En wie is my naaste? (Lukas 10:28). Die storie is nie ‘n katalis vir ‘n nuwe program of uitreikprojek nie. Hierdie wetgeleerde het in ‘n gemeenskap gewoon waar almal min of meer soos hy gelyk het, soos hy opgetree het en soos hy geglo het. Jesus daag hom uit om nuut te kyk na wie sy naaste is. Vir Jesus is die hart van die saak ‘n saak van die hart.

 

Ons word gereeld uitgedaag met hierdie vraag: En wie is my naaste? Dit is die kinders wat nie hulle skoolopleiding voltooi nie; dit is die gesinne waar die vader afwesig is; dit is die mense wat onder die armoedevlak leef; dit is die mense wat nie Jesus Christus as Here bely nie.

 

Hierdie gemeenskappe is ryk vir die ontplooiing van God se hulpbronne om die werk van transformasie te begin. Ons soek graag afgeleë plekke om gemeenskappe wat swaarkry te identifiseer. Maar ons sit midde in sulke gemeenskappe. Ons moet verander op vier gebiede:

 

  1. Dit vereis ‘n dorp/stad

Daar is ‘n ou spreekwoord uit Afrika: It takes a village to raise a child.” Die nood is so dat een organisasie beslis nie aan al die behoeftes kan voldoen nie. Alle gemeentes moet saamwerk om die probleem op te los.

 

  1. Sluit aan by die werk wat God reeds besig is om te doen

Ons het die absurde idee dat ons God ba die gemeenskappe moet neem – God is reeds daar. Hy wag net vir sy medewerkers om saam met Hom die stryd te stry. As daar gevestigde bedienings in hierdie gebiede is, sluit by hulle aan en bemagtig die plaaslike leiers.

 

  1. Bemagtig die jeug

Blywende gemeenskapsontwikkeling neem 10 tot 20 jaar om vas te staan. Daarom moet ons jongmense in hierdie bediening  betrek. Ons moet doelgerig ons leiers vermeerder.

 

  1. Dink weer oor die voorsiening van hulpbronne

Tipies ondersteun organisasies hierdie  werk vir twee tot drie jaar. As ons egter daaraan dink dat gemeenskapsontwikkeling ‘n baie lang proses is, moet ons langer ondersteuning bied.

 

Ons moet ophou om pleistertjies op te plak om dinge tydelik aan die gang te hou. Wat nodig is, is ‘n hartoorplanting.