Efese, o Efese

 

Morality may damn as well as vice. A vessel may be sunk with gold as well as with dung. —Thomas Watson

 

Efese, o Efese

Paulus het die gemeente in Efese gestig. Ten spyte van teenstand en erge verdrukking het die gemeente gegroei. Hulle het volhard; hulle het die evangelie versprei; hulle het die vals profete vinnig uitgedaag. Maar in die boodskap aan Efese in Openbaring 2:1 – 7 waarsku Johannes die gemeente.

 

Dit was skaars 30 jaar na Paulus die gemeente gestig het. Nadat Christus hulle geprys het vir hulle diens vir die evangelie sê Hy: Maar Ek het dit teen julle … Dit moes die gemeente ontstel het. Die Here waarsku hulle dat hulle hulle eerste liefde verlaat het. Wat hulle nou doen, doen hulle vir die verkeerde redes. Die Here sê: Bekeer julle en doen weer wat julle aan die begin gedoen het –  hulle moet hulle leifde vir Hom en die vreugde van hulle verlossing onthou. Diens is geen plaasvervanger vir intieme verhoudings nie, maar ons trap steeds in hierdie strik.

 

Dit wat ons doen, beteken niks tensy hulle voortspruit uit ‘n lewenskragtige persoonlike verhouding met God nie. Ons werk kan nie doeltreffend en vrugbaar wees tensy Hy daarin is nie.

 

Daar is baie verkeerde redes om in God se koninkryk te werk. God wil hê dat alle gelowiges met selfsugtige ambisies na hulle eerste liefde sal terugkeer. So word harte en denke vernuwe en diens aan die Here word meer doeltreffend.

 

 

 




Bediening – drie leuens

 

Worldliness is whatever makes sin look normal and righteousness look strange. —Kevin DeYoung

 

Bediening – drie leuens

Is daar ‘n verskil tussen ‘n program en bediening? Beslis. Om ‘n program te bedryf is makliker as ‘n bediening. Jy bedryf ‘n program as jy:

  • Organiseer
  • Koördineer
  • En ‘n gebeurtenis oor God onderrig.

 

Klink goed, maar dit is nie bediening nie.  Bediening is as jy:

  • Organiseer in gebed
  • Koördineer met die doel om as herder vir die liggaam van Christus op te tree – om die liggaam te bemagtig.
  • Onderrig in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees en uit ‘n hart wat omgee vir sy mense.

 

Daar is drie leuens wat maak dat ons eerder op programme as op bediening fokus.

  1. As jy dit reg doen, sal dit maklik wees

So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ‘n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie (1 Tessalonisense 2:8 – 9). Dit klink nie vir my maklik nie. As bediening werk en die opbou van geestelike kinders behels, maak dit sin dat ons uitgeput sal word.

 

  1. Bediening beteken dat ek aan God se soewereiniteit of sy genade twyfel

Hy is soewerein en sal doen wat gedoen moet word. Ek kan as toeskouer net met verwondering kyk wat Hy doen. Maar as ek werklik in God se soewereiniteit glo, sal dit lei tot meer dringendheid, meer gebed, meer hartseer oor diegene wat ek lei. Ons moenie apatie en geloof verwar nie. As ons die regte siening van God het, sal dit lei tot gehoorsaamheid en toewyding.

 

  1. Dit is beter om programme as bediening te bedryf.

As ek na my hart kyk, sal ek weet of ek dit vir my eie of God se verheerliking doen. As jy verheerliking soek, kies jy programme om te bedryf. Programme vereis strategiese vermoë. Dit vereis tyd en energie. Die enigste rede om bediening te doen, is omdat jy glo dat God se heerlikheid belangriker is as enigiets anders. Jy soek permanente verandering in die lewens van die mense wat jy lei. Dit kan jy slegs doen as jy God se beloftes glo.

 

 




Ware en aanvaarbare godsdiens (2)

 

If you leave the fountain foul the streams cannot be pure. Renewal must begin with the heart. —C.H. Spurgeon

 

Ware en aanvaarbare godsdiens (2)

[In my persoonlike Bybelstudie is ek besig met Die Brief van Jakobus. Ek maak onder andere van “Exalting Jesus in James – Christ Centered Exposition” gebruik. In hierdie gedeelte maak ek van die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel gebruik – CUM]

In die vorige blog het ons na die eerste twee tekens van ‘n ware en aanvaarbare godsdiens gekyk: beheerde spraak en opofferende versorging van mense in nood. Ons kyk nou na die derde teken.

 

  1. Duidelike skeiding van die paaie van die wêreld

Rein en onbesmette godsdiens by die God en Vader is dit … om jouself onbevlek te hou van die wêreld (Jakobus 1:27).

As Jakobus praat van die wêreld verwys hy na die gevalle wêreld. Hy sê dat ons ons onbevlek moet hou. Hy voeg by dat dit teenstrydig is met wat die wêreld doen. Jakobus pas hierdie waarheid onmiddellik toe op die gevaar van diskriminasie of witbroodjies. Diskriminasie kry ons ook in die kerk. Die wêreld hou daarvan om die rykes te eer en die armes te verwaarloos. Dit kan maklik ook in die kerk gebeur.

