Wat is nuus?

 

“Without a heart transformed by the grace of Christ, we just continue to manage external and internal darkness.” —Matt Chandler

 

Wat is nuus?

[Ek maak veral van N. T. Wright se boek Simply Good News gebruik.]

In sy vroegste vorm is die Christelike geloof as goeie nuus aangebied – dit is immers die betekenis van die woord evangelie [Grieks: eu – goed + angelion – boodskap HAT]. Maar vandag sien mense nie meer die Christelike geloof as nuus nie – allermins nie goeie nuus nie. Ons verstaan nie meer die betekenis van hierdie feit nie.

 

Dit is tyd dat ons weer vir onsself afvra: Wat is die goeie nuus wat Jesus self aangekondig het – dit wat Hy vir sy volgelinge beveel het om verder te verkondig?

 

Ons aanvaar ons weet wat evangelie beteken en wat dit behels. Ons let nie meer op die betekenis van waarom die Christelike geloof na ons kom as die aankondiging van die beste moontlik nuus nie. Tog het Jesus Christus en die vroeë Christene die evangelie as sulke goeie nuus gesien dat dit so wyd as moontlik verkondig moes word.

 

Wat word met goeie nuus bedoel?

  • Dit is ‘n nuwe en onverwagte ontwikkeling in ‘n veel langer storie. Dit maak sin in daardie langer storie. As ons nie die agtergrondstorie ken nie, kan ons nie verstaan waarom die aankondiging goeie nuus is nie. In hierdie geval kry ons die agtergrondstorie in die Ou Testament.
  • Dit is nuus van wat gebeur het en alles nou anders maak. Dit is nuus wat betekenis het, impak maak en gevolge het wat lewens verander.
  • Daar is ‘n interim tydperk van wag tussen die aankondiging van die goeie nuus en die vervulling daarvan.

 

Hierdie nuwe gebeurtenis word in ‘n ou storie geplaas en wys na ‘n wonderlike toekoms wat tot dusver buite ons bereik was. Dit lei ‘n nuwe tydperk in – in plaas van ‘n uitsiglose lewe wag mense nou met afwagting op dit wat hulle weet op pad is. Dit is die Christelike goeie nuus. Die evangelie van Jesus Chrisus kom as nuus in ‘n groter storie; dit wys na ‘n wonderlike nuwe toekoms; dit lei ‘n tydperk van wag in waartydens ons verwagtings verander word.

 




My rol in dissipelskap

 

“In the New Testament, grace means God’s love in action toward men who merited the opposite of love. Grace means God moving heaven and earth to save sinners who could not lift a finger to save themselves.” —J.I. Packer

 

My rol in dissipelskap

God kon sekerlik op sy eie mense lei tot geestelike volwassenheid, maar Hy het besluit om ons deel van die proses te maak. Ed Stetzer skryf hieroor.

 

Die eerste vraag wat hy vra, is: Hoekom is dissipelskap so skaars? Ons is geroep om dissipels te maak, maar daar is ‘n dissipelskaptekort in meeste van ons gemeentes. Leiers vra: Wat moet ons doen? Hoe moet ons dit doen? Hulle wil weet hoe hulle die tekort kan hanteer. Op die Internet is daar talle modelle beskikbaar – sommige is goed en ander nie. In die Bybel kry ons vier beginsels vir dissipelskap:

  • Volwassenheid is die doel vir dissipels.
  • God wil hê dat jy en jou gemeente ‘n duidelike pad vir geestelike groei moet hê.
  • God kry ons betrokke in ons eie en in die gemeente se groei.
  • God roep jou en jou gemeente om geestelike leiers te wees.

 

Waar begin ons? Net God kan waarlik iets laat groei; God het nie iemand nodig om iets vir Hom te doen nie. Ons kan onsself nie laat groei nie; ons kan nie die gemeente laat groei nie: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18).  In 1 Korintiërs 3:7 sê Paulus dat hy en Apollos kan plant en natgooi, maar net God kan laat groei.

 

Maar hoe kan een van die beginsels vir dissipelskap dan wees dat God ons by ons eie geestelike groei en dié van die gemeente betrokke maak? Omdat God ons kies om betrokke te wees en dit maak ons betrokkenheid belangrik.

 

Hoekom kry God ons betrokke? God gee aan ons werk, nie omdat Hy hulp nodig het nie, maar omdat ons moet ontwikkel. Hy het die mens na sy beeld gemaak en Hy wil hê dat ons by Hom in sy werk aansluit sodat Hy ons meer na sy beeld kan vorm. As ons in Christus ‘n nuwe skepping word, word ons vir diens opgeroep. Ons verplaas nie vir Christus nie, maar ons sluit by Hom aan in sy verlossingsplan. Soos sy dissipels Hom gevolg het, het Hy hulle geleer. Hy gee aan hulle opdrag om uit te gaan, deernis te bewys, ander te leer en selfs wondertekens te doen.

 

Maar hoe betrek God my in my groei? As ek my aan God se wil oorgegee het, is my gesindheid een wat doelgerigte geestelike verandering aanvaar. As ons ons aan Hom onderwerp, betrek Hy ons by werk wat ons nooit op ons eie kan doen nie. Ons onderwerping open die deur vir geleenthede. Julle was altyd gehoorsaam as ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Filippense 2:12 – 13).

 

Diegene wat God gehoorsaam, word metteryd meer volwasse. Langsaam lei Hy ons in ‘n dieper ondervinding – die reis van die geloof. Ons groei soos ons wandel; ons groei deur dieBybel te lees, te bid en op die geestelike dissiplines te fokus.

