God se A-lys

 

“I do not at all understand the mystery of grace—only that it meets us where we are are but does not leave us where it found us.” —Anne Lamott

 

 

 

God se A-lys

Die Fariseërs in Jesus se tyd het kategorieë gehad wat duidelik onderskei het tussen diegene wat “in” en diegene wat “uit” was. Die A-lys bestaan uit mense wat bewonder word en wie se sosiale status ons begeer. Dit was die mense wat jy graag op jou gastelys wil hê.

 

God verwelkom mense wat in ons oë nie eers op die Z-lys hoort nie. Maar wie is op God se gastelys? As jy ‘n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes (Lukas 14:13). Hy keer die skaal waarop bepaal word wie “in” en wie “uit” is, om. Hy nooi mense na sy tafel wat Hom nooit sou kon vergoed nie – Hy het immers sy lewe vir hulle gegee. Mense wat vroeër as buitestaanders, vreemdelinge behandel is word nou as lede van jou familie ontvang.

 

Ons status en prestige word in die wêreld bepaal deur ander te evalueer, deur die sosiale leer te klim of deur te keer dat ander nie hierdie leer klim nie. In God se koninkryk word ons posisie deur God en nie deur ander mense bepaal nie. Dit bevry ons van die dolle geskarrel na erkenning deur mense. Albert Schweizer sê dat ons nie altyd ons eie saak hoef te bevorder nie, ons hoef nie altyd bo uit te kom nie, ons hoef nie ander te beïndruk nie, ons hoef ons nie altyd met ander te vergelyk nie; dit laat ons toe om vrygewig te wees

 

Hierdie waarheid bevry ons ook van skaamte. Skaamte is wanneer my evaluasie van myself nie deur ander gedeel word nie. Jesus se dissipels hoef nie deel van hierdie geskarrel vir eer te wees nie, want hulle weet wie hulle in God se oë is.

 

 




Herdink die hemel

 

“Humanism was not wrong in thinking that truth, beauty, liberty and equality are of infinite value, but in thinking man can get them himself without grace.” —Simone Weil

 

Herdink die hemel

Vir eeue dink baie mense in die kerk dat dit wat nog in die toekoms gaan gebeur uit twee dinge bestaan:

  1. Jesus gaan ons opneem om saam met Hom in die hemel te wees. Dit sou dan ons nuwe verhouding met God voltooi.
  2. Jesus gaan weer terugkeer. Gewoonlik kom Hy, nie om hier te bly en die wêreld te verander nie, maar om sy mense op te neem na die hemel.

 

Verstaan ons egter wat in die verlede gebeur het (die gebeure aangaande Jesus), besef ons dat die toekoms iets te doen het met die bymekaarkom van die hemel en die aarde – iets te doen met die vernuwing en herstel van die skepping. Die Bybel sê relatief min van wat met mense gebeur onmiddellik na hulle doodgaan. Die Bybel is egter baie geïnteresserd in wat uiteindelik gebeur. Die goeie nuus gaan oor die verlossing en hernuwing van die hele skepping.

 

Openbaring 21 en 22 gaan nie oor verloste siele wat hemel toe gaan nie, maar oor die nuwe Jerusalem wat uit die hemel na die aarde kom en so die nuwe hemel en aarde skep. Dit is een en dieselfde plek. As Jesus terugkom gaan Hy die hele wêreld verander en dit met vreugde, geregtigheid en liefde vul. Lees net Jesaja 11:1 – 10 waar die profeet hierdie nuwe wêreld beskrywe. Met Jesus Christus se opstanding het hierdie nuwe skepping begin. God het hierdie wêreld gemaak; Hy het dit lief en Hy gaan dit hernuwe.

 

God wil mense regstel om die wêreld reg te stel. Dit het Jesus Christus ook bereik. God het die mens gemaak om oor die aarde te heers – die mens is God se verteenwoordiger op aarde. Daarom is die mens se opstand teen die Skepper so ‘n ramp – nie net vir die mense nie, maar vir die hele skepping.

 

Die goeie nuus van die toekoms hang af van die goeie nuus van die verlede. Die opstanding van Jesus Christus is die lanseerblad vir God se nuwe wêreld. God se nuwe wêreld het begin en ons kan deel daarvan wees.

 

 

 




Ek wil erken word

 

“Grace is not opposed to effort, it’s opposed to earning.” —Dallas Willard

 

Ek wil erken word

Mense wil graag deur ander erken en bewonder word. Jesus se dissipels is nie immuun teen hierdie neiging nie – hulle stry oor die beste posisies (Luas 9:46 – 48). Ons kry dit ook in Paulus se gemeentes: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3); Wees eensgesind onder mekaar. Moenie hooghartig wees nie, maar skaar julle by die nederiges (Romeine 12:16).

 

Hierdie beheptheid met eer kry ons deur die eeue en in alle kulture. Maar God se evaluereing van ons niche in sy koninkryk  stem nie ooreen met ons eie evaluering van ons waarde nie.

 

Die gelykenis oor beskeidenheid en gasvryheid (Lukas 14:7 – 14) verwerp ‘n sisteem van dominansie geskep deur sosiale en godsdienstige instellings. Lukas se ideaal is dat verhoudings in die geloofsgemeenskap deur gelykheid gedefinieer moet word. Jesus verwerp ook diegene wat die sosiale leer klim en sosiale stratifikasie – iets wat baie algemeen in die antieke wêreld was.

Nature has made us … enthusiastic seekers after honour, and once we have caught, as it were, some glimpse of its radiance, there is nothing we are not prepared to bear and go through in order to secure it – Cicero.

Die aanvaarde gesindheid van gelowiges is egter een van nederigheid – in hulle verhouding met God, in hulle diens aan die behoeftiges en in hulle verhouding met ander.

 




Goeie raad en nie goeie nuus nie

 

Grace, like water, flows to the lowest part.” —Philip Yancey

 

Goeie raad en nie goeie nuus nie

Volgens N. T. Wright (Simply Good News) het die goeie nuus subtiel na goeie raad/advies verander – so moet jy leef; so moet jy bid … Dit is almal tegnieke wat jou moet help om ‘n beter Christen/mens/eggenote ens te word. Bid hierdie gebed en jy sal verlos word – jy gaan hemel toe en nie hel toe nie. Dit is raad en nie nuus nie.

 

Die doel van raad is om jou te oorreed om iets te doen om ‘n verlangde resultaat te verkry. Natuurlik is daar niks met goeie raad verkeerd nie – ons almal het dit nodig. Maar dit is nie dieselfde as nuus nie. Nuus is ‘n aankondiging dat iets betekenisvol gebeur het.

 

Ander mense vertel wel nuus, maar dit is ‘n ander storie van wat die Nuwe Testamentiese skrywers bedoel het met goeie nuus. Ja, die goeie nuus is inderdaad oor Jesus Christus en oor sy dood en opstanding. Dit open wel ‘n visie van ‘n toekoms anderkant die dood. Maar die kerk het die storie verkeerd, want hulle het van die agtergrondstorie vergeet. Dit beïnvloed alles: Hoe ons ons verhouding met God, ons toekoms, ons verantwoordelikheid as kerk en dissipels en nog baie meer verstaan. Hierdie agtergrondstorie kry ons in die Ou Testament.

 

Hoe kan iets wat 2000 jaar gelede gebeur het nou nuus wees? Ons kan dit net binne die konteks van die groter/vroeëre storie verstaan. Dan besef ons dit is nie net nuus nie, maar inderdaad goeie nuus.