My broers, moenie partydig wees in die geloof in ons Here Jesus Christus van die heerlikheid nie (2:1)

Geloof en partydigheid is onverenigbaar. Hy begin met ‘n skets van hoe die gelowiges partydig is vir die rykes – net soos die wêreld. In die wêreld eer en respekteer ons die persone wat ons kan bevoordeel. Gemeentes word dikwels beoordeel deur die grootte van hulle begroting, of hulle luukse geboue. Is dit tot voordeel van die armes? Nee, ons doen dit vir die rykes. Ryk mense verwag uitmuntenheid en gemak. En die armes? Dit is amper asof ons vir hulle sê: Sit benede by my voetbankie (2:3); ons sal vir julle die krummels van die tafel gee.

 

Om partydig te wees is natuurlik vir ons. Jakobus herinner die kerk van destyds aan  dinge wat die kerk moet doen en nie moet doen nie.

My broers, moenie partydig wees in die geloof in ons Here Jesus Christus van die heerlikheid nie. Die klem val hier op die heerlikheid van God soos geopenbaar in die persoon van Jesus Christus – sy majesteit en oppermag. As dit die geval is, sal ons nie partydig wees nie, want:

  • Ons sal nie partydig wees as ons God se oppermag oor die rykes sien nie. Jy eer nie die rykes omdat hulle ryk aan geld is nie; jy eer Christus omdat Hy ryk in heerlikheid is. Net Christus is oppermagtig en daarom moet ons oë op Hom rig.
  • Ons onthou Christus se offer vir die behoeftiges. Jesus Christus, die Heerlike, kom na sondaars soos ek en jy en gee sy lewe vir die armes sodat ons in Hom ryk kan wees. Want julle ken die genade van ons Here Jesus Christus, dat Hy ter wille van julle arm geword het, alhoewel Hy ryk was, sodat julle deur daardie armoede ryk kon word (2 Korintiërs 8:9) Jy kan tog nie partydig wees as jy hierdie Christus ken nie.

 

 




Ek kan dit nie meer vat nie!

 

We must show sympathy with sinners, but not with their sins. — C.H. Spurgeon

 

Ek kan dit nie meer vat nie!

Wat beteken dit as ek sê: Ek kan dit nie meer vat nie? Almal van ons was al daar, maar die woorde beteken nie dieselfde vir almal nie. Mense bereik hulle breekpunt op verskillende maniere, maar in alle gevalle speel spanning ‘n rol. Spanning is deel van die lewe.

 

Ons het almal ‘n mate van spanning in ons lewens nodig as ons iets wil bereik. Spanning gee vir jou energie en die vermoë om dinge te doen. Maar ons weet ook dat te veel spanning sleg is vir ons. Soms bereik jy ‘n breekpunt: “Ek gaan ontplof; Ek val uitmekaar.”

 

As daar nou een mens is wat spanning geken het, was dit Paulus. Hy skryf daarvan in 2 Korintiërs 1:8:

Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsië Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

Om ‘n volgeling van Jesus Christus te wees, vrywaar my nie van spanning en depressie nie. Mense glo dat Christene nooit teneergedruk mag wees nie, maar hier stry Paulus met hierdie probleem. Hy skryf openhartig dat die druk so groot was dat hy selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.

 

Wat moet ons doen as ons breekpunt bereik het?

Vertel vir God en ‘n betroubare vriend wat jou spanning veroorsaak.

Spanning veroorsaak allerhande negatiewe emosies in ons lewens – angs, bekommernis, vrees, skuldgevoelens, depressie, ens. As ons onder spanning verkeer, is die eerste ding wat ons gewoonlik doen om dit weg te steek – maak asof dit nie daar is nie; dra ‘n masker en ignoreer die pyn. Baie mense dink dit is die Christelike manier van doen – dit maak jou meer geestelik.

 

Wat wil God regtig hê?

Is dit wat God van ons verwag? Nee, God wil hê dat jy opreg moet wees. God verstaan ons emosies. Hy het ons, en ons emosies, gemaak. Hy wil hê dat ons ons emosies en frustrasies moet erken en aan Hom vertel.

Vertrou altyd op Hom, my volk, stort jou hart voor Hom uitI God is vir ons ‘n toevlug (Psalm 62:9)

 

Dit beteken: Lê alles voor God; dit is hoe ek voel – die goeie en die slegte. Maak nie saak hoe of wat jy voel nie die Bybel is duidelik: stort jou hart voor Hom uit.  Gevoelens en frustrasie hoop op as jy dit nie gou hanteer nie. As jy dit nie hanteer nie, sal jy op een of ander stadium breekpunt bereik.

 

Hoe hanteer jy jou gevoelens? Ignoreer jy dit, onderdruk jy dit, ontken jy dit, dra jy ‘n masker? God sê: “Vertel My daarvan. Stort jou hart teenoor my uit.” Hy wil hê dat jy Hom daarvan vertel, want Hy kan iets daaraan doen.