 

Hoe betrek God ons in die groei van ander? Dissipelskap is nie net ‘n solo poging nie. Die vereis persoonlike optrede en betrokkenheid by geestelike dissiplines. Dissipelskap word beste in ‘n gemeenskap gedoen. God het verskillende gawes aan die kerk gegee; elkeen het iets om aan te bied en om dit aan te bied, is deel van hulle groei.

 

Daar is nie “lone ranger” Christene nie. Ons is vir en aan mekaar verantwoordelik. Die gawe wat jy van God ontvang het, moet jy met ander deel. Daarom is ons verantwoordelik vir dissipelskap – my eie en dié van ander.

 

Jesus het sy dissipels opdrag gege om dissipels te maak, hulle te doop en hulle te leer. Dit is ook ons opdrag.

 

 




Hou op om die mense wat jy liefhet te probeer verander

 

All the natural movements of the soul are controlled by laws analogous to those of physical gravity. Grace is the only exception. Grace fills empty spaces, but it can only enter where there is a void to receive it, and it is grace itself which makes this void.” —Simone Weil

 

Hou op om die mense wat jy liefhet te probeer verander

Andy Stanley skryf hier oor die verband tussen liefde en aanvaarding. ‘n Verstandige persoon is iemand wat verstaan dat die lewe verbind is: besluite wat jy vandag neem, het implikasies vir môre; wat ons vandag doen, is ‘n goeie indikasie hoe ons môre sal optree; hy weet dat die beste indikator vir sy toekomstige optrede sy optrede in die verlede is.

 

Die verlede is meetbaar en waarneembaar; dit maak die toekoms voorspelbaar. As jy wil weet waarheen iemand op pad is, kyk na waar hy was. Vergeet van die beloftes wat mense maak en kyk na die patrone.

 

Mense verander, maar mense verander nie mense nie. Mense verander hulleself. Dink aan die verandering wat die grootste positiewe impak op jou lewe gehad het. Ander mag jou geïnspireer of bemoedig het, maar uiteindelik was dit jou besluit om te verander. Natuurlik bewerk God die verandering in ons. Niemand verander egter as hy nie self besluit om te verander nie.

 

Mense verander. Hulle verbreek ou gewoontes. Maar ons moenie probeer om hulle te verander nie. Ons moet op die kantlyn sit en geduldig wag tot die persoon verander.

 

 

 




Ek maak ‘n geestelike gesprek dood

 

“Grace saves us from life without God—even more, it empowers us for life with God.” —Richard Foster

 

Ek maak ‘n geestelike gesprek dood

Sekere foute sal belangrike geestelike gesprekke ontspoor. Gesprekke is vir die Christen belangrik. Meeste van ons leer deur gesprekke en debat. Ons kry dikwels warm teologiese debatte in die sosiale media. Vir diegene wat van gesprekke en debat hou, is daar ‘n paar dinge om te vermy.

  1. Die woord ketter of dwaalleraar

Gelukkig gooi ons hulle nie meer op die brandstapel nie. Gewoonlik gebruik ons hierdie woord net om ‘n ander persoon te diskrediteer en nie so seer dit wat hulle glo nie. Die woord dwaalleraar word gewoonlik net gebruik teen maklike teikens. Tegnies is dwaalleer ‘n geloof teenstrydig met die leer van die kerk. Maar: watter kerk? Selfs Protestante het geen kollektiewe leer wat deur almal aanvaar word nie. Omdat dit so moeilik is om dwaalleer te definieer, moet ons baie versigtig wees om dit in ‘n gesprek te gebruik.

 

  1. Kategorisering

Ons plaas graag etikette om ander. Dit is dehumaniserend en dikwels onakkuraat. Dit is egter makliker om ‘n kategorie as ‘n persoon aan te val. Ons moet versigtig wees om mense in kategorieë te plaas as ons sinvolle gesprekke verlang.

 

  1. Beledig in die naam van liefde

Ék sê dit is alle liefde.” Ons hoor dit dikwels – gewoonlik gevolg deur ‘n belediging van ‘n ander persoon se geloof. Dit is manipulerend en bedoel om mense skuldig te laat voel. Om jou eie mening as die waarheid te verklaar en dan ander skuldig te laat voel, is ‘n vinnige manier om die gesprek kort te knip. As regstelling wel nodig is, lei liefde ons om dit met nederigheid en genade te doen.

 

  1. Die Bybel sê duidelik …

Dit is ‘n baie neerhalende manier om ‘n gesprek te beëindig. Ons het ‘n teologiese deabt juis omdat een groep glo ‘n onderwerp is onduidelik of dat die Bybel duidelik iets anders bedoel. Om ons eie mening of interpretasie as die waarheid te verklaar, beteken gewoonlik die einde van die gesprek. As ek sê iets is duidelik en iemand verskil van my sê ek per implikasie hy is te dom om dit te verstaan.

 

  1. Stook vrees

Hier probeer ek ander bang maak. Dit gebeur byvoorbeeld as ek sê dat die evangelie op die spel is as ons nie-essensiële dinge bespreek. As ons ander mense moet bangmaak om met ons saam te stem, doen ons dit nie uit liefde nie.

 

Ons moet baie versigtig met ons keuse van woorde wees. Ons moet opbou en nie afbreek nie. Ons moet met ander – selfs diegene wat van ons verskil – debatteer, maar in vrede en liefde.

As jy niks mooi van iemand kan sê nie, sê dan liewer niks nie.